SAUK, Afrikaans en “die hanshoender oor sy winkelstoep”

Deur Ilze Nieuwoudt | Foto’s: Argief en Verskaf

In 1991 het die rubriekskrywer Johan van Wyk in Die Volksblad geskryf dat die SAUK so erg is oor Engels “soos ’n hanshoender oor ’n winkelstoep”. Dit is 34 jaar later en die “hanshoender” is nie net steeds die oogappel van die openbare uitsaaier nie, dit is ook die plan vir die toekoms. Die uitvoering van hierdie plan en die verskraling van die Afrikaanse aanbod op die SAUK se televisiekanale het Afrikaanse kykers in April vanjaar wéér die hoenders in gemaak.

’n Insident wat later deur die SAUK afgemaak is as ’n “skeduleringsfout” het kykers wat op 5 April oudergewoonte om 18:15 voor die kassie ingeskuif het vir ’n Saterdagaand-nuusbulletin in Afrikaans eers verward en later die josie in gehad. Op dié aand was daar geen sprake van die nuus in Afrikaans nie en geen verduideliking is vir die afwagtende kykers gebied nie. Gerugte en inligting van agter die SAUK-skerms het vinnig versprei dat bestuur die gewraakte besluit geneem het om Afrikaanse televisienuusuitsendings oor naweke te staak.

Hierop het Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, heftig gereageer en ’n verduideliking van die uitsaaier se bestuur geëis. Volgens haar is die lukrake afskaffing van dié bulletin ’n “minagting van die Afrikaanse gehoor se toegang tot nuus langs hierdie weg”.  

50 jaar van Afrikaanse nuus op die SAUK

Televisie het Suid-Afrika teen ’n behoorlike Afrika-tyd eers in 1976 bereik, terwyl lande soos Brittanje se BBC al in 1936 met televisie-uitsendings begin het en meer as 45 miljoen huishoudings in die VSA al teen 1960 televisies besit het.

Die koms van televisie na Suid-Afrika was groot nuus.

Plaaslik was teenkanting teen wat in daardie dae nog as “beeldradio” bekendgestaan het, enorm. Dr. T.E. Dönges, destydse minister van Finansies, het byvoorbeeld in 1959 gewaarsku dat beeldradio ’n gevaar vir Afrikaanssprekendes inhou. Hy het onder meer aangevoer dat die “kuns van gesels” in onbruik sou raak omdat mense net in stilte voor die kassie sou sit. En gesellige aandetes? Ook dié deugde sou volgens Dönges met die koms van televisie daarmee heen wees, want dit sou ’n gejaag afgee om net betyds vir die volgende program te wees.

Dié waarskuwings kon egter nie op die lange duur die koms van televisie keer nie en teen 1975 – vanjaar presies 50 jaar gelede – is met proefuitsendings begin. In die eerste proefuitsending van die nuus is op 5 Mei 1975 in Engels verslag gedoen oor ’n Suid-Afrikaanse Jood en werknemer van die Israelse konsulaat in Johannesburg, David Protter, wat ’n week tevore meer as 20 mense in die kantoor van die konsulaat aangehou het. Sowat ’n week later, op 12 Mei, is die eerste Afrikaanse nuusbulletin op televisie uitgesaai.

In die vroeë dae van televisie is daar volgens oorlede prof. Jaap Steyn, taalwetenskaplike en skrywer van onder meer Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare, op TV1 gestreef na gelyke behandeling van Afrikaans en Engels. “Televisie het geweldig baie vir Afrikaans beteken. Die taal is ingebring in huise waarin dit nooit meer of nooit tevore gehoor is nie. Dit het Afrikaanssprekendes in aanraking gebring met groot wêreldliteratuur, werk aan honderde mense verskaf en so kommersiële waarde tot Afrikaans bygedra,” skryf Steyn.

In die vroeë 1990’s het die druk op Afrikaans op verskeie terreine egter begin en SAUK-TV was voor in die koor om die inkorting van Afrikaans ’n werklikheid te maak. Teen November 1991 is vervaardigers boonop ingelig dat die produksie van Afrikaanse programme heeltemal gestaak moet word – dié verbod is wel in Maart 1992 gelig, maar het die ingesteldheid van die SAUK-bestuur toe reeds hard en duidelik gemaak.

Jan Scholtz, die gerekende Afrikaanse draaiboekskrywer, regisseur en vervaardiger uit wie se pen onder meer die draaiboek van die televisiereekse Die Sonkring en Song vir Katryn gevloei het, het in 1994 uitgevaar teen die ANC se politieke invloed op nuusprogramme en die verskraling van Afrikaans op die SAUK. Hy het gesê: “Die SAUK, die grootste beskermheer van die kulturele erfenis van elke Suid-Afrikaner, word ingespan om een van die hooftale van die land, Afrikaans, te vernietig. Die aanslag is ’n werklikheid. […] Ek weier om op my knieë te leef vir die politieke kommissarisse van die SAUK, want as ons as Afrikaanssprekendes nie ons eie beskerm nie, wat is ons? Tweedeklas-, amorfe burgers, sonder identiteit, sonder selfrespek.”

