SAPD-honde-eenheid kou harde bene

Deur Ilze Nieuwoudt | Foto: SAPD

Dekfoto: Ten spyte van reusetekorte aan honde in die SAPD se honde-eenheid is suksesverhale soos dié van die snuffelhond K9 Night en sy hanteerder, ao. Damian Theron, van die honde-eenheid op Gqeberha (Port Elizabeth), wat in April vanjaar ’n verdagte opgespoor het, ’n bewys van die behoefte aan goed opgeleide snuffelhonde en spoorsnyers.

Die gebruik van snuffelhonde in die destydse Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) was reeds vroeg in die 20ste eeu ’n trotse komponent van speurwerk in die land. Die vestiging van die honde-eenheid het kort ná Uniewording in 1910 gevolg en in 1911 is die eerste drie Dobermann Pinschers uit Nederland ingevoer. Teen 1912 is die eerste opleidingsentrum op Jan Smuts se plaas, Irene, met 13 honde op die been gebring en in 1923 word die polisie se Kwaggaspoort-honde-eenheid aan die buitewyke van Pretoria gevestig. In die dekades wat hierop gevolg het, het Kwaggaspoort internasionale aansien verkry vir die sukses wat met die opleiding van snuffelhonde behaal is. 

Sauer, ’n legendariese Dobermann Pinscher, was een van die polisie se grootste suksesverhale en ’n bewys van die sukses wat in Suid-Afrika met snuffelhonde bereik kon word. Sauer het in 1925 sy plek in die rekordboeke “ingesnuffel” toe hy die spoor van ’n veedief – wat volgens oorlewering reeds ouer as vyf dae was – meer as 160 km ver deur die Karoo gevolg en suksesvol opgespoor het.

Een van die enigste foto’s wat na bewering van die snuffelhond Sauer behoue gebly het.

Die honde-eenheid se gloriedae blyk egter om iets van die verlede te wees en van die kennis en kundigheid van ’n eenheid wat vroeër wêreldwyd gereken is, is daar skynbaar bitter min oor. Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se 2023/2024-jaarverslag wat in Augustus 2024 uitgereik is, was daar in daardie stadium 109 honde-eenhede (oftewel K9-eenhede) in die land waarvan honde gebruik word om patrollie- en snuffelwerk van onder meer narkotika, springstof, liggaamsvloeistof, beskermde spesies, asook soek- en reddingswerk te doen. Die aantal eenhede staan egter luidens amptelike terugvoer van die SAPD tans op 93. Daar moet egter volgens die polisie se eie berekeninge ideaal gesproke 96 eenhede wees.   

Volgens ’n vraag wat Ian Cameron, voorsitter van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie, in Januarie vanjaar aan Senzo Mchunu, minister van Polisie, gerig het, is daar tans ’n totaal van 1 224 hondehanteerders en 679 polisiehonde in die SAPD. Cameron het die honde-eenheid in Kaapstad se kapasiteit ná ’n besoek in Februarie gekritiseer en aangevoer dat slegs sowat 50% van hondehanteerders wel honde het. Hy het ook die bekende Roodeplaat-opleidingsentrum, noord van Pretoria, as “ondoeltreffend” en “verouderd” bestempel.

In reaksie op nóg ’n parlementêre vraag het die SAPD in Maart aangevoer dat die ideale hoeveelheid polisiehonde op 2 640 gereken word. Hiervan word die grootste hoeveelheid honde, naamlik 707 honde elk, vir die uitsnuffel van springstof en narkotika vereis. Daar word egter ook 118 speurhonde vir die polisie benodig, maar met die reusetekort aan polisiehonde wat op nagenoeg 75% gereken word, kan daar min of meer afgelei word dat daar tans waarskynlik net sowat 30 spoorhonde beskikbaar is in die hele land. 

Volgens Thomas van Dalen, opleidingsbestuurder by AfriForum, is dit tekorte soos dié wat in die SAPD se honde-eenheid ondervind word, wat tans die opsporing van verdagtes in landelike misdaad ernstig kniehalter en die behoefte aan gespesialiseerde spoorsnyopleiding noodsaak. “Waar die honde-eenheid in die verlede ’n noodsaaklike werk verrig het in die naspoor van verdagtes, lei die ernstige tekort landwyd nou daartoe dat gemeenskappe self oplossings moet vind,” verduidelik hy.

AfriForum se selfdoenaanslag ten opsigte van veiligheid volg ’n geïntegreerde benadering, waarvan die gebruik van kundige spoorsnyers ’n nuwe en kritieke komponent vorm. “Die gebruik van taktiese beheersentrums, hommeltuigtegnologie en snuffelhonde, asook buurt- en plaaswagte in misdaadsituasies word nou reeds etlike jare lank deur AfriForum se veiligheidstrukture ingespan en sal in die toekoms uitgebrei word om die verval wat ten koste van veiligheid plaasvind op elke manier denklik teë te werk,” sluit hy af.

Kyk hier hoe AfriForum se Brits-tak hul eie honde-eenheid inspan in die bekamping van misdaad.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad