
Deur Marthinus Koekemoer | Foto’s: Reint Dykema
AfriForum se jaarlikse gholfdag is op 26 Maart by die Wingate Park-buiteklub in Pretoria aangebied en was oudergewoonte weer ’n groot sukses. Fondse wat op dié dag ingesamel is, sal aangewend word om AfriForum se uiteenlopende selfdoenaksies te help befonds.


Altesaam 100 gholfspelers het aan die dag deelgeneem en meegeding om die pryse. Daar is op oranje as die dag se kleur besluit in nadraai van die sogenaamde Bela-optog wat verlede jaar by die Voortrekkermonument in die Jakarandastad plaasgevind het. By dié optog het mense in ’n see van oranje protes aangeteken teen die gewraakte Bela-wet – oftewel die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys. Oranje was ook die vanselfsprekende keuse nadat Steve Hofmeyr se proteslied “Oranje”, wat AfriForum se eie Kallie Kriel en dr. Dirk Hermann van Solidariteit in samewerking met die musikant Johan Vorster geskryf het, in Februarie bekendgestel is. Om in die ware gees van oranje te kom, het elke deelnemer ’n oranje gholfhemp as geskenk ontvang van BooYaa Golf, die trotse hoofborg van vanjaar se AfriForum-gholfdag.
“BooYaa Golf is trots daarop om saam met AfriForum ’n gholfdag aan te bied wat meer as net sport gevier het. Dit het mense bymekaargebring wat gemeenskap, uitnemendheid en trots waardeer. Ons 2025 Vintage-versameling, insluitend die eksklusiewe tangerien AfriForum-hemp, is ontwerp om daardie waardes vas te vang – identiteit, erfenis en styl. Dit was vir ons ’n eer om deel te wees van ’n geleentheid waar geesdrif en styl mekaar op die gholfbaan ontmoet het,” sê Chantelle van Greune, wêreldwye bemarkingsbestuurder van BooYaa Golf.
AfriForum het tans meer as 300 000 lede, 165 takke en 177 buurt- en plaaswagte. Dié burgerregteorganisasie help om selfstandige gemeenskappe te bou deur onder meer selfdoenaksies aan te pak. AfriForum doen reeds baie, maar wil hierdie aksies nog verder uitbrei. Daarmee saam dryf AfriForum ook nasionale en selfs internasionale veldtogte om ’n groter impak te maak.
Die borge wat die dag moontlik gemaak het, is BooYaa Golf, Hurter Spies Ing., Skuldhulp, Die MOS Inisiatief, Yeet, Werkie en Vectorox.