Om “geestelike pioniers” te wees

Deur Barend Uys – hoof van Interkulturele Samewerking en Verhoudings by AfriForum

Dekfoto: Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking en Verhoudings by AfriForum

“Watter spesiale intellektuele of geestelike taak stel u aan die Afrikanervolk voor, wat as ’n jong Wes-Europese volk nou eers hul geestelike volwassenheid bereik?”

Pieter Johannes (Piet) Meyer het hierdie geskrewe vraag aan die befaamde Britse historikus Arnold Toynbee gerig tydens sy twee maande lange besoek aan Wes-Europa in 1952 en 1953.

Toynbee het hierop geantwoord: “My persoonlike gevoel is dat die Afrikanervolk gekonfronteer word met ’n aller moeilike en terselfdertyd aller belangrike geestelike taak, wat hulle verplig is om te onderneem, sonder die keuse om dit te weier.

“Dit lyk vir my dat, in Suid-Afrika, ’n situasie julle reeds in die gesig staar wat binnekort ’n algemene situasie in die hele wêreld gaan wees as gevolg van die ‘uitwissing van afstand’ weens die vooruitgang van ons Westerse tegnologie. […] Daar sal nooit weer in die wêreld ruimte wees vir die verskillende faksies van die mensdom om weer in afsondering van mekaar te onttrek nie.

“Nou – in Suid-Afrika het die toeval van geskiedenis die inheemse, bruin en wit bevolking van die land teen ’n vroeë datum in hierdie moeilike situasie geplaas: die geskiedenis – of God – het julle die moeilike maar eerbare opdrag gegee om die geestelike pioniers te wees in die soeke na die oplossing vir ’n geestelike probleem wat die res van die mensdom binnekort ook in die gesig sal staar.”

Toynbee was op sy dag ’n swaargewig en het vir lank ’n belangrike rol in die internasionale politiek gespeel. Hy is bekend vir sy skryfwerk A study of history (wat 12 volumes beslaan) waarin hy die lewensloop van verskillende beskawings, van die wieg tot aan die graf, beskryf het. Hierdie is dus grootse woorde van ’n mens met diep insig in die mensdom se geskiedenis wat oor millennia strek.

Geestelike pionierswerk

Wat ’n voorreg is dit nie om daagliks deel te wees van die werk by ’n instelling wat besig is met hierdie geestelike pionierswerk nie. Hoe is slaggate regmaak, patrollie ry, bome plant en stoei met ’n plaaslike munisipaliteit egter “geestelike pionierswerk”?

Hier by AfriForum is personeel en vrywilligers daagliks besig om werklikhede op voetsoolvlak te skep – en dit is uiteindelik juis werklikhede wat geskep word wat praktiese oplossings bied vir bestaansvraagstukke, soos ook die vraagstukke wat Afrikaners in die gesig staar.

Ons almal beleef verskeie uitdagings in ons dag-tot-dag-bestaan as Afrikaners hier aan die suidpunt van Afrika. Die een stel uitdagings het te make met ’n onbevoegde, en ongelukkig meestal vyandige, regering. Ons stoei om finansieel kop bo water te hou as gevolg van diskriminerende wetgewing en ander beleide wat ekonomiese groei belemmer. Ons moet self inspring om ons omgewing funksioneel en leefbaar – en veilig – te hou.

Die ander stel uitdagings het te make met die kompleksiteit en diversiteit van die samelewing hier in suidelike Afrika. Afrikaners deel hierdie stuk aarde met verskeie volke en groepe met hul unieke tale, kulture, tradisies en gebruike. Ons werk om te verseker dat Afrikaners vry, veilig en voorspoedig hier kan voortbestaan – in vreedsame naasbestaan met al die ander volke hier. Dit is sekerlik Afrikaners se groot historiese bestaansvraagstuk en juis waarna Toynbee verwys het.

Die skep van ’n blywende oplossing

Dit is haas onmoontlik om ’n blywende oplossing vir ’n uitdaging te bedink en in werking te stel indien die uitdaging se ware aard, die werklikheid, nie goed verstaan word nie. Vir ons omstandighede is dit ook waar. Die Suid-Afrikaanse kultuurwerklikheid is baie meer kompleks as ’n oorvereenvoudigde (skyn) raswerklikheid van “swart, wit, Indiër en bruin” wat deur die ANC, sy meelopers en ander ideologies gedrewe politieke partye en organisasies as die werklikheid aangebied word. Ons verstaan dat daar binne die sogenaamde “rasgroepe” baie kulturele en taaldiversiteit is. Indien ons die werklikheid so sien, is die vraag wat ons dan nou doen om ’n blywende oplossing te skep wat goed op hierdie werklikheid pas?

Die eenvoudige waarheid is dat ’n sterk gesentraliseerde en gestandaardiseerde eenheidstaat en ’n sosialisties-liberale grondwet met gebrekkige beskerming vir kultuur- en etniese gemeenskappe nie ’n goeie raamwerk is aan die hand waarvan ons samelewing ingerig en bestuur kan word nie. Dit werk nie om ’n werklikheid in te forseer in ’n model wat nie pas nie – die model moet by die werklikheid aanpas.

Nie die Grondwet nie, maar die wet op die grond

Afrikaners, en AfriForum, kan nie die Grondwet of die staatsorde “van bo af” verander nie, want ons is nie “bo” nie en ons is ook nie die meerderheid nie, ons is op voetsoolvlak. Wat ons kan doen is om die nodige werklikhede op voetsoolvlak te skep wat voorspoedige voortbestaan en vreedsame naasbestaan kan verseker. Op hierdie manier word die bestaande orde, wat nie werk nie, oor tyd verander en kom ’n nuwe, werkbare orde tot stand. Dit is op die ou end nie wat op die papier van die Grondwet staan wat die werklikheid bepaal nie, maar die wet op die grond, met ander woorde voetsoolvlakwerklikhede.

Daarom is AfriForum besig om Afrikaners aan mekaar te bind en gemeenskapselfstandigheid van Afrikanergemeenskappe te versterk. Indien ’n gemeenskap hul eie toekoms wil bepaal, moet die gemeenskap immers oor die praktiese vermoë beskik om dit te doen. Omstandighede dwing ons nou om met groter dringendheid, en slimmer, te werk.

Aan die ander kant is AfriForum deurlopend besig om, op die grondslag van wedersydse erkenning en respek, wedersydse erkenning en samewerking tussen Afrikaners en ander kultuurgemeenskappe uit te bou. Die netwerk van kultuurgemeenskappe wat besig is om tot stand te kom, staan in skrille kontras met die polariserende uitsprake en optrede van politici en radikales.

Ons uitdagings is groot en verandering is dringend noodsaaklik – ons kan net op een manier daarop antwoord. Soos ons voorouers slaan ons met nuwe ywer en moderne oorspronklikheid die hand aan die ploeg en vertrou onvoorwaardelik op ons Hemelse Vader vir die uitkoms. Dít is wat dit beteken om geestelike pioniers te wees.

Ons bouwerk sal die wêreld verstom!

(Aanhalings geneem uit: Meyer, P.J. 1984. Nog nie ver genoeg nie. Johannesburg: Perskor, bl. 64–65.)


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad