AfriForum beloon uitblinkertakke met hommeltuigkaste

Deur Petri van der Walt | Foto’s: Carina Bester en Verskaf

Dekfoto ter illustrasie

Petri van der Walt (AfriForum se lugsteunkoördineerder) tydens ’n veiligheidsoperasie.

AfriForum maak reeds ’n geruime tyd lank van gevorderde tegnologie gebruik om buurtwaglede se hande te versterk in die stryd teen misdaad. Die organisasie spog met heelwat hommeltuie en opgeleide vlieëniers in sy buurtwagstrukture en verskeie suksesse is al behaal met die gebruik van hommeltuie tydens veiligheidsoperasies.

Die Gemeenskapsveiligheidsafdeling het vanjaar ses takke geïdentifiseer wat gedurende 2024 groot sukses behaal het met die gebruik van hommeltuie. As erkenning vir hul uitmuntende werk en bydrae tot gemeenskapsveiligheid, is hierdie takke nou versterk met spesiaal ontwerpte hommeltuigkaste.

Hierdie kaste is ontwerp om sowel die hommeltuig as ’n skerm te huisves, wat ’n noodsaaklike hulpmiddel tydens operasies is. Dit dien as ’n magsvermenigvuldiger in die stryd teen misdaad en dra direk by tot die veiligheid van gemeenskappe.

Die hommeltuigkaste speel ’n sleutelrol in operasionele samewerking en verhoog buurtwagte se vermoëns in die veld aansienlik. Dit stel samewerkende rolspelers, soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en sekuriteitsmaatskappye, in staat om operasies direk op ’n groter skerm te volg en vinniger en beter besluite te neem.

Twee takke per streek het hommeltuigkaste ontvang. In die noordstreek is kaste aan die Benoni- en Krugersdorp-tak geskenk, terwyl die Bethlehem- en Brits-tak in die sentraalstreek, en die George- en Port Elizabeth-tak in die suide van die land ook hommeltuigkaste ontvang het.

Benewens hierdie ses takke het die AfriForum-kantoor in die Wes-Kaap en die Malmesbury-tak ook elk ’n hommeltuigkas ontvang om hul vermoëns verder uit te brei.

Deur hierdie versterking kan die takke nou meer doeltreffende operasies saam met die SAPD en sekuriteitsmaatskappye aanpak. Dit skep ’n geleentheid vir beter koördinasie en maak ’n groter impak op misdaadvoorkoming in die betrokke gemeenskappe.

Petri van der Walt (AfriForum se lugsteunkoördineerder) en die Bethlehem-buurtwag se Juandré Gelderblom, Ian van Straaten en Johann Steyn.
Marius Kearns en Pieter Breedt (albei van die Brits-buurtwag), Petri van der Walt (AfriForum), Stephan Roos en Jozua Rossouw (van die Brits-buurtwag).
Riaan Muller (Malmesbury-buurtwag), Petri van der Walt (AfriForum se lugsteunkoördineerder), Johan Crous (AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek), Enrico du Toit (Malmesbury-buurtwag) en Henk Dreyer (Malmesbury-buurtwag).
Gerhard Jansen van Rensburg, Timothy Eachus, Pieter Kindness, Dirk Burger (almal van die Port Elizabeth-tak), Petri van der Walt (AfriForum) en Hannes Oosthuizen (Port Elizabeth-tak).

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad