
Deur Ilze Nieuwoudt
Suid-Afrika – en meer spesifiek die ANC – se vriendskap met die sogenaamde “muishondlande” van die wêreld het hom aan die begin van 2025 behoorlik ingehaal en die Amerikaanse president Donald Trump laat rooi sien. Dié internasionale supermoondheid het egter etlike jare al kriewelrig geraak oor die Suid-Afrikaanse regering se buitelandse beleid, hul hantering van korrupsie en hul standpunte oor eiendomsreg.
Terwyl die temperature plaaslik opgedruk is, het sake tussen die VSA en Suid-Afrika teen vroeg Februarie kookpunt bereik. In die daaropvolgende maande was daar uitvoerende bevele, klagtes van hoogverraad, uittrapsessies in die kantoor van die Amerikaanse president en vrae oor volksmoord.
AfriForum het hom in dié maande telkens midde-in etlike vuurwarm debatte bevind wat plaaslik en internasionaal oor die Onteieningswet, die Bela-wet, plaasmoorde en die gewraakte “Kill the Boer”-dreunsang gevoer is. Ilze Nieuwoudt bied ’n oorsig oor die aanloop tot en ontvouing van een van die grootste internasionale gebeure wat die kollig vierkantig op die veiligheid en voortbestaan van Afrikaners geplaas het.
Die jare van anti-Westerse standpunte

2008: Die ANC stel voor dat Pretorius- en Schoemanstraat in Pretoria na onderskeidelik Fidel Castro- en Che Guevarastraat hernoem word. Castro en Guevara was die sogenaamde argitekte van die Kubaanse Revolusie.
2018: ’n Voorstel gesteun deur die ANC en EFF word gemaak vir die naamsverandering van Sandtonrylaan. Die Amerikaanse konsulaat is in dié straat geleë en daar is voorgestel dat die straat na Leila Khaledrylaan hernoem word om dié Palestynse vliegtuigkaper te vereer.
2018: Die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Venezuela verklaar dat hy militêre steun aan die Venezolaanse regering sal gee indien die VSA dié land sou aanval.
2018: Die ANC-regering besluit om ondersoek in te stel na die wysiging van artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.
2019: Die regerings van onder meer die VSA en die Verenigde Koninkryk waarsku die Suid-Afrikaanse president dat die versuim om teen korrupsie op te tree pogings om belegging na die land te lok sal belemmer.
2022: Die Lady R-insident vind plaas waartydens dié Russiese vragskip in Simonstad anker om vrag onder die bewaking van gewapende wagte te laai. Dié gebeure het SA se verhouding met Rusland in die oorlog in Oekraïne in die kollig geplaas.
2023: Die Suid-Afrikaanse vloot neem aan die kus van China en Rusland deel aan gesamentlike vlootoefeninge met dié twee lande.
2023: Suid-Afrika lê ’n klag by die Internasionale Geregshof teen Israel – ’n belangrike bondgenoot van die VSA – en voer aan dat dié land skuldig is aan volksmoord teen Palestyne in die Gasastrook.
2024: ’n Wysigingswetsontwerp word by die Amerikaanse kongres ingedien om die VSA se bilaterale verhoudinge met Suid-Afrika te herevalueer.
Wette, wette, wette

13 September 2024 : Pres. Cyril Ramaphosa onderteken die Bela-wet ondanks groot ontevredenheid daaroor van onder meer die burgerlike samelewing.
20 Desember 2024: Ramaphosa onderteken die Onteieningswet. Kennisgewing daarvan word op 24 Januarie 2025 in die Staatskoerant gepubliseer. Dié wet maak voorsiening vir onteiening van eiendom teen nulvergoeding.
Die Trump-bom bars …
2 Februarie 2025: Die Amerikaanse president Donald Trump maak die volgende inskrywing oor Suid-Afrika op sosiale media: “South Africa is confiscating land, and treating certain classes of people VERY BADLY. It is a bad situation that the Radical Left Media doesn’t want to so much as mention. A massive Human Rights VIOLATION, at a minimum, is happening for all to see. The United States won’t stand for it, we will act. Also, I will be cutting off all future funding to South Africa until a full investigation of this situation has been completed!”

6 Februarie 2025: Ramaphosa kondig in sy staatsrede aan dat ’n transformasiefonds ter waarde van R100 miljard ingestel sal word om ondernemings in swart besit te finansier.
7 Februarie 2025: Trump reik ’n uitvoerende bevel uit wat amptelik afkondig dat die VSA steun aan Suid-Afrika onttrek en die hervestiging van Afrikaner-vlugtelinge sal bevorder.
8 Februarie 2025: In reaksie op Trump se uitvoerende bevel hou AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Beweging ’n mediakonferensie om die instellings se standpunt rakende die jongste gebeure uit te lig. Hiertydens stel Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, voor dat die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) – wat die bestaan van Afrikaanse skole en kultuurgemeenskappe bedreig – asook die Onteieningswet gewysig moet word; dat Suid-Afrika terugkeer na ’n neutrale buitelandse beleid; dat die Suid-Afrikaanse regering ’n kulturele akkoord met Afrikaners sluit om kulturele ruimte te bied en vyandigheid teenoor Afrikaners tot ’n einde te bring; dat rassediskriminasie teen Afrikaners en ander minderhede gestaak word; en dat uitsprake wat op haatspraak neerkom (soos die gebruik van die “Kill the Boer”-dreunsang) gestaak moet word.
10 Februarie 2025: Die uMkhonto weSizwe Party (MKP) maak ’n klag van hoogverraad aanhangig teen AfriForum. Die party beweer dat AfriForum Trump mislei het oor grondhervorming in Suid-Afrika en dat dié beweerde misinformasie bygedra het tot Trump se onttrekking van finansiële steun aan die land.

Verandering is nóú nodig, sê AfriForum
25 Februarie 2025: ’n Afvaardiging van die Solidariteit Beweging – bestaande uit Kriel, Flip Buys van die Solidariteit Beweging en dr. Dirk Hermann en Jaco Kleynhans van Solidariteit – vergader in die Withuis in die VSA met senior verteenwoordigers van Trump se administrasie. Die vergadering is daarop gemik om die belange van Afrikaners en Suid-Afrika te bevorder. Die Washington-memorandum word ook tydens die besoek aan politici oorhandig. In die daaropvolgende week vergader die afvaardiging met verskeie Amerikaanse rolspelers en politici.
27 Februarie 2025: Ramaphosa voer by ’n onderwysberaad in Gauteng aan dat AfriForum en die afvaardiging se besoek aan die VSA “verdeeldheid saai” en dat geskille eerder plaaslik bemiddel moet word. Kriel het Ramaphosa hierop gekritiseer en aangevoer dat dit die ANC se leierskap is wat eerder verdeeldheid saai in die land.
3 Maart 2025: Die Direktoraat vir Prioriteitsmisdade (die Valke) kondig aan dat hulle vier klagtes van hoogverraad teen AfriForum ondersoek. Hierop reageer Kriel soos volg: “Daar is eenvoudig géén regsgronde vir die klagtes nie, maar sou die staat besluit om voort te gaan met hul stappe teen AfriForum, sal dit ons punt versterk dat daar ANC-leiers is wat die staatsmasjinerie misbruik om teen ’n deel van die land se gemeenskap te regeer.”

V.l.n.r. Jaco Kleynhans (hoof van internasionale skakeling by Solidariteit), Flip Buys (voorsitter van die Solidariteit Beweging), dr. Dirk Hermann (bestuurshoof van Solidariteit) en Kallie Kriel (uitvoerende hoof van AfriForum)
6 Maart 2025: In ’n debat wat in die parlement gevoer word oor die SA-VSA-verhoudinge, voer die EFF-leier Julius Malema aan dat Trump se optrede net daarop gemik is om Suid-Afrika te straf. Oor plaasmoorde sê hy: “Dit is ’n leuen dat daar plaasmoorde in Suid-Afrika is. […] Dit is inderwaarheid boere wat mekaar om hebsugtige redes vermoor.” Hy het voorts aangevoer dat dit eintlik boere is wat plaaswerkers vermoor.
15 Maart 2025: Ebrahim Rasool, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA, word tot persona non grata verklaar en uit die VSA geskop.
27 Maart 2025: Die Konstitusionele Hof wettig die “Kill the Boer”-dreunsang. AfriForum het die geveg om die dreunsang tot haatspraak te laat verklaar deur middel van ’n jare lange hofstryd voortgesit. “Met die politieke ingang van 1994 is die indruk geskep dat die Grondwet en die Konstitusionele Hof menseregte, insluitend dié van Afrikaners, in beskerming sou neem, maar ná dié skokkende hofuitspraak sien ons dat dit nie meer die geval is nie,” het Kriel ná die hof se uitspraak gesê, en beloof om die kwessie internasionaal te beveg.
1 April 2025: AfriForum kondig aan dat hy die internasionale gemeenskap gaan versoek om persoonlike sanksies teen Malema in te stel weens sy openlike oproepe tot geweld teen Afrikaners en boere.
2 April 2025: Trump kondig die implementering van ’n invoertarief – wat aansienlik hoër is as die meeste ander lande s’n – vir Suid-Afrika aan. Dié sogenaamde “wederkerige belasting” is aan Suid-Afrika en nagenoeg 60 ander lande opgelê weens dié lande se slegte verhouding met die VSA.
3 April 2025: ’n Wetsontwerp word in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers ter tafel gelê wat vra vir geteikende en persoonlike sanksies teen ANC-leiers wat hulle aan korrupsie en die skending van menseregte skuldig maak.
15 April 2025: Nuwe regulasies oor gelyke indiensneming word in die Staatskoerant gepubliseer. Dit bevat egter nie al die bepalings wat ingevolge ’n 2023-skikkingsooreenkoms met Solidariteit by die regulasies van die Wet op Billike Indiensneming ingesluit moes word nie. Van die ooreengekome bepalings wat uitgesluit is, is dat raswette tydelik moet wees en dat werknemers nie op grond van raswette afgedank mag word nie.
11 Mei 2025: Nagenoeg drie maande nadat Trump se uitvoerende bevel voorsiening gemaak het vir hulp aan Afrikaners verlaat die eerste groep van 49 Afrikaners die land om hulle as vlugtelinge in die VSA te gaan vestig.

13 Mei 2025: Tydens ’n besoek aan die Nampo-oesdag buite Bothaville in die Vrystaat beskryf Ramaphosa Afrikaners wat die land as vlugtelinge verlaat het as “lafaards”.
21 Mei 2025: Ramaphosa ontmoet Trump in die Ovaal-kantoor in die Withuis en Trump haal hom oor die kole oor die behandeling van Afrikaners. Trump vertoon ook beeldmateriaal waarin Malema “Kill the Boer” dreunsang en oproepe tot die onteiening van grond maak.
28 Mei 2025: AfriForum voer aan dat Ramaphosa se weiering om die “Kill the Boer”-dreunsang te veroordeel en teen Malema vir die gebruik van die slagspreuk op te tree, neerkom op ’n growwe skending van die Verenigde Nasies (VN) se Volksmoordkonvensie.