Mafube-munisipaliteit en premier kry (wéér) bloedneus in die hof

Deur Marthinus Koekemoer | Foto’s: Marthinus Koekemoer, Carina Bester en die VSA-ambassade

Ná ’n jare lange stryd wat AfriForum en die Mafube-sakeforum (MBF) voer om toe te sien dat dienslewering herstel en besoedeling gestaak word in die Mafube Plaaslike Munisipaliteit, is ’n reuseoorwinning in Maart in die Hooggeregshof in Bloemfontein behaal. Vir die inwoners van Frankfort en ander dorpe in dié munisipaliteit kan daar uiteindelik uitkoms kom nadat ’n volbank regters die premier van die Vrystaat en 12 ander respondente skuldig bevind het aan minagting van die hof.

Hofbevele ná byna vier jaar steeds nie nagekom nie

AfriForum en die MBF het in Oktober verlede jaar ’n minagtingsaansoek gebring ná hofbevele van 29 Julie 2021 en 28 April 2022 nie nagekom is nie. Dienslewering in veral Frankfort, maar ook in Cornelia, Villiers en Tweeling, het oor die afgelope aantal jare amper heeltemal tot stilstand gekom.

In die jongste uitspraak is die respondente onder meer aangesê om onmiddellik ’n finansiële regrukplan te finaliseer en te implementeer, besoedeling uit die rioolaanleg in die Vaal- en Wilgerivier stop te sit en binne 60 dae tussentydse maatreëls in plek sit om enige toekomstige stortings te voorkom.

Die Vrystaatse premier Sisi Ntombela is onder dié wat nou skuldig bevind is aan minagting van die hof.

“Ons het hierdie hofsaak aangegaan om die munisipale bestuur te dwing om hul grondwetlike pligte na te kom. Dit sluit onder meer dienslewering aan die gemeenskap en die bewaring van die omgewing in. Die munisipaliteit lewer bloot nie die nodige dienste nie en vermors geld op nuttelose uitgawes,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van Gemeenskapstrukture vir die sentraalstreek.

Jare lange verval sonder gevolge

Gebrekkige vullisverwydering, slaggate, besoedelde of geen water en langdurige kragonderbrekings is van die probleme wat inwoners van die dorpe wat onder Mafube sorteer, gereeld ondervind. Die munisipaliteit is al so vroeg as 2004 aangesê om rioolpompe wat Namahadi-dorp by Frankfort bedien, te herstel. ’n Soortgelyke bevel is in 2008 uitgereik en die hof het in 2014 bevind dat hierdie bevele geminag is. Dit was nog nie die einde van rioolprobleme in Mafube nie en verdere hofbevele het in 2015 en 2016 rakende rioolbesoedeling en probleme by die watersuiweringsaanleg gevolg, maar ook hiervan het min gekom.

In hul uitspraak in Maart het regters J. Daffue, S. Chesiwe en S. Hefer dr. Namane Masemola, adjunkminister van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, aangehaal en beklemtoon dat die mense van die Vrystaat beter verdien. Hulle voer voorts aan dat meer doeltreffende bestuur nodig is waar aanspreeklikheid en verantwoordelikheid aanvaar moet word. Die regters het so ver gegaan as om te sê dat die munisipaliteit nie hul grondwetlike verpligtinge nakom nie en dat die inwoners van Frankfort en die ander dorpe se basiese regte geskend word.

Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, hou vol dat die munisipaliteit nie sy statutêre verpligtinge nakom nie en die gemeenskap ernstig in die steek laat as dit by dienslewering kom. “Die uitspraak lys die talle kere wat daar al teen die Mafube-munisipaliteit gelitigeer is op aanklagtes van swak bestuur en dienslewering, maar hulle steur hulself eenvoudig net nie aan die hofbevele nie. Die jongste uitspraak het egter bevestig dat daar, in gevalle waar daar geen respek vir die howe is nie, respek afgedwing sal word indien nodig.”

Volgens haar was die hooffokus van die aansoek om in belang van die munisipaliteit se inwoners op te tree en toe te sien dat dienslewering hier herstel word. “Ons het in ’n groter doel geslaag deur die provinsie te verplig om in te gryp en aan die hof te rapporteer,” verduidelik sy.

AfriForum se valkoë gerig op Mafube

In die maand ná die hof se gewigtige uitspraak teen die Mafube-munisipaliteit en andere betrokke in dié skandaal, het die munisipaliteit volgens Grobbelaar nog nie ’n vinger verroer om aan te toon dat hulle wel aan die hofbevel gehoor gaan gee nie. Teen middel Mei was daar nog geen verandering in die situasie op Frankfort nie. “Die volgende stap is om op nasionale vlak vir ingryping te vra en ons sal ook ’n grondwetlike aansoek oorweeg om dienslewering in dié munisipaliteit oor te neem,” sê hy.

“Ander dorpe wat soos Frankfort as gevolg van munisipale wanbestuur heeltemal verval moet ’n ruimte skep waar hulle self die dienste kan oorneem. Hulle sal self verantwoordelikheid vir hul dorpe en omgewing moet neem, want ons kan duidelik sien daar is nie ’n politieke wil om die situasie om te draai nie. Gemeenskappe, die privaat sektor en gemeenskapsorganisasies moet saamwerk om ’n werkende plan te ontwikkel om self dienste in dié dorpe te lewer. Deur dienste self te lewer kan ons ook ’n goeie bewyslas bymekaar maak om aan ’n hof te verduidelik hoekom die munisipaliteite nie meer in beheer van ons dorpe en gemeenskappe kan wees nie.”

Indien daar sukses by Mafube behaal word meen Grobbelaar daar kan ’n bloudruk ontwikkel word wat by ander dorpe, waar die munisipaliteit nie hul pligte nakom nie, gebruik kan word om die gemeenskap die geleentheid te gee om self in beheer van dienslewering te kom.

“Die saak dien vir AfriForum as ’n beginselsaak. Dit laat ons ook toe om ander maniere te kry wat dit binne die raamwerk van die wet vir ons moontlik maak om ons gemeenskappe meer doeltreffend te help. Dit gee ook vir ons die geleentheid om die owerhede tot verantwoording te roep. Hofsake is ’n groot deel van AfriForum se vegstrategie, maar terwyl ons dit doen, is ons ook besig om te bou en sterk takke te vestig om sodoende gemeenskappe op voetsoolvlak te help,” sluit Grobbelaar af.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad