
Deur Marnus Kamfer
Nagenoeg 6,8 miljoen mense in Suid-Afrika beskik oor ’n tweede eiendom en ongeveer 270 000 mense beskik oor meer as twee eiendomme. Hierdie eiendomme word om verskeie redes aangekoop. Van die eienaars koester die behoefte om in hul eie vakansiewoning kosbare tyd saam met vriende en familie te spandeer. Ander ag dit as ’n belegging, hetsy vir die kort of lang termyn.
Ongeag die rede vir die aanskaf van die tersaaklike eiendomme is daar een vrees wat al hoe meer sy kop uitsteek en by eiendomeienaars spook: Wat doen ek as die gewraakte tyding my bereik dat my eiendom deur vreemdelinge, sonder enige reg, beset word en ek vir alle praktiese doeleindes die eienaar word van ’n gekaapte eiendom?
Dié wette bied beskerming teen huis- en gebouekaping
Indien ’n eiendom gekaap word is daar in die Suid-Afrikaanse regstelsel stappe wat die eienaar of persoon in beheer van die eiendom kan doen. Die grondwetlike reg op die beskerming van die besit van eiendom word immers verskans in artikel 25 van die Grondwet. Die sogenaamde Betredingswet bepaal in artikel 1(1)(a) dat dit ’n kriminele misdryf is om enige eiendom of deel daarvan te betree of te beset sonder goeie rede of die nodige toestemming van die eienaar of persoon in beheer van die eiendom. Daar moet dus, sodra sodanige kaping tot die eienaar of persoon in beheer van die eiendom se kennis kom, onmiddellik werk daarvan gemaak word om ’n klag by die naaste polisiestasie (verkieslik die naaste aan die eiendom) te gaan lê. Artikel 2(2) van dieselfde wet bepaal dat, indien die hof ’n persoon skuldig bevind aan die misdryf wat hierbo beskryf is, die hof kan las dat dié persoon onmiddellik uitgesit moet word. Die howe en die Suid Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is ongelukkig geweldig versigtig as dit by die uitsetting van okkupeerders kom en daarom moet die eienaar of persoon in beheer van die eiendom ten alle tye seker maak dat hulle binne die raamwerk van die wet handel.
Die alternatiewe en meer doeltreffende remedie tot die beskikking van die eienaar of persoon in beheer van die eiendom is om ’n uitsettingsaansoek ingevolge die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond 19 van 1998 (oftewel die sogenaamde PIE-wet) te bring. In hierdie aansoek, wat tegnies van aard kan wees en nie sonder die hulp van ’n regspraktisyn onderneem moet word nie, word die hof versoek om ’n uitsettingsbevel toe te staan wat deur die balju uitgevoer moet word. Dit word dikwels met die bystand van die SAPD of ’n sekuriteitsmaatskappy gedoen. Die okkupeerders sal ook die reg hê om hul weergawe te stel en redes aan te voer waarom hulle nie uitgesit behoort te word nie. Die proses kan egter tydrowend en kapitaalintensief wees. Alhoewel die hof ’n kostebevel teen die okkupeerders kan gee, is die kans op die invordering van die kostes wat die eienaar of persoon in beheer van die eiendom moes aangaan om die okkupeerders uit te sit in die meeste gevalle skraal.
Dink twee keer anders mag jy dalk opdok
Die genoemde remedies veroorsaak dikwels frustrasie aan die kant van die eienaar of persoon in beheer van die eiendom en dit kan voel asof die reg die onregmatige okkupeerder meer beskerm as die regmatige eienaar. Omdat emosies dikwels posvat in die denke van die eienaar of persoon in beheer van die eiendom doen hulle stappe om die hofproses te vermy en om die okkupeerders te ontmoedig om verder in die eiendom aan te bly. Hierdie stappe sluit onder meer die afsny van water- of elektrisiteitstoevoer en die afhaal van deure en sekuriteitshekke in. Dié benadering moet liefs vermy word, aangesien die okkupeerders die reg sal hê om ’n hofaansoek teen die eienaar en/of persoon in beheer van die eiendom te bring om die okkupeerder se besit van die eiendom te herstel, aangesien die eersgemelde die okkupeerder se onverstoorde besit van die eiendom (regmatig of nie) sonder regsintervensie ontneem het. Die hof kan dan beslis dat die okkupeerder weer in besit van die verwyderde toevoer, hekke of ander verwyderde toebehore geplaas word en dat die eienaar of persoon in beheer van die eiendom daarvoor moet betaal.
Keer só dat jy nie die slagoffer van gebouekaping word nie
Voorsorg is altyd beter as nasorg. Daarom word eienaars en persone in beheer van die eiendomme aangemoedig om eerder ’n proaktiewe benadering tot die beskerming van eiendom te volg. Probeer daarom om nie eiendom vir te lank leeg en onbewoon te laat nie. Indien dit egter gebeur, kan die volgende eenvoudige stappe gevolg word om te verhoed dat jy dalk die slagoffer van eiendomskaping word:
- Versoek jou plaaslike buurtwag om addisionele patrollies in die eiendom se onmiddellike omgewing te ry om booswigte deur middel van verhoogde sigbaarheid af te sit.
- Sorg dat die tuin en erf in stand gehou word en nie tekens van verwaarlosing toon nie.
- Wend pogings aan om dit te laat lyk asof daar wel iemand in die huis woon. Hang byvoorbeeld gordyne of installeer ligte wat outomaties aan- en afsit.
- Installeer ’n alarm wat aan die reaksiediens van ’n betroubare sekuriteitsmaatskappy gekoppel is.
- Bly op goeie voet met die bure wat aangrensend tot die eiendom woon en voorsien die persoon met ’n skriftelike volmag wat hom of haar in jou afwesigheid in beheer van die eiendom sit. Dit sal aan die persoon die mag gee om klagtes te lê en ander stappe te doen om jou eiendom te beskerm.