“Daar moet op veiligheid gefokus word”

Deur Carina Bester | Foto’s: Carina Bester en Marthinus Koekemoer

AfriForum se streeksberade het vanjaar in Mei plaasgevind. Tak- en buurtwaglede van reg oor die land het hierdie berade, wat in Durbanville (suidstreek), Bloemfontein (Noord-Kaap en sentraalstreek) en Pretoria (noordstreek) plaasgevind het, bygewoon.

Vanjaar is daar veral op veiligheid gefokus en volgens Raymond Hohls, bestuurder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, kan dit nie anders nie. “Met die huidige situasie in die land wat misdaad en plaasaanvalle betref, moet daar op veiligheid gefokus word. Daarom kyk ons na die buurtwagstrukture, verskaf ons opleiding en word gebeurlikheidsplanne opgestel en ingeoefen.”

Tydens die berade is daar veral klem gelê op die belangrikheid van streeksveiligheidsnetwerke, oftewel steunkringe, en hoe die verskillende buurtwagte moet saamwerk om hul gebiede te beveilig. “Ons moet ons veiligheid na die volgende vlak neem deur steunkringe te skep waar meer as een buurt- of plaaswag saam kan beplan en informasie uitruil,” sê Hohls.

Die beraadgangers het vanjaar ook die geleentheid gekry om praktiese oefeninge te doen wat spesifiek op hul onderskeie gebiede gefokus het.

Noordstreek-streeksberaad

Noordstreek-streeksberaad: Vanjaar se AfriForum-streeksberaad vir die noordelike deel van die land is op 24 Mei in Pretoria aangebied.

Sentraalstreek-streeksberaad

Sentraalstreek-streeksberaad: AfriForum se takke in die sentrale deel van die land en die Noord-Kaap het vanjaar op 17 Mei in Bloemfontein byeengekom vir dié jaarlikse instelling.

Suidstreek-streeksberaad

Suidstreek-streeksberaad: Die AfriForum-streeksberaad vir takke in die suide van die land het vanjaar op 10 Mei in Durbanville plaasgevind.

“Ná afloop van die berade wil ons graag hê dat die lede hul gemeenskappe moet inlig oor die huidige misdaadsituasie en waarom dit belangrik is om aan ’n veiligheidstruktuur te behoort,” beklemtoon Hohls.

Hy benadruk ook dat buurtwaglede seker moet maak dat hul onderskeie gemeenskappe veilig is en dat hulle kan optree indien misdaad in hul dorpe plaasvind.

Buurtwaglede by die berade het beklemtoon dat daar ’n rol vir almal in die buurtwag is. Die publiek word daarom aangemoedig om by hul naaste buurtwag aan te sluit om deel te wees van misdaadbekamping in hul eie gemeenskap. Besoek www.afriforum.co.za vir meer inligting oor jou naaste buurtwag.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad