Vat die spoor! Nuwe kursus sal aanvallers in hul spore stuit

Redaksie en foto’s deur Ilze Nieuwoudt

Dekfoto: Francois van Dyk wys ’n potensiële roete uit aan leerlingspoorsnyers Thomas van Dalen en Riaan Jacobs.

Wanneer dit kom by spoorsny is daar drie kernelemente wat die basis van enige spoorsnyoperasie vorm – grondspore, lugspore en tekens (sien kassie hiernaas). Só verduidelik die gesoute spoorsnyer Francois van Dyk. Van dié kernelemente en die uiteenlopende slenters wat misdadigers inspan om die gereg van hul spoor af te gooi, kan jy Van Dyk bitter min vertel. Met rede, want met meer as 50 jaar se ervaring in dié veld, of wat hy noem “die kuns van spoorsny”, is Van Dyk al ’n meesterspoorsnyer. En nou gaan dié meester sy ervaring, fyn aanvoeling en selfs fyner observasievermoë inspan in die opleiding van ’n nuwe generasie spoorsnyers as deel van ’n nuwe AfriForum-spoorsnykursus.

Dié pasgemaakte kursus is saamgestel deur Thomas van Dalen, opleidingsbestuurder by AfriForum, en volg in reaksie op die toename in landelike misdaad en die ernstige tekort aan dié spesifieke kundigheid en kapasiteit in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), asook by ander veiligheidsrolspelers. Nie net ontbreek die kundigheid nou al so te sê geheel en al by polisielede nie, die SAPD se honde-eenhede wat eens puik spoorhonde opgelewer het, se vermoë is nou uiters verskraal (lees ook die artikel hieroor hier). Die behoefte aan die ontwikkeling van ’n spoorsnykursus as deel van AfriForum se veiligheidstrategie was daarom groot én dringend.

Die kursus is volgens Van Dalen daarop gemik om spoorsnyers op te lei om die spore van verdagtes in veral landelike misdaad – soos plaasaanvalle en veediefstal – en grensoorskrydings te vat én te hou sodat daar as deel van ’n geïntegreerde benadering met die hulp van operasionele magte inhegtenisnames gemaak kan word. Om dié ideaal te bereik, beoog Van Dalen om vanjaar minstens drie doelgemaakte kursusse aan te bied op plekke waar dié misdade hoogty vier.

Die spoorsnymeester Francois van Dyk (links) gee raad oor spoorsny aan Joseph Renaud (regs), AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek, en ander kursusgangers.

Die afgelope twee jaar is sowat 270 protospanlede, oftewel gespesialiseerde reaksiemaglede, uit AfriForum se meer as 170 buurt- en plaaswagstrukture geïdentifiseer en opgelei. Hul spesialisopleiding bied ’n ongekende voorsprong in die bekamping van misdaad oor die hele land heen. Individue uit dié spanne sal nou gekies word om hul vermoë selfs verder uit te brei en onder leiding van Van Dyk as spoorsnyers opgelei te word wat in spanne van vier tot ses lede ingespan sal kan word. In Musina sal spoorsnyers opleiding ontvang om die knaende probleem van grensoorskrydings te takel; aan die Lesotho-grens sal hulle opgelei word om toenemende veediefstal hok te slaan; en in Brits – ’n gebied wat reeds jare lank geteister word deur plaasaanvalle – sal spoorsnyers leer hoe om verdagtes ná aanvalle op te spoor.

Van Dyk maak dit duidelik: Elke terrein bied aan die spoorsnyer ’n unieke uitdaging. Juis daarom is dit noodsaaklik dat spoorsnyers die gebied waarin hulle werk deur en deur moet ken. Kennis van die tipe grond, plantegroei, weersomstandighede en ander uiteenlopende natuurelemente is noodsaaklik en sal verskil van streek tot streek.

Spoorsnywerk vereis voorwaar ’n unieke en dikwels rateltaai persoon met die geduld van Job en die oë van ’n valk. “Om suksesvol te wees as ’n spoorsnyer moet die persoon fiks wees, goeie sig hê, verkieslik nie kleurblind wees nie, oor goeie dieptepersepsie beskik, geduld hê, aggressief en gemotiveerd wees en uitsonderlike bewustheid van die omgewing hê,” verduidelik Van Dyk.

Benewens dié eienskappe is die slyp van ’n spoorsnyer se vaardighede van kritieke belang, meen Van Dyk, en is deurlopende opleiding en die inoefening van vaardighede noodsaaklik vir sukses. Sy betrokkenheid as spoorsnyer tydens die Grensoorlog het hom nie net die geleentheid gebied om dié kuns aan te leer nie, maar om dit in die uitdagendste omstandighede in te oefen en te beproef. Sy geduld is dikwels tot die uiterste beproef, verduidelik hy.

In een geval, in die vroeë 1970’s, het hy as lid van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) se Valskermbataljon vir drie dae en drie nagte lank aaneenlopend die spoor van sowat 75 insurgente gevolg. Die groep van agt lede het in dié meer as 72 uur lange operasie sonder ruskans etlike uitmergelende kilometers in die sanderige Kaprivistrook afgelê op ’n spoor wat met elke tree warmer geword het. Hoewel die insurgente daarin geslaag het om die SAW se spesiale magte – wat deurentyd deur die spoorsnyspan van die groep se bewegings op hoogte gehou is – by die Kwandorivier op die grens tussen Suidwes-Afrika en Botswana te ontglip, is dié operasie steeds by Van Dyk ingeprent as een van die grootste toetse in geduld wat hy in sy hele spoorsnyloopbaan ondervind het.

Dit is juis dié ervaring wat veral vandag nie meer agter elke bos uitgekrap kan word nie, maar volgens Van Dalen nou met ywer as deel van AfriForum se landelike veiligheidstrategie ingespan gaan word. Danksy Van Dyk se kennis en Van Dalen se strategiese visie maak AfriForum nou gereed om ’n nuwe generasie spoorsnyers op die spoor van misdaad te sit.

Dewet Ungerer, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek, wys ’n grondspoor uit tydens die afskopkursus in spoorsnywerk wat in April op die Doornkloof Voortrekkerterrein in die Vrystaat aangebied is.

Alle kennis van spoorsnywerk begin hier

Spoorsnyers moet met elke operasie dié drie elemente naspoor en interpreteer om noodsaaklike inligting rakende die bewegings van verdagtes of vermiste persone in te samel.

  • Grondspore: Dit verwys na fisiese voetspore of skoenafdrukke wat op die grond waargeneem kan word.
  • Lugspore: Lugspore is bewyse wat bo die enkels voorkom en dui op die bewegings van individue en is sigbaar in onder meer versteurde, gebuigde of geknakte grashalms.
  • Tekens: Tekens, soos ’n bebloede verband, ’n patroondoppie of ’n klip wat duidelik verskuif is, bied ook uiters waardevolle inligting oor die spoor van verdagtes.

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad