Nuwe regulasies gaan sekuriteitsbedryf lamlê

Deur Carina Bester | Foto: Marthinus Koekemoer

In ’n land waar misdaad hoogty vier, bestaan die moontlikheid dat sekuriteitsbeamptes aan die kortste ent gaan trek wat wapens en ammunisie betref sou die voorgestelde wysigings aan die regulasies ingevolge die Wet op die Regulering van die Privaat Sekuriteitsbedryf 56 van 2001 in werking tree.

Senzo Mchunu, minister van Polisie, het hierdie voorgestelde regulasies (sien kassie) in Maart vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer. Dit het sedertdien kritiek vanuit verskeie oorde ontlok.

Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum

Die privaat sekuriteitsbedryf speel ’n groot rol in misdaadbekamping in die land en verskeie organisasies meen die nuwe voorgestelde regulasies kan dié R50 miljard-bedryf as ’t ware ontwapen. Volgens die reguleringsowerheid vir die privaat sekuriteitsbedryf (PSiRA) het hierdie bedryf meer as 600 000 geregistreerde sekuriteitsbeamptes. Luidens ’n artikel wat in 2023 op Business Tech verskyn het, was daar vier sekuriteitsbeamptes vir elke polisiebeampte in die land – ’n duidelike bewys van hoe baie Suid-Afrikaners op die sekuriteitsbedryf staatmaak om hulle veilig te hou.

Die voorgestelde wysigings gaan die bedryf volgens AfriForum kniehalter, duisende werksgeleenthede in gedrang bring en miljoene inwoners sonder betroubare beskerming laat. AfriForum het skriftelik kommentaar teen die voorgestelde regulasies ingedien. Daarmee saam is meer as 12 000 mense se handtekeninge ingedien wat ook beswaar teen die voorgestelde regulasies aangeteken het.

Die burgerregteorganisasie het intussen twee aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien, onderskeidelik by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD), om inligting te bekom oor hoeveel polisiestasies van privaat sekuriteitsdienste gebruik maak en hoe die voorgestelde regulasies die veiligheid en stabiliteit van gevangenisse kan beïnvloed.

As voorbeeld het AfriForum spesifiek na die Mangaung-gevangenis in Bloemfontein verwys wat tans deur ’n privaat sekuriteitsmaatskappy bestuur word.

“Dit is absoluut belaglik dat die regering dit sal oorweeg om privaat veiligheidsbeamptes basies te ontwapen, terwyl die staat van hulle afhanklik is om korrektiewe fasiliteite te help bestuur en beveilig. As hierdie wysigings aanvaar word, kan bewaarders wetlik verbied word om vuurwapens of minder dodelike toestelle te dra in fasiliteite wat van die land se gevaarlikste misdadigers huisves,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid.

Luidens PSiRA se verklaring oor die voorgestelde regulasies, beklemtoon dié owerheid dat hy daartoe verbind bly om te verseker dat regulatoriese wysigings nie die bedryf se vermoë om doeltreffend te funksioneer in die gedrang sal bring nie.

Tog is diegene wat direk by dié owerheid geregistreer is of ’n belang in die veiligheidsbedryf het, sterk gekant teen die nuwe regulasies.

Volgens Gideon Joubert van die South African Gunowners’ Association (SAGA) moet die regulasies geheel en al geskrap word. Joubert voer aan dat die rasionele oplossing is om die vrot appels te ondersoek, te vervolg en skuldig te bevind en nie om ’n kritieke bedryf op te saal met duur, verlammende beperkings wat wettige rolspelers straf en hul vermoë om die publiek en staat te dien, verswak nie.

“Hierdie wysigings sal nie die land veiliger maak nie, maar gemeenskappe selfs meer blootstel. Om dié sektor, wat miljoene eiendomme, ondernemings, skole, hospitale en selfs staatsinstellings beskerm, te ontwapen is nie regulering nie, dit is sabotasie,” sê Broodryk.

Só kan die nuwe regulasies privaat veiligheid benadeel

Bedreiging vir sakebedrywighede

  • Sekuriteitsmaatskappye kan belet word om vuurwapens aan hul beamptes uit te reik as hulle bloot ondersoek word, selfs sonder enige formele aanklagtes teen hulle.
  • Dit skep die potensiaal vir misbruik wat dit moontlik sal maak dat sakeondernemings deur kwaadwillige eise lamgelê word, wat tot verlies van kontrakte en die sluiting van ondernemings kan lei.

Beperkings op gewapende sekuriteit in openbare ruimtes

  • Sekuriteitsbeamptes sal met die implementering van die voorgestelde regulasies verbied word om vuurwapens in openbare ruimtes te dra tensy streng voorwaardes nagekom word.
  • Dit kan verhoed dat gewapende reaksiespanne kliënte in winkelsentrums, skole, kerke en huise beskerm.

Onduidelike en onwerkbare ammunisieperke

  • Die wysigings beperk ammunisie tot ’n “redelike” hoeveelheid, maar sonder om te definieer wat “redelik” is.
  • Verskillende sekuriteitstake vereis verskillende ammunisievlakke, wat nakoming van hierdie bepaling subjektief en onprakties maak.

Streng beperkings op semi-outomatiese gewere

  • Sekuriteitsmaatskappye sal spesiale goedkeuring moet kry om semi-outomatiese gewere te gebruik, wat die doeltreffendheid van hoërisikosekuriteitspanne sal beperk.
  • Mynsekuriteit, teenkapingseenhede en transitospanne sal ernstig deur die implementering van dié voorgestelde regulasie geraak word.

Onrealistiese vuurwapenopsporingsvereistes

  • ’n Mandaat om opsporingstoestelle op alle vuurwapens te installeer,is ingesluit.
  • Privaat sekuriteitsmaatskappye is reeds onderhewig aan streng rekordhouding rakende die uitreiking van vuurwapens, asook die aanstelling van ’n spesifieke verantwoordelike persoon om rekord te hou van sulke aktiwiteite.

Verbod op minder dodelike toerusting

  • Sekuriteitsmaatskappye sal deur die regulasies verbied word om rubberkoeëls, waterkanonne en skokgewere te gebruik.
  • Dié items is kritieke instrumente in operasies waar skarebeheer toegepas en openbare veiligheid gehandhaaf moet word.

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad