Van Voortrekkertyd tot vandag: 160 jaar van vriendskap

Deur Ilze Nieuwoudt | Foto’s: Carina Bester en Argief

Dekfoto: Kgosi Gaboilelwe Moroka, kgosi van die Seleka Barolong-kultuurgemeenskap, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, tydens die onthulling van die gerestoureerde monument by die Morokashoek Voortrekkerterrein in Maart vanjaar.

Vir die Seleka Barolong is dié plek, sowat 70 km oos van die hedendaagse Bloemfontein, Thaba ’Nchu – Setswana vir “Swartberg”. Vir die Voortrekkers was dit Blesberg. Sedert bande tussen dié twee volke in 1836 vir die eerste keer gesmee is en die vriendskap in 1865 met ’n verdrag geformaliseer is tot vandag, vertel die verhouding tussen dié Tswana-gemeenskap en Afrikaners ’n inspirerende verhaal van warm vriendskap, ondersteuning in nood en samewerking.

AfriForum en die Seleka Barolong-gemeenskap, onder leiding van kgosi Gaboilelwe Moroka, het in Maart vanjaar 160 jaar van formele bande tussen dié gemeenskappe gevier. Dit is onder meer gedoen met die onthulling van twee gerestoureerde bakens: die Morokashoek-monument wat die verkiesing van die eerste Voortrekkerregering hier in 1836 herdenk, asook die familiebegraafplaas van die Seleka Barolong- koninklike familie.

Thaba ’Nchu: ’n Veilige hawe

Ná die Seleka Barolong onder kgosi Moroka II tydens ’n era van grootskaalse konflik, bekend as die Difaqane (wat beteken “gedwonge migrasie”), deur koningin Mantatisi van die Batlokoa en koning Mzilikazi en sy Ndebele van hul tuiste noord van die Vaalrivier verdryf is, het hulle hul in 1833 by Thaba ’Nchu gevestig. Dié gebied en mense het ook, skaars drie jaar later, vir die eerste groepies Voortrekkers, onder leiding van Louis Tregardt en Hans van Rensburg, ’n veilige hawe op die trek uit die Kaapkolonie gebied. Vir die Voortrekkergroepe wat op die hakke van die Tregardt-trek noord koers gekies het, insluitend die bekende trekgeselskappe onder Hendrik Potgieter, Piet Uys en Gerrit Maritz, was Thaba ’Nchu ’n veilige oorstaanplek.

Die tuiste van die Seleka Barolong-kultuurgemeenskap, Thaba ’Nchu, soos uitgebeeld in ’n boek uit 1852.

Moroka het die Voortrekkers ook in die moeilikste tye ondersteun. Hy het onder meer osse na Potgieter se trekgeselskap gestuur sodat hulle na die veiligheid van Thaba ’Nchu kon terugtrek nadat hulle in Oktober 1836 – na afloop van die aanval op die Voortrekkerlaer by Vegkop, naby die hedendaagse Heilbron – gestrand gelaat is. Die Uys-trek het ook hier in 1837 ’n eerste rietdakkerkie gebou en vir die eerste keer nagmaal buite die destydse Kaapkolonie gehou.

President Jan Brand en kgosi Moroka II

Kgosi Moroka II se opvolger, kgosi Tshipinare.
President Jan Brand van die OVS.

Die goeie verhoudinge tussen die twee kultuurgemeenskappe is in die dekades ná die Groot Trek deur die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS) voortgesit en versterk.

Prof. Francois Venter, latere dekaan van Regte aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en tans buitengewone professor aan dieselfde universiteit, skryf in 1978 in sy LLD-proefskrif: “Die verhouding wat bestaan het tussen die Vrystaatse Republiek en die Barolong van Moroka by Thaba ’Nchu tussen 1854 en 1884 is hoogs interessant. Vir dertig jaar lank was dit ’n internasionale verhouding tussen onafhanklike, wedersyds respekterende state.”

Dit was juis in dié era dat die eerste amptelike verdrag tussen die twee gemeenskappe, op 27 Maart 1865, gesluit is. Die “Tractaat van Alliantie en Bondgenootschap tusschen het Gouverment van den Oranje Vrystaat en Moroka opperhoofd der Barolongs” het volgens Venter ’n oorlogsbondgenootskap, ’n uitleweringsooreenkoms en samewerking in die bekamping van veediefstal behels.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking en Verhoudings by AfriForum, is die persoonlike aard van die leiers van die Vrystaat en die Seleka Barolong onder meer duidelik in ’n boodskap van gelukwensing wat Moroka aan Jan Brand gestuur het nadat laasgenoemde in 1874 vir die derde keer tot president van die OVS verkies is.

Moroka skryf: “Geagte Vriend […] Terwyl ons u en die land hartlik by hierdie heuglike geleentheid gelukwens, maak ons graag van hierdie geleentheid gebruik om erkenning te gee aan u konstante vriendelikheid en sorgsaamheid teenoor ons oor die vele jare heen wat u hierdie verantwoordelike posisie beklee het. Ons is dankbaar teenoor u vir die verlede. Ons sien met vertroue uit na die toekoms met die goeie hoop dat dieselfde begrip in alle diplomatieke verhoudinge met u regering sal voortduur.”

Die historikus H.J. van Aswegen het later ook oor die besonderse verhouding tussen Brand en Moroka geskryf. “Moroka het Brand as sy helper en raadgewer beskou, sonder om hom te onderwerp of sy posisie prys te gee. Daarvoor was hy [Moroka] te veel van ‘n diplomaat en aristokraat.”

Die bande is onder Moroka II se opvolger, kgosi Tshipinare, voortgesit. Op 8 Augustus 1883 is nóg ’n traktaat tussen die Seleka Barolong en die OVS onderteken. Die “Tractaat van Vriendschap en Bondgenootschap tusschen den President van den Oranje Vrijstaat en het Barolong Opperhoofd, Sepinare Moroka” het die vriendskapsbande tussen die gemeenskappe herbevestig, die groepe as oorlogsbondgenote geposisioneer, terwyl dit ook sowel ’n handelsverdrag as ’n verdrag rakende die beweging van mense deur die onderskeie gebiede en samewerking in die bekamping van veediefstal behels het.

In 1884 volg die tragiese moord op die kgosi van die Seleka Barolong, toe Tshipinare deur sy halfbroer vermoor word. Uit vrees dat die Basotho, ’n toenmalige opponent van die Seleka Barolong en die Oranje-Vrystaat, die geleentheid sou uitbuit om beheer oor die gebied te verkry, ontplooi Brand ’n kommando van nagenoeg 1 000 burgers op die Lesotho-grens. Om die saak te besleg, annekseer Brand Thaba ’Nchu op 12 Julie 1884, ’n stap wat ’n einde aan die onafhanklike staat van die Seleka Barolong sou bring.

Volgens Uys het Brand hom daarvoor beywer om so veel as moontlik grond vir die Seleka Barolong behoue te laat bly en daar word uiteindelik ook ’n uitsondering gemaak dat Seleka Barolong-eiendom aan familielede verkoop mag word. “Die Seleka Barolong was ongelukkig en teleurgesteld oor die anneksasie van hul koninkryk, maar die goeie verhouding tussen die Seleka Barolong en die Afrikaners het bly voortbestaan,” verduidelik hy.

Dankbaarheid én vriendskap bly

Die Ereskuldkerk wat in 1932 in gebruik geneem is.

Uys benadruk dat die goeie verhouding wat in die 1830’s reeds tussen Afrikaners en die Seleka Barolong tot stand gekom het, te midde van veranderende tye en regerings deurgaans gehandhaaf is. In 1928 is bouwerk begin aan ’n kerk op Thaba ’Nchu as teken van dankbaarheid vir dit wat die Seleka Barolong in die voorafgaande nagenoeg 100 jaar vir die Afrikaners gedoen het. In 1932 word dié kerk, bekend as die Ereskuldkerk, ingewy.

In 2022 is die verhouding tussen die Seleka Barolong en Afrikaners weer volledig herstel met die ondertekening van ’n wedersydse erkenning-en-samewerkingsverdrag. Dit het gevolg op die ondersteuning wat AfriForum aan die koninklike familie verleen het in ’n regstryd teen Ace Magashule, destydse premier van die Vrystaat, vir die erkenning van kgosi Gaboilelwe Moroka as die regmatige troonopvolger.

Ons neem uit die verlede …

Volgens kgosi Gaboilelwe Moroka, kgosi van die Seleka Barolong-kultuurgemeenskap, is dit  belangrik om die goeie én die slegte van die verlede te onthou. “Dit is baie belangrik dat ons erkenning gee aan ons voorouers wat soveel opgeoffer het om vir ons ’n toekoms te verseker. Ons wil graag die kosbare erfenis en nalatenskap wat ons van hulle ontvang het, in ’n beter toestand aan die volgende geslag oorhandig. Om in die verlede vas te val, gaan nie die groot uitdagings van armoede, gebrekkige voedselsekerheid, werkloosheid en misdaad wat ons in die gesig staar, oplos nie. Daarom haal ons die goeie uit die verlede en benut al die innoverings en vennootskappe wat vandag tot ons beskikking is en fokus ons energie om ’n mooi toekoms vir ons kinders te verseker.”

“Ons voorouers was wys en het verstaan dat samewerking met ander volke noodsaaklik is vir die voorspoedige voortbestaan van Afrikaners hier aan die suidpunt van Afrika. Ons kan kies wat ons uit die verlede neem, en ons kies ook wat ons doen. Mag die mooi uit ons verlede ons ook inspireer om aan te hou glo en werk om voort te bestaan in geregtigheid,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking en Verhoudings by AfriForum.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad