
Deur Ilze Nieuwoudt | Foto’s: Verskaf en Ilze Nieuwoudt
In Maart 2025 breek ’n spreekwoordelike damwal op die klein Oos-Kaapse dorpie Matatiele. Die bewerings van die verkragting van ’n 7-jarige leerder verbonde aan die Bergview College in die dorp in Oktober verlede jaar versprei soos ’n veldbrand op sosiale media. En hoewel woede en haat hieroor al maande lank in die kuberruim gebroei het, bars alle hel los toe dit bekend word dat AfriForum se privaatvervolgingseenheid Bergview College se skoolhoof – wat deur sekere lede van die gemeenskap en sogenaamde “sosialemediaspeurders” as die verkragter geteiken is – met regsadvies ondersteun.
Jaco Pieterse en sy gesin woon al 26 jaar op Matatiele, ’n idilliese stuk aarde aan die voetheuwels van die Drakensberg. Slegs ’n hanetree van die Lesotho-grens lê dit kunstig weggesteek in die verre ooste van die Oos-Kaap. Pieterse beskryf Matatiele “as ’n hegte gemeenskap wat omgee”. Dié relatief klein gemeenskap word gekenmerk deur ’n kennis van mekaar en betrokkenheid “wat oor kleurgrense heen” strek, verduidelik hy. “Ons het altyd baie veilig gevoel in die dorp en ons kinders kon vrylik in die strate speel.”
Tot onlangs was dié dorpie vir talle Suid-Afrikaners geheel en al onbekend gewees. Dit was voordat die media, sosiale media en politici hul aandag op Pieterse en die beweerde gebeure in dié dorp toegespits het.
In die bewerings wat heen en weer geslinger is, is aangevoer dat die vermeende verkragting by die skool plaasgevind het, dat Pieterse die misdaad gepleeg het en dat individue – soos die skool se opsigter – medepligtig was aan die misdaad. Senzo Mchunu, minister van Polisie, het selfs op 29 Maart aangevoer dat Pieterse as ’n verdagte in die saak beskou word (’n stelling waarvoor hy intussen op aandrang van die privaatvervolgingseenheid om verskoning gevra het). Selfs Fundile Gade, die LUR vir Onderwys in die Oos-Kaap, het op 31 Maart in ’n mediaonderhoud oor Pieterse verklaar: “Ek kan jou verseker dat hy deur die loop van die week óf in die hof gaan verskyn óf gearresteer gaan word.” Hy het ook aangevoer dat Pieterse ’n verdagte is.
Op sosiale media het mense te velde getrek. Dit was veral die plasings waarin dreigemente oor sy vrou en gesin se lewens gemaak is, wat Pieterse die meeste ontstel het. Volgens hom was daar “grafiese verduidelikings van wat met hulle [sy gesin] gedoen gaan word: moord op verskeie maniere, verkragting, bosgeregtigheid en selfs heksery”.
Teen 31 Maart het meer as 70 000 mense ’n petisie onderteken wat geregtigheid vir die vermeende slagoffer en deursigtigheid van die skool geëis het, en op 8 April het duisende mense die strate van Kaapstad, Johannesburg en elders ingevaar om protes aan te teken teen wat protesgangers bestempel het as stadige vordering in die saak. In Matatiele het duisende mense opgeruk in ’n optog en aangedring dat Pieterse se DNS vir toetsing geneem moet word en dat ’n inhegtenisname moet volg.
Pieterse was maande lank midde-in dié storm. Hy het in ’n oogwink een van die bekendste en onder ’n groot gemeenskap die mees veragte persoon in die land geword. As ’t ware die gesig van misdaad. Teen Mei het hy verskeie vrae wat Forum Tydskrif, via die regspan by die privaatvervolgingseenheid, aan hom gerig het, openhartig geantwoord.
Dié kleindorpie-skoolhoof, met sy geloof geanker in God, het op 3 Desember 2024 die eerste keer met die privaatvervolgingseenheid se adv. Phyllis Vorster kontak gemaak om raad te kry oor die dreigemente en aanvalle wat in persoon en op sosiale media sedert die beweerde verkragting in Oktober 2024 teen hom gemaak is.
“Ons het magteloos en uitgelewer gevoel omdat al die advies wat ons van die skool, regslui en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ontvang het, ons aangeraai het om niks te doen nie. Almal het net gesê die storm sal oorwaai,” verduidelik Pieterse. Hy was egter nie bereid om net toe te kyk hoe ongeregtigheid onverhinderd gedy nie.
Oor hoekom hy juis AfriForum genader het, is Pieterse duidelik. “In vergaderings met die SAPD het hulle nie enige hulp aangebied of belangstelling getoon om ons te help om sake te maak teen die persone wat ons bedreig en beswadder nie. […] Ons was bewus van die goeie werk wat AfriForum al in die verlede gedoen het en dat hulle staan vir geregtigheid. Ons het aanvanklik net advies by AfriForum gevra oor hoe om te werk te gaan om self klagtes te lê, maar het baie meer hulp en ondersteuning gekry as wat ons verwag het.”
Intussen het die druk op Pieterse al hoe groter geword. Hulle het om veiligheidsredes uit hul huis getrek en teen middel Mei steeds nie teruggekeer daarheen nie. Hulle moes so vinnig padgee dat vriende en familie hul huis moes oppak. Sy vrou moes haar gastehuis op die dorp se deure sluit en hul seun, wat tans in gr. 10 is, se lewe is ook op sy kop gekeer. En vir Pieterse – die man wat al vyf jaar aan die stuur van Bergview College staan – is sy loopbaan volgens hom “waarskynlik vir altyd geskend”.
Dit is reeds sowat sewe maande sedert die tragedie van die vermeende verkragting die Pieterse-gesin se lewe handomkeer verander het. “Ons is onseker oor ons veiligheid en wat die toekoms inhou. Daar is die heeltyd ’n onderliggende spanning,” verklaar Pieterse.
Pieterse se passie vir die onderwys maak die verlies wat hy en sy gesin nou ly, juiste meer tragies. Hy het 19 jaar se ervaring in die onderwys, 12 daarvan as skoolhoof.
“Onderwys maak dit vir my moontlik om mense te help,” verduidelik hy. “Dit gee my ’n kans om in die toekoms van mense te belê, en ek het ook die voorreg om insette in mense se lewens te maak wat hulle toerus vir ’n beter lewe. Dit gee my ook die geleentheid om die verlossingsboodskap van Christus uit te dra.”

Hy het ’n tyd lank, voor sy aanstelling by Bergview College, in die konstruksiebedryf gewerk, maar hy verklaar dat dit nie naastenby soveel vervulling gebied het soos die ontwikkeling van mense, kinders en professionele onderwysers nie.
Tog sou dit juis sekere oudleerders wees wat hom in die sage wat die afgelope paar maande afgespeel het, die seerste sou maak. Die vals uitlatings van sy oudleerders, met wie hy goed oor die weg gekom het, was van die plasings op sosiale media wat hom die seerste gemaak het. Die feit “dat hulle die waardes en beginsels wat ek aan hulle oorgedra het ter syde gestel het ter wille van politieke gewin en gewildheid” het hom diep seer gemaak, verduidelik Pieterse.
Te midde van die storm het Pieterse en sy gesin egter staande gebly. Hy skryf dit toe aan hul geloof, vertroue in “wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het”, God se voorsiening en die mense wat oor hul pad gestuur is om hulle te ondersteun en wat hulle “een dag op ’n slag” deurdra. Die privaatvervolgingseenheid se hoof, adv. Gerrie Nel, asook Vorster en die eenheid se woordvoerder, Barry Bateman, het volgens Pieterse die gesin die afgelope paar maande nie net in terme van die reg bygestaan nie, maar hulle op uiteenlopende maniere ook op ’n persoonlike vlak ondersteun. Hy benadruk ook dat Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wat Pieterse persoonlik ontmoet het en sy ondersteuning en hulp aan hom toegesê het, asook hul vriende en familie wat vir die gesin se veiligheid en in die voorsiening van materiële behoeftes gesorg het, ook ’n groot rol gespeel het.
Hoewel die gebeure Pieterse se vertroue in mense laat skade ly het, is hy ook oorweldig deur die bemoediging wat hulle ontvang het. “Aan die ander kant is ek geskok oor die onvermoë van mense om krities te kan dink en die gemak waarmee hulle blatant kan jok en geweld kan stook.” Hy beklemtoon dat hy ook baie vertroue verloor het in die vermoë van openbare instellings wat die publiek moet beskerm.
Intussen is die Polisieminister se verskoning vir sy foutiewe verklaring, waarin aangevoer is dat Pieterse ’n verdagte in die saak is, ’n klein oorwinning wat volgens Pieterse sal help om die aanslag teen hom op sosiale media teen te staan.
Die gesin se lewe het egter nog lank nie na normaal teruggekeer nie. Die persoonlike boodskappe van woede en haat teen hom het redelik opgedroog, maar daar is steeds plek-plek mense wat op sosiale media sê hy moet gedwing word om sy DNS te verskaf. “Ons bly nog by ’n plek van veiligheid en ek kon nog nie teruggaan werk toe nie. My vrou se gastehuis is nog toe en ons besittings is nog versprei tussen vriende en familie.”
En die pad vorentoe? Dit is nog duister, maar teen middel Mei, ná die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se aankondiging dat hulle nie die saak gaan vervolg nie, omdat daar geen getuienis van verkragting gekry is nie, is daar weer by Pieterse hoop. In ’n boodskap aan die privaatvervolgingseenheid kort nadat hy die nuus ontvang het oor die NVG se besluit, het ’n oorstelpte Pieterse probeer om sy warboel van emosies te beskryf. “Toe ek die nuus kry, het dit gevoel asof hier ’n damwal met alle emosies op een slag loskom,” verduidelik hy. Die hartseer, opgewondenheid, woede oor wat gebeur het en verligting het hom oorweldig. “Maar,” beklemtoon hy, “daar is ’n opgewondenheid om vorentoe te gaan. Om ’n nuwe begin te maak.”
AfriForum-eenheid pak Malema, Gade en Mbalula
Die privaatvervolgingseenheid het in Mei aangekondig dat hulle ook die skool se opsigter, wat soos Pieterse deur die publiek van betrokkenheid by die beweerde verkragting verdink en daarvoor verguis is, gaan verteenwoordig.


Volgens Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, blyk dit nou dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) reeds in November verlede jaar bewus was daarvan dat daar geen vreemde DNS op die vermeende slagoffer gevind kon word nie. Tog is daar daarop aangedring dat Pieterse en die opsigter DNS-monsters moes voorsien. Die opsigter het ingestem omdat hy gehoop het dat die toetse sy onskuld in die saak sou bewys. Bateman hou egter vol dat die SAPD se aandrang op die lewering van DNS-monsters nou duidelik daarop wys dat die proses misbruik is.
Bateman sê dié ongure sage het die staat se skynbare swakheid vir eksterne inmenging in ondersoeke blootgelê, terwyl dit uitsluitlik deur die getuienis in die dossier gelei moes gewees het. “Die enigste redelike afleiding wat ons kan maak, is dat die owerhede toegelaat het dat hulle deur naamlose en gesiglose sleutelbordkrygers geïntimideer is om ’n saak te ondersoek. Dit ten spyte daarvan dat daar, nadat die slagoffer ondersoek is, nie voldoende bewyse van verkragting of seksuele aanranding in die dossier ingesluit is nie. Dit het daartoe gelei dat onskuldige mense in die oë van die publiek skuldig bevind is.”

In die lig van die jongste verwikkelinge het die eenheid herbevestig dat dit daartoe verbind is om aanspreeklikheid te verseker vir die individue wat Pieterse en die opsigter valslik van verkragting beskuldig het. Op 13 Junie het Pieterse die eerste stap gedoen toe hy, vergesel deur die privaatvervolgingseenheid, klagtes van crimen injuria by die Sophiatown- en Boksburg-Noord-polisiestasies aanhangig gemaak het teen Fikile Mbalula (sekretaris-generaal van die ANC), Julius Malema (EFF-leier), Fundile Gade (LUR vir Onderwys in die Oos-Kaap). Mbalula en Malema word ook deur klagtes van die skending van die Wet op Kubermisdade en die Wet op Intimidasie in die gesig gestaar.