AfriForum woeker in Bloemfontein

Redaksie en foto’s deur Marthinus Koekemoer

Gebrekkige of geen vullisverwydering, slaggate, vervalle geboue en vuil parke is van die grootste probleme waarmee Bloemfontein se inwoners daagliks sukkel. Dienslewering in die Mangaung-metro het oor die algemeen geweldig agteruitgegaan. Dit het inwoners en ander organisasies gedwing om self in te gryp om dié skip op koers te probeer hou. AfriForum beskou Bloemfontein, met sy groot konsentrasie Afrikaners, as ’n ankerdorp en het al verskeie volhoubare projekte hier van stapel gestuur.

Die vrot waarheid oor vullisverwydering in Bloemfontein

AfriForum se eie vullisverwyderingsvragmotor. In Maart en April het AfriForum se vullisverwyderingspan ’n totaal van meer as 53 ton vullis in Bloemfontein verwyder.

Die stank van gebrekkige dienslewering in Bloemfontein is waarskynlik nêrens meer tasbaar as met vullisverwydering nie. Vullis wat op sypaadjies ophoop omdat die Mangaung-metro dit nie gereeld of glad nie verwyder nie is ’n alledaagse verskynsel. Juis vanweë die agteruitgang in die lewering van dié kritieke diens het AfriForum-lede reeds in 2021 op ’n vrywillige basis begin om vullis te verwyder en teen 2023 is AfriForum se eie volwaardige vullisverwyderingsdiens in dié stad van stapel gestuur. Daar is oorspronklik ’n bakkie met sleepwa ingespan om vullis te verwyder, maar die aanvraag daarna het sedertdien al so toegeneem dat AfriForum vroeër vanjaar ’n vullisverwyderingsvragmotor aangeskaf het om hierdie belangrike diens aan selfs meer huishoudings te kan lewer. In Maart en April het dié vullisverwyderingspan ’n totaal van meer as 53 ton vullis in dié metro verwyder.

Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, kan Bloemfonteiners nooit té gerus wees oor munisipale vullisverwydering nie aangesien die metro nie juis ’n reputasie vir getroue dienslewering het nie. “Ons het besef dat munisipale vullisverwydering enige dag sommer kan stop sonder ’n duidelike raamwerk oor wanneer die diens weer hervat sal word. Vullisverwydering is noodsaaklik om ’n gesonde omgewing te handhaaf,” verduidelik hy.

Groenewald vertel dat vrywilligers reeds in 2021 begin het om vullis te verwyder en toe dit in 2022 duidelik word dat die Mangaung-metro se diens nie gaan verbeter nie, is kontrakteurs aangestel om ’n volwaardige vullisverwyderingsdiens op die been te bring. “Om ’n meer volhoubare diens te bied, het AfriForum later sy eie vullisverwyderingsdiens begin en in Februarie vanjaar het die aanvraag vir diens só uitgebrei dat ons die AfriForum-vullisverwyderingsvragmotor bekom het.”

Te midde van die byna eindelose stryd wat Bloemfonteiners voer vir die lewering van dienste waarvoor hulle maandeliks moet opdok, het AfriForum in Maart vanjaar namens meer as 700 huishoudings in Bloemfontein vir die kwytskelding van die maandelikse vullisverwyderingstarief van die Mangaung-metro gevra. “Die meeste mense in Bloemfontein maak van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik en dit is nie regverdig dat hulle twee keer vir dieselfde diens moet betaal nie. Die metro se verordenings maak voorsiening vir kwytskelding,” verduidelik Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van Gemeenskapstrukture vir die sentraalstreek.

Lambert de Klerk (bestuurder van Omgewingsake by AfriForum), Jaco Grobbelaar (AfriForum-streekshoof vir die sentraalstreek) en Christo Groenewald (AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein).

Grassnyprojekte sit weer die “Bloem” in Bloemfontein

AfriForum se Bloemfontein-takke maak ook op erfenisgebied hul merk met die instandhouding van verskeie monumente en terreine met geskiedkundige waarde in die Vrystaatse hoofstad. AfriForum hou onder meer die grasperke van die Ou Presidensie, die President Brand-begraafplaas en die Brits-monument in stand, terwyl spanne ook die gras in verskeie parke in Rayton-Heuwelsig, Gardeniapark en Pellissier in toom hou.

Bloemfontein kry eie veiligheidsentrum

’n Verdere stap wat AfriForum in Bloemfontein gedoen het om die gemeenskap te dien, is die opening van ’n Gemeenskapveiligheidsentrum (GVS). Hierdie sentrum is die eerste van sy soort vir AfriForum. Dit is op 3 April amptelik geopen en hiermee het dié burgerregteorganisasie weer die voortou geneem om gemeenskappe in Bloemfontein, maar ook die res van die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal ten opsigte van veiligheidsdienste te bedien.

Een van die belangrikste rolle wat die GVS sal vertolk, is om kommunikasie tussen verskeie veiligheidsrolspelers te verbeter. Die sentrum beskik ook oor toegewyde opleidingsfasiliteite vir buurtwaglede, ’n traumakamer wat oornagfasiliteite aan slagoffers van geweldmisdaad bied, ’n hommeltuigvermoë en ’n tegnologies gevorderde beheerkamer wat 24 uur per dag beman word. Dié sentrum dien ook as AfriForum se Bloemfontein-kantoor waar twee reaksievoertuie gestasioneer is en vanwaar die vullisverwyderingspan werk.

Binne die Gemeenskapsveiligheidsentrum se beheerkamer in Bloemfontein.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, bestempel die opening van dié GVS as ’n “reusestap vorentoe” om gemeenskappe te bemagtig om self verantwoordelikheid vir hul toekoms te neem. “Die Bloemfontein-omgewing beskik oor baie sterk AfriForum-buurtwagte. Die plaaslike polisie speel hier ’n rol, asook mediese reaksiespanne en veiligheidsmaatskappye, en hierdie sentrum moet ’n samebindende faktor wees om kommunikasie tussen al hierdie rolspelers te verbeter,” verduidelik Kriel.

AfriForum het tans nege takke in Bloemfontein, elk met sy eie buurtwag, wat reeds groot suksesse behaal. Volgens Raymond Hohls, bestuurder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, is die naatlose skakeling tussen die onderskeie buurtwagte egter noodsaaklik. Daarom word die stigting van ’n streeksveiligheidsnetwerk, in AfriForum-terme bekend as ’n steunkring, nou ook vir Bloemfontein in die vooruitsig gestel.

Dié steunkring sal die hele Mangaung-metro, asook die direkte omliggende gebied dek en sal ’n geïntegreerde benadering tot veiligheid en samewerking oor ’n gebied van nagenoeg 7 000 km2 tussen AfriForum se buurt- en plaaswagte bewerkstellig.

Groenewald sê die publiek speel ’n belangrike rol om veiligheid te verbeter. “Mense wat by ’n buurt- of plaaswag inskakel, speel ’n direkte rol in die verbetering van veiligheid in hul gemeenskap. Buurtwagte help om misdaad te bekamp, skep samehorigheid in die gemeenskap en kweek ’n sin vir verantwoordelikheid onder inwoners.”

Hy beklemtoon dat lede se bydraes van kritieke belang is in die aanskaffing van die nodige toerusting vir buurtwaglede.

“AfriForum se Bloemfontein-strukture bied positiewe en volhoubare oplossings vir die talle uitdagings wat ons gemeenskap daagliks moet trotseer. Deur aktiewe betrokkenheid in veiligheidsinisiatiewe, insluitend die buurtwag en die GVS-beheerkamer wat vinnige reaksie op insidente moontlik maak, dra AfriForum daadwerklik by tot ’n veiliger omgewing. Verder ondersteun volhoubare projekte soos die vullisverwyderingsdiens nie net gemeenskapsgesondheid en netheid nie, maar vul ook die leemtes waar munisipale dienste tekortskiet. Hierdie komponente vorm saam die fondament van ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir almal in Bloemfontein,” sluit Groenewald af.

Raymond Hohls, bestuurder van Gemeenskapsveiligheid (links), en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, tydens die opening van die nuwe sentrum in Bloemfontein.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad