Pollie (én Afrikaans), ons gaan Paarl toe!

Deur Ilze Nieuwoudt | Foto’s: Carien Bloem, Petri van der Walt en verskaf

Dekfoto: Die aanbieder Lynden Jafta van Paarl 96.7 FM was daar toe die reuseletters staan gemaak is neffens die Afrikaanse Taalmonument.

’n Reis van 1 400 km, met nege reuseletters wat die woord “Afrikaans” uitspel, deur vier provinsies en één doel – om Afrikaans te vier! Dít was in ’n neutedop die verloop van die Solidariteit Beweging se Afrikaans Amptelik 100-lettertoer, waarin AfriForum die voortou geneem het. 

Die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer, met ’n vragmotor waarop die reuseletters kant en wal gelaai is, het op 1 Mei vanaf die Sol-Tech-kampus in Monumentpark vertrek en die langpad aangedurf. Hul eindbestemming was die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl waar die amptelike feestelikhede ter viering van 100 jaar van Afrikaans as amptelike landstaal op 8 Mei afgeskop het.

Tydens die twee dae lange toer uit die noorde van die land is aangedoen by vier bestemmings – Kroonstad, Bloemfontein, Beaufort-Wes en Laingsburg – waartydens die publiek ook hul verjaarsdagwense vir Afrikaans kon aflewer én dié reusekunswerk kon besigtig.

Die nege letters staan elk sowat 2 m hoog en het ’n gesamentlike gewig van nagenoeg 720 kg. ’n Letter is aan die Afrikaans Amptelik 100-oorsigkomitee, asook agt instellings van die Solidariteit Beweging toegeken en is met unieke ontwerpe, eie aan die onderskeie instellings, versier. Elkeen van hierdie instellings maak in hul veld ’n belangrike bydrae tot die groei en voortbestaan van Afrikaans en beeld hul ywer vir die taal op ’n kunstige wyse uit op hierdie reuseletters. Dié instellings is AfriForum, Solidariteit, Maroela Media, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Sol-Tech, Akademia, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Helpende Hand.

A-F-R-I-K-A-A-N-S op pad na die Paarl.

Volgens Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum en projekleier van die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer, was die ontvangs in die onderskeie dorpe oorweldigend en het oud en jonk die geleentheid aangegryp om die kleurvolle kuns van naderby te beskou. Op Bloemfontein het Annelien Diedericks van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) ’n boek oor die geskiedenis van Afrikaans aan die toerspan oorhandig, terwyl dr. Ezra Cilliers, ’n plaaslike afgetrede tandarts, ’n limeriek aan Afrikaans opgedra het (sien kassie hiernaas).  

Annelien Diedericks van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) tydens die toergroep se besoek aan die Rosestad.

“Die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer toon op ’n simboliese wyse dat Afrikaans behoort aan almal wat haar in die uithoeke van ons mooi land praat, sing, skryf, studeer, lees en waarlik lééf! Te midde van die uitdagings wat die taal ondervind, kan ons hierdie mylpaal in die kleurryke bestaan van Afrikaans met volle oorgawe vier,” beklemtoon Bloem.

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, meen die instellings van die Solidariteit Beweging het die geleentheid om die eerste 100 jaar van Afrikaans as amptelike taal te vier met ywer aangegryp. “Dit is hoog tyd dat ons nie net bekommerd is oor die toekoms van die taal nie, maar dat ons ook die wonderlike prestasies wat daarin behaal is, begin vier,” verduidelik sy.

Deur middel van die toer het die Beweging ook die kans benut om mense te herinner aan die wonder, prag en veelsydigheid van Afrikaans en ook weer die klem geplaas op waarom dié taal vir die nageslag bewaar moet word.

Die letterkunswerk was vir die duur van die Afrikaans Amptelik 100-feesvieringe op uitstalling by die Afrikaanse Taalmonument, waarna dit weer na Pretoria geneem is om tydens die noordelike been van die fees in dié stad in die skadu van die Voortrekkermonument uitgestal te word.

Op die damwal van die Gariepdam.

My hond Afrika – ’n limeriek vir Afrikaans

Deur dr. Ezra Cilliers

My hond Afrika praat net Afrikaans

vir ander tale sien hy glad nie kans.

Afkomstig van die DBV

het ek hom weer ’n kans gegee

nou dra hy selfs pajamas saans.

Tiener stort liefde vir Afrikaans uit in woorde

Franco Gibbens

Die 16-jarige Franco Gibbens van Bethal meen al praat hy baie “mengels”, is sy liefde vir Afrikaans “buitengewoon groot”. Hy het deur sy skool, die Hoërskool Ermelo, en sosiale media te hore gekom van Afrikaans se groot 100, maar het (tipies tiener) dit oorspronklik as “net nog ’n jaar gesien”. Toe die besef van die grootsheid van hierdie herdenkingsgeleentheid egter by hom insink, het Gibbens “dadelik groter respek en liefde vir die taal gekry”. Hy het na sy pen gegryp om dié prestasie te vier. Die resultaat is sy gedig “Die eeu van Die Taal” wat op ’n fyn wyse en op ’n ligte en nostalgiese wyse met ou én jong sprekers van dié taal praat.

Die eeu van Die Taal

Uittreksel van gedig deur Franco Gibbens

Van Tafelberg se wit wolkkombers,

Tot Psalms se mooi digters-vers.

Van lip lek lekker konfyt,

tot Ouma se lekker beskuit.

Die Voortrekkermonument se prag,

en Die Taalmonument se krag.

Vrouemonument so skerp,

en Paul Kruger se werk.

Die kinders se “Asseblief” en “Dankie”,

en pouses se kuiers op die bankie.

Groet met die hand by die oom,

en ’n drukkie vir die tannie by die boom.

Aande as die donker jou kom haal,

waar jy hard op jou knieë neerdaal.

En in jou moedertaal na die Here bid,

waar die kandelaar van sterre val en sit.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad