Privaatvervolgingseenheid pluk vrugte van sukses

Deur Carina Bester | Foto’s: Verskaf

Privaat vervolging in Suid-Afrika is lankal nie meer nuut nie en die verval van die strafregstelsel het die weg vir hierdie soort vervolging gebaan. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het reeds in 2016 besef dat iets gedoen moet word om polities verskanste persone te vervolg. Met die ontstaan van AfriForum se privaatvervolgingseenheid in 2017 was hierdie konsep egter nog vreemd en onbekend.

Dié eenheid se baanbrekerswerk word moontlik gemaak deur hul jare lange ondervinding in die reg, maar ook danksy elke AfriForum-lid. Hierdie span, wat uit drie advokate, ’n prokureur, ses bekwame ondersoekers en ’n regssekretaresse bestaan, het intussen verskeie suksesse behaal en baan die weg vir hierdie soort vervolgings.

Hoekom privaat vervolg?

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is privaat vervolging veral noodsaaklik weens die verval van die strafregstelsel. Die eenheid fokus daarom steeds daarop om polities verskanste persone te vervolg aangesien die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se neiging om selektief te vervolg, toegeneem het.

Nel voer aan dat die verval van die strafregstelsel veral vroue en kinders in die steek laat. Een van die eerste sake wat die privaatvervolgingseenheid namens Monique van Oosterhout aangepak het, is ’n duidelike bewys van hoe die stelsel ’n vroueslagoffer in die steek gelaat het en ook ’n persoon met politiese bande beskerm het.

Soete oorwinning in Bizos-saak

Van Oosterhout het kort ná die eenheid se ontstaan by die eenheid om hulp aangeklop nadat die NVG versuim het om haar destydse man, Alexi Bizos, te vervolg vir aanranding wat reeds in 2015 plaasgevind het. Bizos is die seun van die ontslape menseregte-advokaat George Bizos.

Monique van Oosterhout en adv. Gerrie Nel nadat Alexi Bizos gevonnis is.

Van Oosterhout het met behulp van die privaatvervolgingseenheid aansoek gedoen om ’n nolle prosequi-sertifikaat sodat privaat vervolging ingestel kan word. Bizos jr. is in 2024 skuldig bevind en in Februarie vanjaar gevonnis – ongeveer 10 jaar nadat die misdaad gepleeg is.

“Hierdie skuldigbevinding lê die NVG se selektiewe vervolging bloot en bevestig ons oortuiging dat die besluit om Bizos jr. nie te vervolg nie gegrond was op sy gesinsbande,” het Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, verlede jaar ná die skuldigbevinding gesê.

Hier lê die sukses

Die eenheid se sukses lê in die rol wat hulle daagliks speel om die NVG te dwing om sake te vervolg en om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te dwing om die nodige aandag aan sake te gee, sê Nel, wat as aanklaer in die Bizos-saak opgetree het.

Volgens hom is dit skokkend, maar waar dat hulle selfs getuies hof toe moet vergesel en meestal self die voorbereidingswerk moet doen wat eintlik deur aanklaers gedoen behoort te word.

Hof beslis NVG moet opdok

In nog ’n toonaangewende saak wat die privaatvervolgingseenheid hanteer het, het die Landdroshof in Mamelodi vanjaar gelas dat die NVG die eenheid se koste moet betaal nadat die eenheid Irvin Thabo Ngobeni suksesvol vervolg het vir die aanranding van sy buurvrou Nthabiseng Sebothoma.

Die voorval het in 2023 plaasgevind toe Ngobeni Sebothoma wakker gemaak het omdat hy beweer het dat iemand sy motorsleutels op haar dak gegooi het. Toe sy hom toegang tot haar huis weier en versoek dat hy terugkom sodra dit lig is, het hy haar beledig en gedreig om haar dood te maak. Hy het haar ook aangerand deur haar te skop en te slaan, haar gekrap en haar klere geskeur.

Advv. Phyllis Vorster en Obed Tongoane van die privaatvervolgingseenheid was die aanklaers in dié saak.

Adv. Obed Tongoane, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, Nthabiseng Sebothoma en adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid. Die eenheid het Sebothoma se buurman privaat vervolg nadat hy haar aangerand het.

Kragtens artikel 15(2) van die Strafproseswet kan ’n hof bepaal dat die staat die privaatvervolginguitgawes betaal indien privaat vervolging ingestel is nadat die staat geweier het om te vervolg en die beskuldigde dan skuldig bevind word.

Dié kostebevel is ’n belangrike mylpaal in die ontwikkeling van privaat vervolging in Suid-Afrika en is ’n bewys van die NVG se onverklaarbare versuim om sonder vrees, guns of vooroordeel te vervolg, sê Nel.

“Die eenheid bestaan reeds vir agt jaar en die noodsaaklikheid om die konsep van privaat vervolging bekend te stel, uit te brei en te vereenvoudig word jaarliks meer dringend,” sê Nel. Dit is ook aanduidend van die hoë koste om geregtigheid te laat seëvier – iets wat baie Suid-Afrikaners nie kan bekostig nie.

Uitdagend, maar noodsaaklik

Alhoewel die privaatvervolgingsproses tans nog duur is en dit vir individue moeilik is om privaat te vervolg, kan dit egter, volgens Nel, die druk op die strafregstelsel verlig – veral as ’n apolitiese benadering gevolg word.

Hy meen die strafregstelsel moet voorspelbaar wees en mense moet weet dat indien hulle ’n misdaad pleeg, dit ondersoek sal word en dat jy vervolg en moontlik skuldig bevind kan word. Dít is volgens hom die grootste afskrikmiddel teen misdaad.

“Die instelling van privaat vervolging moet vereenvoudig word en die reg moet uitgebrei word om die gemeenskap die reg te gee om korrupte persone wat deur die strafregstelsel en politieke inmenging beskerm word, te vervolg.”

Hoe lyk die ideale wêreld wat privaat vervolging betref volgens Nel?

“Groter samewerking tussen die eenheid en ander rolspelers in die stelsel is nodig, wat ’n merkbare verbetering in vervolging en ondersoeke sal meebring. Uiteindelik sal die keuse om sake na ’n privaat aanklaer van jou keuse te verwys, die beste uitkoms bied.”


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad