
Deur Marthinus Koekemoer
AfriForumTV is ’n gratis diens met topgehalteprogramme, -reekse, -sport én -flieks – alles in Afrikaans. Die inhoud op dié aanlyn stromingsdiens word gereeld uitgebrei en verskeie opwindende nuwe programme wag vir oud én jonk op die horison (of is dit nou die kleinskerm?). So gryp solank die springmielies en skop jou skoene uit, want hier is waarna jy in die komende maande kan uitsien.
Wortels en woorde
Afrikaans vier vanjaar sy eerste 100 jaar as amptelike taal. In AfriForumTV se nuwe reeks Wortels en woorde bring verskeie bekendes, waaronder Tobie Cronjé en Chris Chameleon, hulde aan Afrikaans met woord en musiek. Hierdie is ’n reeks vir almal wat lief is vir Afrikaans en moenie misgeloop word nie.
Die stryd vir geregtigheid: Die sake van Gerrie Nel
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het as staatsaanklaer al diep spore in die land se regslandskap getrap. In die nuwe reeks Die stryd vir geregtigheid: Die sake van Gerrie Nel word daar in elke episode gekyk na een van die sake waarby hy al betrokke was.
Nel het as jong aanklaer aan die moordsaak van die anti-apartheidsaktivis Chris Hani gewerk. Hy was ook betrokke by die korrupsiesaak van oud-polisiekommissaris Jackie Selebi en het seker gemaak die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius word tronk toe gestuur vir die moord op Reeva Steenkamp.
Dié reeks van agt episodes bied kykers ’n blik op hofstrategieë wat Nel al by die privaatvervolgingseenheid gebruik het, die uitdagings van ondersoeke en die drama wat al in Suid-Afrikaanse howe afgespeel het. Die reeks wys ook ’n meer persoonlike kant van Nel.
Die reserwes
In die splinternuwe komedie Die reserwes maak kykers kennis met Buks van der Merwe en sy groep (ietwat vreemde) vriende wat sukkel om hul geliefde rugbyklub in Pretoria aan die gang te hou. Hulle probeer ’n stokkie steek voor die planne van ’n bekende komediant en eienaar van ’n groot restaurant-franchise om die klub te koop. Ongelukkig bring hul planne net soveel probleme as oplossings en los Buks en sy vriende dikwels in ongemaklike situasies. Hierdie komediereeks van agt episodes sal veral aanklank vind by kykers wat al self die rugbyklubkultuur beleef het.
Vetkoekpaleis 3

Die ou gunsteling Vetkoekpaleis se derde seisoen is onlangs in AfriForum Teater opgeneem en is nou beskikbaar op AfriForumTV. Boeboe maak weer haar verskyning en kykers kan volgens Willie Esterhuizen, regisseur en akteur in die reeks, uitsien na oorgenoeg skaterlagoomblikke en manewales. “Ons wil net mense laat lag en as mense lag, is ons gelukkig. Toe ons die reeks voor ’n gehoor opgeneem het, het mense hulle pap gelag,” vertel Esterhuizen.
Aandag, alle skole én filmmakers!
AfriForumTV gee ook aan skole die geleentheid om hul eie kanale te skep. Hier kan alles van kultuur- en sportgeleenthede tot akademiese video’s opgelaai word. AfriForumTV lewer ook ’n diens vir skole om op ’n bekostigbare wyse regstreekse uitsendings moontlik te maak.
Voorts deel AfriForumTV-personeel graag hul passie met onafhanklike filmmakers en bied hulle die geleentheid om hul rolprente of reekse aan die publiek beskikbaar te maak. Hulle bly die eienaars van hul skeppings en sal boonop ’n inkomste genereer soos hul inhoud op AfriForumTV gekyk word.
“Dit is belangrik dat filmmakers se harde werk en passie vir die bedryf erken en vergoed word en AfriForumTV maak dit moontlik,” sê Shinelle Brewis, koördineerder by AfriForumTV.
Kontak Brewis by shinelle.brewis@afriforum.co.za vir meer inligting oor hoe om van hierdie unieke geleentheid gebruik te maak.