Sterker gemeenskappe nodig op pad na vryheid en outonomie
Deur Alet Rademeyer

Tydens ’n onlangse leiersberaad sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, die ou Suid-Afrika, 1994 én die nuwe Suid-Afrika is verby. Dit is tyd om aan ’n ander Suidelike Afrika te bou. Dit is onafwendbaar dat die staat al hoe vinniger misluk en dat die sentralistiese ANC-regering al hoe minder in staat is om behoorlik te regeer. Daarmee saam is die realiteit dat Suid-Afrika geografies en demografies onregeerbaar is. Die bevolkingswerklikhede vereis ’n komplekse federale model terwyl die ANC verbete aan mag en sentrale beheer bly vasklou. Dit is binne hierdie realiteit dat die Solidariteit Beweging sy federale plan opgestel het wat ten doel het om te verseker dat Afrikaners as minderheid vinniger vrye ruimtes én tuistes bou om hier te kan bly! Natuurlik ook op die beginsel van vreedsame naasbestaan met ander gemeenskappe in die land.

Die plan bestaan uit sewe bene wat reeds by geleentheid in hierdie tydskrif bespreek is. Ter wille van duidelikheid verwys ons kortliks weer daarna:
• Die bou van gemeenskapsinstellings
• Die uitbou en versterking van ankergemeenskappe
• Pretoria as kulturele kanton
• Groeiende outonomie vir die Wes-Kaap
• Orania: Van dorp tot stad
• ’n Netwerk van kultuur- en ander gemeenskappe
• Internasionale netwerke

AfriForum fokus tans veral op gemeenskapsfederalisme waar die bou van instellings en die versterking van ankergemeenskappe baie aandag kry.
Om gemeenskappe sterker te maak moet instellings wat wyer as AfriForum strek egter ook betrek word ten einde almal se volle energie en krag te ontsluit. Op praktiese vlak is ’n loodsprojek aan die gang om ’n gemeenskapsforum in Centurion-Wes te stig. Op dié forum dien ’n verskeidenheid instellings wat skole, kerke, sakelui, ondernemings en ander gemeenskapsorganisasies verteenwoordig. Die idee van ’n gemeenskapsforum is nie om eie vermoë te ontwikkel nie, maar om groter samewerking en koördinering tussen bestaande instellings teweeg te bring sodat gemeenskappe daardeur sterker kan wees. Sodra die loodsprojek tot ’n ware bloudruk verfyn is, sal dit ook in ander ankergemeenskappe gevestig word.

Waarom die fokus op gemeenskapsinstellings en die versterking van gemeenskappe?
Vir Afrikaners om as gemeenskap in die toekoms te oorleef en te kan voortbestaan, is ’n gesonde kulturele ekosisteem nodig.
Die voorwaarde vir voortbestaan is dat Afrikaners moet konsentreer en kulturele vryheid moet hê. Dit vind beslag in skole, kolleges, buurtwagte, universiteite, maatskaplike dienste, burgerregte, werksnetwerke, behoorlike munisipale dienste en die media.

Terwyl daar reeds groot vordering in terme van “eie instellings” gemaak is soos met AfriForum se buurtwagte, Sol-Tech, Akademia, AfriForumTV, AfriForum Teater, Helpende Hand, die SOS Wolkskool en baie ander, word nie nagelaat nie om waar moontlik steeds met ander instellings saam te werk soos Afrikaanse openbare skole, ouetehuise, privaat sekuriteitsmaatskappye en ander privaat instellings.
Buys het onlangs gesê die federale plan word nie “teen” die staat, regering of grondwetlike bedeling opgestel nie. Groter gemeenskapsfederalisme is noodsaaklik in die lig van die voortgaande staatsverval. Dit is ’n wettige en oorwoë plan en daar bestaan grondwetlike ruimtes wat daarvoor benut kan word.
En soos Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gereeld sê: “Ons gaan nie die ANC se toestemming vra om te doen wat ons doen nie, want hulle gaan dit in elke geval nie gee nie. Ons bou self om later die erkenning te kry.”


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad