Debatspanne dink flink, sonder om te sink

Deur Alana Bailey | Foto’s: AfriForum

AfriForum se vlagskipprojek om jongmense se dink- en debatteervaardighede te slyp, die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie, het vanjaar op ’n hoë noot afgeskop. Die kompetisies vir hoërskoolleerders en studente is al deeglik gevestig deur die land, maar op versoek brei provinsiale kompetisies vir laerskoolleerders nou ook vinnig uit.

AfriForum het by die hoërskolekompetisie betrokke geraak omdat die aard daarvan – waar deelnemers werklik op hulle voete moet kan dink, geloofwaardige redenasies blitsig moet kan formuleer en in spanverband saamwerk – ons aangetrek het. Dit bied geen geleentheid vir afrigters om namens die debatteerders toesprake te skryf nie en dramatisering of memorisering gaan ’n span nêrens bring nie. Die debatsonderwerpe vereis boonop dat deelnemers ’n grondige kennis van sake van die dag moet hê.

Deur die jare het AfriForum die bevrediging gesmaak om te sien hoe deelnemers ontwikkel en suksesvolle loopbane bou – onder meer te danke aan die vaardighede wat hulle met Dink of Sink verfyn het!

Die kompetisies spog met ’n webtuiste (www.dinkofsink.co.za) waar besonderhede oor die formaat en deelname beskikbaar is. Belangstellendes kan hier ook na video-opnames van vorige jare se wenners kyk.

’n Nuwe hulpmiddel is ’n gratis gids vir hoërskoolleerders wat deur Nicolene Müller, Dink of Sink se projekkoördineerder, opgestel is. Dit kan van die webtuiste afgelaai word of ’n gedrukte kopie kan op versoek aan voornemende deelnemers voorsien word.

Müller is tans besig met landwye opleiding vir deelnemers en beoordelaars. ’n Soortgelyke gids is reeds vir laasgenoemde beskikbaar.

Volgens haar het AfriForum in 2024 besluit om die kompetisie na laerskole in Gauteng uit te brei sodat graad 6- en 7-leerders ook die geleentheid kan kry om deel te neem.

Vanjaar het dié kompetisie op 7 Februarie by die Hoërskool Montana in Pretoria plaasgevind. Altesaam 55 leerders van vier laerskole, naamlik Laerskool Anton van Wouw, Laerskool Constantiapark, Laerskool Hennopspark en Laerskool Pretoria-Oos, het daaraan deelgeneem. Die jong debatteerders het beïndruk met hul selfvertroue en goed gestruktureerde argumente. Die Laerskool Anton van Wouw se Levi Lombard, Emmi-Faye Butler en Celesté Kempen is as wenner aangewys, terwyl die Laerskool Hennopspark se Tiaan van den Berg, Burger Duvenhage en Reinhardt Rossouw as naaswenner uit die stryd getree het.

Op 14 en 15 April is die eerste van ses Dink of Sink-streeksuitdunne vir hoërskoolleerders ook by die Hoërskool Montana in Pretoria afgehandel. Vanjaar is ’n nuwe mylpaal bereik met die meeste inskrywings wat nóg vir ’n streekskompetisie ontvang is.

Altesaam 291 hoërskoolleerders, verteenwoordigend van 47 junior en 50 senior spanne van 14 skole in Gauteng, het deelgeneem. Die skole is Hoërskool Montana, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Wonderboom, Hoërskool Hartbeespoort, Koster Gekombineerde Skool, Hoërskool Menlopark, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Garsfontein, Hoërskool Oosterlig, Hoërskool Noordheuwel, Helpmekaar Kollege, Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria (AHSP) en Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP).

In die junior kategorie is die Hoërskool Waterkloof se Elzerie Vermaak, Ilanie Grobler en Ivan Louw as wenner aangewys en die AHMP se Hanri Hermann, Neyla Dirker en Carlien Wolmarans as naaswenner. In die senior kategorie is die AHMP se Mikayla de Jongh, Dané van Graan en Anja Botha die wenspan, terwyl Helpmekaar Kollege se Danielle Wilkinson, Thea Kotzé en Emile du Toit tweede geëindig het.

Nou lê die hoërskole se uitdunne in die Oos- en Wes-Kaap, Limpopo, die Vrystaat en Mpumalanga voor, asook die nasionale finale vir hoërskoolleerders en studente. Laasgenoemde bereik vanjaar nuwe hoogtes met Pretoria FM wat naas Akademia as borg betrokke raak.

“Dit is ’n voorreg om te sien hoe Dink of Sink steeds verder ontwikkel en veral om jong sprekers te help groei,” sê Müller.

Navrae oor die kompetisie kan gestuur word na debat@afriforum.co.za.

Hier is die wenners!

Laerskole

Die naaswenner van die laerskole-afdeling in Gauteng is die Laerskool Hennopspark. Agter v.l.n.r. is beoordelaars Nadia de Kock en dr. Gustav von Bratt by AfriForum se Alana Bailey en Nicolene Müller. Voor v.l.n.r. staan Reinhardt Rossouw, Tiaan van den Berg en Burger Duvenhage.
Die wenner van die splinternuwe laerskole-afdeling in Gauteng is die Laerskool Anton van Wouw. Agter v.l.n.r. staan beoordelaars Nadia de Kock en dr. Gustav von Bratt by AfriForum se Alana Bailey en Nicolene Müller. Die wenspan is voor v.l.n.r. Celesté Kempen, Emmi-Faye Butler en Levi Lombard.

Gauteng – hoërskole

Naaswenner van die junior kategorie vir hoërskole in Gauteng. V.l.n.r. is die AHMP se Hanri Hermann, Carlien Wolmarans en Neyla Dirker. Heel regs is Nicolene Müller, Dink of Sink se projekkoördineerder.
Naaswenner van die senior kategorie vir hoërskole in Gauteng. V.l.n.r. is Helpmekaar Kollege se Emile du Toit, Danielle Wilkinson en Thea Kotzé. Heel regs is Nicolene Müller, Dink of Sink se projekkoördineerder.
Wenner van die junior kategorie vir hoërskole in Gauteng. V.l.n.r. is die Hoërskool Waterkloof se Elzerie Vermaak, Ilanie Grobler en Ivan Louw. By hulle staan Nicolene Müller, Dink of Sink se projekkoördineerder.
Wenner van die senior kategorie vir hoërskole in Gauteng. V.l.n.r. is die AHMP se Anja Botha, Mikayla de Jongh en Dané van Graan. By hulle staan Nicolene Müller, Dink of Sink se projekkoördineerder.

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad