Dit is noodsaaklik om altyd goeie rampbestuurmaatreëls in plek te hê, maar in die winter neem die risiko van sekere tipe rampe toe en is dit selfs nóg belangriker om te weet hoe om rampe te voorkom of ten minste die impak daarvan te verminder.
In die droë binneland se landelike gebiede styg die brandgevaar in die winter noemenswaardig. Veldbrande kan makliker ontstaan en vinniger versprei in die droë seisoene. Brande kan op natuurlike wyse ontstaan soos met ’n weerligstraal, maar meer dikwels deur menslike bedrywighede.
“’n Warmer as gewone winter word vir Suid-Afrika voorspel, wat die risiko vir die uitbreek van veldbrande ook hoër as gewoonlik maak. Behoorlike voorsorg is dus belangrik, maar ’n mens moet ook weet hoe om tydens en ná ’n brand op te tree,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.
Voorsorgmaatreëls wat Cooks voorstel sluit in om ontruimingsroetes te ken en om ’n reserwevoorraad van water en persoonlike beskermende toerusting (PPE) byderhand te hou. Sy sê voorts die brandgevaarindeks (BGI) moet daagliks dopgehou word om vroegtydig op dae met ’n hoë risiko op te tree.
“’n Hoë brandgevaar beteken natuurlik nie daar gaan definitief ’n brand uitbreek nie, maar ekstra voorsorgmaatreëls, soos om diere op kraal te hou, is ’n goeie idee. As ’n brand wel sou uitbreek, is dit belangrik om te onthou dat die veiligheid van mense alles anders troef. In dié verband is iets wat maklik agterweë bly kommunikasie. Ingeligte mense het ’n veel beter kans om veilig te bly of om ’n brand te blus,” sê Cooks.
Tydens ’n veldbrand moet die brand so gou as moontlik aangemeld en diere beveilig word. Nóg ’n goeie wenk is om binne die “swart” te bly. Dit verwys na plekke waar die brand reeds gewoed het. Dit is ook belangrik om van ’n N95-gesigmasker gebruik te maak en gehidreer te bly. Ná die brand moet daar opgeruim word. Blus dus gloeiende kole om te verhoed dat die vuur weer opvlam.
Oorstromings kom dalk minder voor, maar hou ook groot gevaar vir mens en dier in. Dit is veral winterreënvalstreke wat tans op die moontlikheid van oorstromings moet voorberei. (Sien die blokkie hiernaas vir wenke om veilig te bly tydens ’n vloed.)
In stedelike gebiede is die voorkoms van huisbrande wat met sonkragstelsels te doen het ’n al hoe meer algemene verskynsel. Alhoewel die nuwe generasie litiumbatterye baie voordele inhou, is daar ook risiko’s wat aan hierdie tipe batterye gekoppel word. Die hoofoorsake van probleme is batterye wat beskadig is, verkeerd gelaai word, swak geïnstalleer is of aan hoë temperature blootgestel word.
“As hierdie tipe batterye aan die brand slaan, genereer dit suurstof wat die brand verder voed. Tradisionele brandblussingsmetodes kan dus nie gebruik word nie. ’n Emmer water sal byvoorbeeld nie veel help nie, want daar sal honderde liters water nodig wees om die brand te blus. ’n Brandkombers wat ontplooi as die batterye aan die brand slaan is ’n goeie manier om dié tipe brand te blus,” verduidelik Cooks.
Batterye wat op hierdie wyse brand, gee gevaarlike walms af en dus word daar voorgestel dat batterye eerder in die motorhuis of ’n buitegebou geïnstalleer word as in die huis. Indien ’n brand sou uitbreek moet die gebou waarin die batterye is toegehou word om sodoende die vuur te smoor. Ontbied onmiddellik die brandweer om die brand te blus.
Voorkoming is natuurlik beter om skade en beserings of meer ernstige gevolge te vermy. Maak dus gebruik van ’n bewese installeerder om jou sonkragstelsel te installeer en te onderhou. Belê in hoëgehalte panele, omskakelaars en batterye, en hou ’n ogie oor jou stelsel se prestasie. As die stelsel se doeltreffendheid ewe skielik daal, kan dit ’n aanduiding wees dat iets fout is en die risiko vir die uitbreek van ’n brand hoër as gewoonlik is.