Skote (mevrou) Petoors!

Deur Ilze Nieuwoudt │Foto’s: Verskaf

Dekfoto: Charné Nigrini, Salomé Saayman, Joleen Putter en Danette Schoeman – die eerste vroue ooit om AfriForum se VOLK-skietinstrukteursopleiding te voltooi.

Hy was Lood. Lood Pretorius. Die man wat sy kanon in die Anglo-Boereoorlog op ’n spreekwoordelike tiekie kon rig én raakskiet. Hy het met sy vernuftige kanonvuur homself as ’t ware tydens die Slag van Talana in 1899 in die volksmond ingeskiet en die uitdrukking “Skote Petoors” – wat volgens oorlewering as teken van verwondering vir Lood se kolskote tydens die slag uitgeroep is – leef vandag nog voort. In 2025 het dié uitdrukking ’n nuwe, meer vroulike vorm aangeneem, boonop in dieselfde geweste as Lood se groot skoot. Dié keer is dit egter vier vroue van Vryheid wat as deel van AfriForum se Vrywilligeropleidingskorps (VOLK)- skietinstrukteursopleiding die geskiedenisboeke herskryf het om as die organisasie se eerste vroulike skietinstrukteurs opgelei te word. Hierdie keer kan voorwaar uitgeroep word: Skote mevrou Petoors!

Die vroue van Vryheid in aksie op die skietbaan.

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal, was dit die tragiese gebeure van ’n vriend wat in 2023 in ’n huisroof geskiet is wat ’n groep vroue van Vryheid tot aksie gedwing het. Sowat 45 vroue het daardie jaar hul opleiding in basiese vuurwapenvaardighede onder Van Aswegen se leiding begin.

Charné Nigrini (35), Salomé Saayman (54), Joleen Putter (36) en Danette Schoeman (36) het egter besluit om enduit te gaan en as instrukteurs opgelei te word. Dié span dinamiese vroue, eggenote en ma’s het hul teoretiese én praktiese opleiding aan die begin van Oktober voltooi en is nou slaggereed om hul kennis aan veral ander vroue oor te dra.

Van Aswegen, wat ook AfriForum se veiligheidsopleiding in KwaZulu-Natal hanteer, benadruk dat die waarde van vuurwapenopleiding vir vroue nooit onderskat mag word nie. “Ek weet van insidente waar vroue tydens plaasaanvalle tot die redding gekom het omdat hulle opgelei was in die hantering van vuurwapens. Daarom raai ek dit ten sterkste aan dat veral vroue op plase hulself moet bemagtig en weet hoe om vuurwapens te hanteer.”

En hoewel dié vier vroue se omstandighede en beweegrede vir die onderneming van die opleiding mag verskil, stem hulle oor een ding saam – dié opleiding is ’n waardevolle vorm van bemagtiging en ’n manier waarop beklemtoon word dat vroue lank nie meer die sogenaamde “swakker” geslag is nie. Met hierdie kursus het Nigrini, Saayman, Putter en Schoeman as ’t ware die vrouepioniers geword wat die mag, om hulself en hul gesinne te beskerm, met ywer opgeneem het.

Nigrini, ’n ma van twee jong dogtertjies, woon saam met haar gesin op ’n plaas in die Vryheid-distrik. Sy stel dit duidelik: “As ’n vrou is dit die belangrikste om jouself te bemagtig, en nie net met kennis oor hoe om wapenveiligheid toe te pas nie, maar om ook – indien jy jouself eendag in ’n misdaadsituasie bevind – voorbereid te wees om jou gesin te beskerm en jouself te verdedig.”

Vir Saayman gaan die kennis van vuurwapenhantering vir vroue oor soveel meer as net selfverdediging – dit gaan ook oor bemagtiging en kundigheid; elemente wat in ’n noodsituasie ’n belangrike aanwins is. “Dit leer ons selfvertroue in kwesbare situasies. Dit leer jou ook om te konsentreer en jou emosies onder beheer te kry om kalm en berekend op te tree,” verduidelik sy. Om boonop minder ervare vroue te adviseer en te ondersteun deur haar rol as skietinstrukteur is vir Saayman ’n groot voorreg en ’n praktiese wyse waarop vroue se “vrees vir vuurwapens” in die kiem gesmoor kan word.

In Putter se geval was daar dalk nie ’n vrees vir vuurwapens nie, maar tog ’n vrees dat sy en haar gesin die slagoffer van misdaad kan word. Die vrees van ’n aanval op haar en haar gesin het Putter by tye oorweldig. Sy dra sover moontlik haar handwapen by haar. “Wanneer ek my vuurwapen aan my dra, voel ek veiliger en meer in beheer van my en my gesin se veiligheid. Die gedagte aan ’n potensiële aanval het my voorheen baie paniekerig gemaak, maar ek het besef dat ek nie op ander kan staatmaak om my veilig te hou nie. My man het my gemotiveer om my vuurwapenlisensie te kry en ek moes myself die nodige vaardighede aanleer en hulpbronne gee om myself te beveilig – vandat ek dit gedoen het, voel ek minder angstig,” verduidelik sy.

Schoeman benadruk dat die opleiding haar vertroue in haar eie vermoëns versterk het en dat sy nou weet hoe om in verskillende omstandighede beheer te neem en kalm en ferm besluite te neem. Om boonop as baanoffisier nie net reëls af te dwing nie, maar “om vooruit te dink, potensiële risiko’s raak te sien en professioneel op te tree in elke situasie” was enkele van die belangrikste lesse wat Schoeman in die proses geleer het.

Op ’n lighartige vraag oor of vroue beter skuts as mans is, is Saayman se antwoord ’n onomwonde ja. “Ek dink nie net so nie – ek weet dit!” skerts sy, maar verduidelik dan meer ernstig: “Die vaardigheid om te kan skiet word nie bepaal deur jou geslag nie. Dit word gevorm deur oefening, tegniek, die regte denkwyse en ondervinding. Skiet gaan meer oor selfbeheersing en akkuraatheid as brute krag. Selfvertroue en die vermoë om kalm te bly in kritieke situasies is van kardinale belang en ek glo vroue kan dit net so goed soos mans doen, indien nie beter nie.”

En haar laaste boodskap aan vroue? “Dames, ons kan en ons wil!” En aan mans? “Ons vroue vra nie toestemming om op gelyke vlak te wees nie. Ons is reeds in leierskap en het die vaardighede. Moenie ons vroue onderskat nie. Ons voorouers het nie verniet oor die Drakensberge getrek nie. Die toekoms? Dit word ook deur vroue gebou!”

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad
Skote Petoors_2