Anel Alexander oor Semi-Soet(er) en die toekoms van Afrikaanse films

Deur Carina Bester | Foto’s: Verskaf

“Hierdie is my Semi-Soet-jaar.”

Só sê die aktrise en vervaardiger Anel Alexander nadat die geliefde Afrikaanse fliek Semi-Soet in ’n musiekblyspel omskep is, terwyl die opvolgfliek Semi-Soeter ook tans op Netflix te sien is. Die musiekblyspel was in Mei en Junie op die planke by AfriForum Teater en die kaartjies het soos soetkoek verkoop soos teatergangers weer iets van dié Afrikaanse gunsteling wou beleef.

Semi-Soet – die musiekblyspel was ’n reusesukses.

Volgens haar is dit blote toeval dat die opvolgfliek en die musiekblyspel op dieselfde tyd plaasvind, maar “die twee komplimenteer mekaar”.

“Dit (die musiekblyspel) is eintlik so ’n klein bietjie bisar. Dit is iets wat nooit op die kaarte was nie. Die een groot lekkerte van die musiekblyspel is om regtig ná soveel jare steeds te sien hoe mal mense oor die fliek is. Dit is regtig vir myongelooflik,” verduidelik sy.

Vir haar was dit ’n klein-dogtertjie-droom om ’n musical theatre superstar te word, maar, sê sy laggend, sy het vinnig besef dat sy baie talente het, maar dat sing nie noodwendig haar sterkste talent is nie. Alhoewel Alexander op skool deel was van die destydse Noord-Transvaalse Jeugkoor, het sy hierdie talent eers weer vir die musiekblyspel afgestof.

“Ek is mal oor sing en my loopbaan het aanvanklik met musiekteater begin. Ek het egter mettertyd al hoe meer televisie- en filmwerk begin doen en meer in vervaardiging ingegaan dat daar later nie meer tyd was nie. Dit is eintlik lekker om weer terug te kom na my roots toe en dan om ook op dieselfde verhoog te wees waar ek 22 jaar gelede my eerste professionele werk gehad het.”

Semi-Soeter is nou beskikbaar op Netflix.

Alexander, haar man James, wat in 2023 aan kanker oorlede is, en die res van die Semi-Soet-vervaardigingspan kan met reg as die baanbrekers vir Afrikaanse romantiese komedies beskou word. Hulle het reeds in 2009 aan dié fliek begin werk en dit was uiteindelik ’n treffer toe dit in 2012 in teaters gewys het.

“Toe ons aan die fliek begin werk het, het mense nie regtig geweet wat ons wou doen nie. Om finansies te kry was byna onmoontlik. Dit was regtig ’n uitdaging van astronomiese proporsies om die fliek gemaak te kry. Ek en James het boonop voltyds gewerk, so ons het hierdie in die aande tussen 23:00 en 02:00 gedoen.”

Semi-Soeter is in Junie vanjaar op Netflix bekendgestel en mense in 190 lande oor die hele wêreld heen het nou toegang tot hierdie Afrikaanse fliek. Dit is boonop ook die heel eerste Afrikaanse Netflix-fliek.

Die Alexander-egpaar het ongeveer vyf en ’n half jaar lank in Amerika gewoon. Volgens haar was dit nooit hulle plan om permanent daar te bly nie. Hulle wou gaan om brûe en kontakte te bou en Semi-Soet is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Volgens Alexander sou sy kliphard gelag het as iemand haar voorheen gevra het of hulle ’n opvolg vir Semi-Soet gaan maak. Hulle het egter in 2019 besluit om dit wel te doen nadat die industrie ’n swaar jaar beleef het. “’n Mens maak nie ’n opvolg van ’n romantiese komedie nie, maar ek is half bly ons het dit gedoen. Ek is so trots op die tweede fliek. Ek dink dit het so gegroei en het soveel meer hart as die eerste een. Die Semi-Soet-humor en eg Afrikaansheid is egter steeds daar.”

Kykers wat nog nie die eerste fliek gesien het nie, gaan steeds die tweede een kan geniet, sê sy.

Omdat Semi-Soet deur ’n groep vriende aangepak is, was Semi-Soeter vir haar ’n ongelooflike ervaring. “Dit was uiteraard vir my baie emosioneel, want ons moes ses maande nadat James oorlede is met die verfilming begin. Almal het só ’n pad saam met my en James gestap en dit was regtig asof almal Semi-Soeter gedoen het as ’n huldeblyk aan James. Hulle het my regtig daardeur gedra en ek sal altyd daarvoor dankbaar wees.”

Vir die Alexanders was hul tyd in Amerika rof. Nie net was dit tydens die Covid-19-pandemie nie, maar dit was ook in dié tyd wat James kanker gehad het. Volgens haar is Los Angeles ’n tawwe stad, maar, sê sy, hulle het ongelooflike mense daar ontmoet wat hulle deur baie moeilike tye gedra het. “Op die ou end van die dag mis ’n mens jou vriende en familie die meeste. Dit is iets wat nie sommer weer vervang kan word nie.”

Tog het hulle baie geleer en soveel moontlik probeer reis.

Dit is vir haar belangrik om in Afrikaans te werk. “Ek het al baie oor die wêreld heen gewerk en ook lank genoeg in Hollywood om te weet dat ons mense in Suid-Afrika vir absoluut niks of niemand hoef terug te staan nie. Ons het al die talent in die wêreld.”

Sy is egter opgewonde oor die toekoms, veral as sy terugkyk na hoe die industrie die afgelope 25 jaar gegroei het. Sy is net so opgewonde dat die res van die wêreld danksy Semi-Soeter toegang tot Afrikaanse inhoud gaan hê. “Daar is geen rede waarom die res van die wêreld nie na Afrikaanse inhoud sal kyk nie.”


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad