Student tydelik geskors ná hy opstaan vir waarin hy glo
Deur Carina Bester

In ’n wêreld waar ideologieë dikwels op jongmense afgedwing word, het AfriForum Jeug besluit om studente te ondersteun deur aan hulle hul stem terug te gee.

Ronald Peters (AfriForum Jeugbestuurder)
en Shaun Christie.

Daarom het AfriForum Jeug nie geskroom om Shaun Christie, ’n student aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, te ondersteun nie nadat hy aan die begin van die jaar sy reg tot vryheid van spraak gebruik het om op te staan teen die inhoud wat tydens ’n oriënteringsgeleentheid vir eerstejaarstudente bespreek is. Tydens dié sessies is LGBTQIAP+-regte onder meer bespreek en Christie het aangevoer dat studente nie veilig voel om oor Christenskap te praat nie, maar dat gesprekke oor genderkwessies wel toegelaat word.

Dít het tot gevolg gehad dat Christie tydelik geskors is en ná ’n interne gesprek met die NWU se dissiplinêre komitee in Februarie is sy skorsing gedeeltelik opgehef sodat hy sy klasse kan bywoon. Hoewel hy sy akademiese verpligtinge op kampus kan nakom, word hy steeds verbied om aan openbare geleenthede op kampus deel te neem.

Sy dissiplinêre verhoor het op 12 Maart begin en AfriForum Jeug se regspan ondersteun hom tydens dié verhoor waar hy luidens die klagstaat op vyf verskillende klagtes van wangedrag aangekla word. Die universiteit voer onder meer aan dat Christie homself met opset skuldig gemaak het aan “haatspraak deur studente aan te hits om teen die LGBTQIAP+-gemeenskap op te staan”. Hy word verder daarvan aangekla dat hy ’n universiteitsprogram opsetlik ontwrig het; die regte van die spreker van die betrokke sessie, Chloe Valerie van der Walt, geskend het; homself skuldig gemaak het aan vyandige behandeling van die LGBTQIAP+-gemeenskap; en dat hy wederregtelik en met opset ’n vals uitlating rakende die universiteit se beweerde onverdraagsaamheid teenoor Christelike waardes gemaak het.

Christie het vroeër vanjaar aan Forum Nuus gesê hy is ongelooflik dankbaar vir AfriForum Jeug se ondersteuning. “Die organisasie gee werklik om, nie net vir my nie, maar ook vir ander mense van die land. Vryheid van spraak is vir my baie belangrik en dit is ’n grondwetlike reg. Elke persoon het die reg om te luister na wat hulle wil en om te glo waarin hulle glo sonder om dit op ander af te dwing.”

“Wat ons tans op kampusse ervaar is dat die “woke”-ideologie baie sterk gedryf word en dat selfs die universiteite se bestuur dié narratief dryf. Dit wat by die NWU gebeur het, is nog ’n voorbeeld daarvan. Ons ondersteun die beginsel dat universiteite plekke van oop dialoog en verskillende menings moet wees waar studente nie onderdruk, stilgemaak of gestraf moet word vir hul persoonlike oortuigings nie. Hierdie student het geen ander student se regte geskend nie, maar sý reg tot vryheid van uitdrukking is egter geskend en sy reg tot vryheid van assosiasie is van hom en sy medestudente ontneem,” het Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Jeug, gesê.

* Teen druktyd was die dissiplinêre verhoor nog nie afgehandel nie.

Studente aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het in Februarie tydens ’n stille protes hul steun
aan Shaun Christie gewys tydens ’n interne gesprek met die NWU se dissiplinêre komitee.

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad