
Deur Ilze Nieuwoudt | Foto’s: Marthinus Koekemoer
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beweer dat sowat 4% van die wêreld se bevolking angs ondervind. Angs word beskou as ’n gevoel van vrees of senuweeagtigheid dat iets sleg gaan gebeur, selfs in die afwesigheid van stresvolle situasies. Angs is dikwels die gevolg van traumatiese gebeure – soos die blootstelling aan misdaad. Boonop blyk dit dat dit nie net die direkte slagoffers van misdaad is wat trauma (bekend as primêre trauma) ondervind nie. Ook persone wat indirek blootgestel word aan ’n gebeurtenis – soos om die gebeurtenis te aanskou of daarna te luister – waar iemand anders die slagoffer was, kan trauma, oftewel sekondêre trauma, ondervind.
Studies wat plaaslik onderneem is, toon dat die probleem van angstigheid op eie bodem waarskynlik veel erger is as die WGO se syfer wat die probleem wêreldwyd beoordeel het. ’n Studie wat ’n span mediese navorsers verbonde aan onder meer die Universiteit van die Witwatersrand in 2022 onderneem het, toon dat sowat 17,8% van respondente wat aan dié omvangryke studie deelgeneem het, waarskynlik angs het. Die navorsers het verwys na “waarskynlik” omdat nie alle respondente noodwendig hiermee gediagnoseer is nie, maar wel simptome van dié toestand getoon het.
Die letsels van misdaad
Talle navorsing het reeds getoon dat Suid-Afrikaners wat aan geweldmisdaad blootgestel word, ’n hoër voorkoms van traumaverwante geestesgesondheidsprobleme – soos posttraumatiese stresversteuring (PTSV) en ander verwante toestande soos depressie, angs en middelmisbruik – toon.
Wilna Theron, hoof van AfriForum se trauma-eenheid, verduidelik dat daar onderskei kan word tussen drie tipes trauma. Akute trauma is die gevolg van ’n eenmalige insident soos ’n roof, poging tot moord of aanranding, terwyl kroniese trauma plaasvind wanneer daar herhalende of langdurige gebeure soos gesinsgeweld of kindermishandeling plaasvind. ’n Derde tipe trauma, bekend as komplekse trauma, is die blootstelling aan verskeie traumatiese gebeurtenisse wat meestal van ’n indringende en persoonlike aard is.

Die simptome wat slagoffers van misdaad ondervind, verskil volgens Theron van persoon tot persoon. “Dit sluit dikwels ’n reeks emosionele, kognitiewe en gedragsreaksies in. Hierdie simptome kan, afhangend van die erns van die trauma en hoe dit verwerk word, korttermyn- of langtermynsimptome wees,” verduidelik sy.
Volgens Theron kan traumasimptome in die volgende sewe kategorieë gedeel word:
- indringende gedagtes en herinneringe (wat terugflitse en nagmerries insluit);
- emosionele reaksies (soos angs, paniekaanvalle, depressie of woede);
- vermydingsgedrag (waarin snellers of sosiale interaksie vermy word);
- kognitiewe veranderinge (wat duidelik word in onder meer geheueprobleme of negatiewe denkpatrone);
- hiperwaaksaamheid (wat dui op ’n verhoogde stresreaksie waarin slaapprobleme en die onvermoë om te ontspan voorkom);
- verhoudingsprobleme (soos probleme met vertroue en emosionele verwyderdheid); en
- gedragsverandering (wat gekenmerk word deur onder meer middelmisbruik of riskante gedrag).
Verligting uit ’n onverwagse oord
AfriForum se trauma-eenheid het onlangs begin om die gebruik van gewigdraende terapeutiese hulpmiddels ook aan slagoffers van misdaad wat by die eenheid om hulp aanklop, aan te beveel. Die gebruik van items soos swaar komberse (in Engels bekend as weighted blankets) en swaar teddiebere (soos onder meer beskikbaar by die plaaslike vervaardiger Weighted Buddies) word jare lank reeds gebruik om individue wat sukkel met onder meer angs, stres, droefheid of isolasie te vertroos.
Luidens ’n artikel wat in 2022 in die tydskrif Time verskyn het, is uiteenlopende produkte tans op die mark beskikbaar wat verligting vir sowel oud as jonk bring. Items soos PARO, ’n wollerige elektroniese rob, verlig na bewering spanning onder hospitaalpasiënte, terwyl swaar teddiebere en selfs ’n kussing wat die beweging van asemhaling namaak, volwassenes wat rou kalmeer.
Theron voer aan dat die trauma-eenheid se gebruik van Weighted Buddies se swaar beertjies ook merkbare verligting bring onder slagoffers van misdaad wat sukkel met die letsels wat trauma laat. “Die beertjies word nie gesien as speelgoed nie, maar as terapeutiese ondersteuningsmiddels, en kliënte aan wie die aanbeveling (vir die gebruik van dié hulpmiddel) gemaak is, het ’n verlaging in simptome ervaar,” verduidelik Theron. Sy benadruk egter dat die gebruik van hierdie hulpmiddels nie in isolasie gedoen moet word nie, maar vir die mees doeltreffende resultate as bykomend tot beradingsondersteuning gebruik moet word.
Die hoe, wat en hoekom van diepdrukterapie

Die sensoriese ervaring van aanraking het wydlopende voordele. Dit is geen geheim dat ’n drukkie op die regte tyd aan die ontvanklike individu wondere kan verrig nie. Op ’n soortgelyke wyse word diepdrukterapie in onder meer die behandeling van angs en spanning by onder meer persone met outisme en aandagafleibaarheidsindroom (ADHD) ingespan en kan selfs verligting bring vir individue wat sukkel met slapeloosheid.
Maar hoe werk dit? Die gebruik van diep druk moedig die vrystelling van oksitosien aan. Oksitosien is ’n hormoon wat stres en angs verminder, kan help met verbeterde slaappatrone en die gevoel van gebondenheid, en sekuriteit verhoog. In kort, die vrystelling van dié sogenaamde “liefdeshormoon” kan geestelike en fisieke gesondheid bevorder.
Die gebruik van diepdrukterapie deur byvoorbeeld swaar komberse, beertjies of selfs swaarder baadjies kan derhalwe in sekere omstandighede ook voordele inhou vir individue wat sukkel met angs en spanning na aanleiding van hul ervaring van of vrees vir misdaad.
Kenners beklemtoon egter dat die regte hulpmiddel met die regte gewig in samewerking met jou dokter, arbeidsterapeut of ander mediese praktisyn uitgekies moet word. Items moet verkieslik nie meer as 10% of 15% van die pasiënt se eie liggaamsmassa weeg nie en moet liefs nie vir langer as 20 minute op ’n slag gebruik word nie.
Vir meer inligting oor die gebruik van diepdrukterapie en terapeutiese hulpmiddels om toestande soos spanning en angs te help verlig, kontak AfriForum se trauma-eenheid by 064 870 8312 of trauma@afriforum.co.za.