Die aanslag duur voort

’n Studie getiteld “Lack of diversity (Repeat): Analysis of SABC news and programming” wat die organisasie sonder winsbejag Media Monitoring Africa in 2012 onderneem het, toon dat meer as 76% van alle SAUK-inhoud in daardie stadium in hoofsaaklik Engels uitgesaai is. Dit ten spyte daarvan dat Engels slegs die vyfde grootste huistaal in die land is met sowat 8,7% van Suid-Afrikaners wat dit as hul moedertaal erken. Daarenteen praat sowat 24,4% van Suid-Afrikaners Zoeloe en 16,3% Xhosa, terwyl 10,6% Afrikaans- en 10% Sepedi-sprekend is.

Taalverspreiding van die vyf grootste moedertale in die land (volgens 2022-statistiek).

Die SAUK maak egter geen geheim van hul planne om die taal wat Van Wyk die “hanshoender” gedoop het, selfs meer lugtyd te gee nie. Die uitsaaier se korporatiewe plan vir 2024/2025 tot 2026/2027, ironies genoeg getiteld “Everywhere. For everyone, always”, verklaar onomwonde: “Inhoud in ’n verskeidenheid tale sal steeds op prys gestel word, hoewel Engels toenemend ’n standaard vir almal gaan word.”

AfriForum het reeds in Maart 2024 sy stem laat hoor toe planne vir die verskuiwing van die Afrikaanse nuusbulletin van SABC 2 na SABC 3 bekend geraak het. Ná dié skuif het die SAUK skynbaar ’n los-en-vas-benadering met die uitsending van die Afrikaanse nuus begin volg. “Bulletins is verskeie kere glad nie uitgesaai nie. Op kort of geen kennisgewing is sportwedstryde in die plek daarvan gebeeldsend, wat kykers en adverteerders nog verder vervreem het,” verduidelik Bailey.

Intussen het kykergetalle van die Afrikaanse nuus drasties gekrimp. Waar nagenoeg 630 000 kykers nog in November 2023 op ’n weeksdag ingeskakel het vir die Afrikaanse nuus op SABC 2, het die verskuiwing na SABC 3 kykergetalle ’n ernstige knou toegedien. Op dié kanaal kon die Afrikaanse nuus ’n jaar later, in November 2024, op ’n weeksdag net sowat 295 000 kykers lok.

In Augustus 2024 is daar weer skuiwe aangekondig. Hierdie keer is besluit dat die Afrikaanse bulletins op Saterdae en Sondae na SABC 2 sou terugkeer en om 18:15 uitgesaai word, terwyl die nuus op weeksdae op SABC 3 op die 20:30-tydgleuf sou aanbly. Die terugkeer van die Afrikaanse nuus na SABC 2 op naweke het kykergetalle weer die hoogte laat inskiet met meer as 620 000 kykers wat oor naweke vir die dag se nuus voor die kassie ingeskuif het.

Die verskraling van Afrikaans op die SAUK en die openbare uitsaaier se los-en-vas-benadering met die uitsending van die Afrikaanse nuus het talle kykers al woedend gemaak.

Oor die sogenaamde skeduleringsfout wat gevaarligte oor die voortbestaan van die SAUK se Afrikaanse nuusbulletins laat flikker het, het Nomsa Chabeli, uitvoerende hoof van die SAUK, soos volg op AfriForum se navraag hieroor gereageer: “Afrikaans bly ’n belangrike deel van ons openbare uitsaaimandaat, net soos met alle Suid-Afrikaanse tale en ons is daartoe verbind om billike toegang tot nuus en inligting in alle amptelike tale te verskaf.”

Bailey waarsku tereg dat die SAUK se verwysing na “billike toegang” (in die oorspronklike Engelse kommunikasie equitable access) “gewoonlik die verskoning is om syferspeletjies te speel tot ’n somtotaal gevind word wat die afskaffing van dienslewering in ’n bepaalde taal skynbaar voldoende motiveer”.

Die SAUK voer in sy taalbeleid self aan dat die term equitable wys op just, fair and reasonable (oftewel “regmatige, redelike en regverdige”) behandeling en nie noodwendig gelyke behandeling nie. Daarbenewens skryf dié beleid ook voor dat die “historiese ongelykhede” in ag geneem moet word in die toekenning van hulpbronne.

Afrikaans gaan die toekoms binne op televisie én stromingsdienste

Die onlangse aankondiging dat die reisprogram Voetspore,na berigte naas die naweeknuusbulletins die laaste oorblywende Afrikaanse program op SABC 2, nie na afloop van die huidige reeks voortgesit sal word nie, wys dat die skrif aan die muur is vir Afrikaans op die SAUK.

“Die afskaffing van Afrikaanse programme op die SAUK wys op die noodsaaklikheid van onafhanklike Afrikaanse kanale en opsies soos AfriForumTV, want dit hou die taal lewend vir Afrikaanse kykers,” verduidelik Bailey.

Oor die behoud van Afrikaans op die openbare uitsaaier is Bailey egter duidelik. “Ons het ’n ereplig in dié verband. Om die uitfasering daarvan te aanvaar, sal ’n ondiens teenoor ons voor- en nageslagte wees.”


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad