
Deur Ilze Nieuwoudt
Ek sal 2025 waarskynlik vir die res van my lewe onthou as die jaar van die Afrikaner. Dit is die jaar waarin die wêreld – soortgelyk aan die dae van die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) – nie net te wete gekom het van dié volk aan die suidpunt van Afrika nie, maar die naam “Afrikaner” ook herhaaldelik in die media en tydens parlementsittings gehoor is. Politici, meningsvormers, Jan Rap én sy maat het elkeen iets te sê gehad oor Afrikaners.
Daar is gegons oor dié unieke groep mense wat Europa in merendeels die 17de en 18de eeu agtergelaat en hul identiteit en taal aan Afrika verbind het; ek wil sê onlosmaaklik aan Afrika verbind het. Hier het ons voorouers uit veral Nederland, Duitsland en Frankryk wortel geskiet en Afrikaners geword. Ons is nie soos die oumense sou sê “so gemaak en so gelaat staan nie”. Hier het ons gegroei en geword en hier groei en word ons steeds.
Toegegee, nie naastenby alle kommentaar oor Afrikaners wat die afgelope paar maande wêreldwyd gelewer is, was positief nie. Op 6 Maart het die EFF-leier Julius Malema in ’n parlementêre debat onder luide applous vuur gespoeg oor Afrikaners en gesê: “Ons regering moet opportunistiese, rassistiese Afrikaner-groepe verwerp wat VSA-imperialisme uitbuit om hul fantasieë van ’n onafhanklike staat te befonds. Dit sal nooit gebeur nie. Ons sal grond sonder vergoeding onteien, of hulle daarvan hou of nie. As hulle beswaar maak, kan hulle in Amerika gaan skuiling soek.”
Malema ken duidelik nie die hart van die Afrikaner nie. ’n Strewe na vryheid en ware geregtigheid is nie opportunisties óf rassisties nie. ’n Ywer om die land te laat werk – tot die voordeel van almal wat hier woon – is in Afrikaners ingebou, want dit is ook ons huis. Afrikaners staan nie bakhand, wagtend op aalmoese nie. As ons enige drome oor die land droom (of “fantaseer” soos Malema dit noem), sit A rassistiese frikaner-gemeenskappe self skouer aan die wiel om minder staatsafhanklik te word. Gaan kyk maar wat AfriForum se takke en buurtwagte landwyd doen, dit gebeur rééds. Wanneer magshonger politici die land in die afgrond in bestuur, soos wat die Onteieningswet daarna streef om te vermag, sál Afrikaners opstaan en beswaar maak. AfriForum het reeds in Mei vanjaar sy hofstukke ingedien om die grondwetlikheid van dié omstrede wet te betwis. En wanneer Afrikaners skuiling soek, is dit nie by Amerika of enige ander moondheid nie. Ons vind, soos die Psalmdigter sê, skuiling by die Allerhoogste, want Hy is ons toevlug en veilige vesting, die een op wie ons vertrou.
As Afrikanerorganisasie is AfriForum verbind tot verandering in die land. Verandering ten goede, want hierdie is ons huis en ons gaan nêrens heen nie.
In hierdie uitgawe van Forum Tydskrif bring ons nóg lekkerlees redes waarom ons geesdriftig werk om positiewe verandering teweeg te bring. Kallie Kriel verduidelik in sy rubriek waarom AfriForum as deel van die Solidariteit Beweging werk om rigtingverandering in die land te bewerkstellig. Ons stel ondersoek in na die gebeure wat AfriForum se besoek aan die VSA voorafgegaan het en kyk na die druk wat reeds internasionaal geplaas is om verandering te bring. Forum Tydskrif het ingeloer op Bloemfontein om uit te vind hoe AfriForum hier praktiese en tasbare verandering bring om veral veiligheid en swak dienslewering te takel; en ons kyk hoe AfriForum Afrikaans vier, besing op die planke van AfriForum Teater en beskerm.
Veg saam, bou saam én lees saam, want ons hoort hier.
1Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, 2hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.” 3Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou en jou bewaar van dodelike siekte. 4Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. 5Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, 6vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.
Psalm 91:1–6