Só praat jonges ’n hond uit ’n bos uit

Deur Nicolene Müller | Foto’s: Alden van Heerden en Dian Jordaan

In die wêreld van woorde en idees is debat ’n kuns wat leerders help om hul stem te vind en die uitdagings van die toekoms met selfvertroue te hanteer. Afrikaanse debat in Suid-Afrika speel ’n kritieke rol, nie net in die bevordering van die taal nie, maar ook in die vorming van jong geesdriftige denkers wat eendag die leiers van ons land sal wees.

Die doel van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is om debat in Afrikaans op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n kernvaardigheid wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree.

Die StudentePlein-span van die Universiteit Stellenbosch het koning gekraai in die universiteitskategorie. Van links na regs is Alana Bailey, Wian van Rooyen (StudentePlein), Neelsie van Dyk (StudentePlein), Ignus Ferreira (StudentePlein), Righardt Pretorius (StudentePlein), Nicolene Müller en Kallie Kriel.

Afrikaanse debat help ook om leierskapvaardighede te ontwikkel. Leerders leer hoe om respek te toon vir ander se standpunte, terwyl hulle hul eie standpunt met passie verdedig. Hulle raak meer ingelig oor die wêreld rondom hulle en die sosiale en politieke kwessies waarmee Suid-Afrika te kampe het. Hierdie breër perspektief berei hulle voor om ingeligte burgers te wees wat hul gemeenskappe kan beïnvloed en positiewe verandering kan aanbring.

In ’n land soos Suid-Afrika waar diversiteit en verskillende menings soms spanning kan veroorsaak, bied debat ’n platform waar jongmense leer hoe om konflik met dialoog en begrip te hanteer. Dit is ’n vaardigheid wat hulle in die werksplek, hul gemeenskappe en in hul persoonlike verhoudings kan toepas.

Met een laerskolekompetisie, ses provinsiale uitdunrondtes vir hoërskole, vier uitdunrondtes vir universiteite en twee nasionale finale, het AfriForum se Dink of Sink-span in Oktober 2024 ’n suksesvolle debatsjaar afgesluit.

2024: ’n Jaar propvol kekkel, dink én sink

Die 2024-debatseisoen het reeds in Februarie afgeskop met die eerste Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir laerskoolleerders waarin graad 6- en 7-leerders behoorlik geskitter het. Altesaam 42 laerskoolleerders het vanjaar aan hierdie nuwe afdeling van die kompetisie deelgeneem en die Laerskool Anton van Wouw van Pretoria is uiteindelik gekroon as 2024 se grootste grootpraters op laerskoolvlak.

Die Laerskool Anton van Wouw het die eerste plek opgeraap in die eerste Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie wat in 2024 vir laerskole aangebied is. Agter van links na regs is Carien Bloem, Nicolene Müller, Alana Bailey (almal van AfriForum) en die gesoute beoordelaar dr. Gustav von Bratt. Voor van links na regs is die span van die Laerskool Anton van Wouw (Emmi-Faye Butler, Celesté Kempen en Levi Lombard).
Die Laerskool Pretoria-Oos se debatteerders het
die tweede plek opgeraap in die kompetisie se
laerskolekategorie. Hulle is Daniel de Waal, Emma
Roos en Gert van der Walt.

Na afloop van die ses rateltaai provinsiale uitdunne in Gauteng, Limpopo, die Vrystaat, Mpumalanga, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap, het die topsesspanne in die junior en senior kategorie deurgedring na die nasionale finaal wat op 5 Oktober in Centurion gehou is.

In die junior kategorie, vir graad 8- en 9-leerders, het die Hoërskool Nelspruit, Merensky Landbou Akademie (MLA), die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP), die Hoërskool Durbanville, die Hoërskool Jim Fouché en die Hoërskool Framesby mekaar die stryd aangesê. Die topses- senior spanne was die debatteerders van Helpmekaar Kollege, Paul Roos Gimnasium, die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje, MLA, die Hoërskool Pearson en die Hoërskool Nelspruit.

AHMP het as die wenners in die junior kategorie uit die stryd getree, terwyl Helpmekaar Kollege in die senior kategorie koning gekraai het.

Die Hoërskool Durbanville, naaswenners in die junior kategorie vir hoërskole, se Cayla Fourie, Lucah Vorster en Saskia Cloete.
Die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, wat in 2023 naaswenners in dieselfde kategorie was, het in 2024 soete oorwinning gesmaak in die junior kategorie vir hoërskoolleerders. Hier is dié wenspan (van links na regs: Lientjie Steyn, Anabelle Swanepoel en Kiki Butler) by Nicolene Müller (AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys, links), Alana Bailey (AfriForum se hoof van Kultuursake) en Kallie Kriel (uitvoerende hoof van AfriForum).
Die Hoërskool Nelspruit se Rosemarie Oberholzer, Brenton Eastes en Nina Prinsloo het vir dié Laeveldse skool ’n tweede plek ingepalm in die senior afdeling van die hoërskoolkategorie van 2024 se Dink of Sink-kompetisie.
Helpmekaar Kollege, wat in 2021 die wenners én naaswenners in die senior kategorie vir hoërskole was, het hul sukses in hierdie afdeling voortgesit en hul pad oopgepraat om as nasionale wenners aangewys te word. Die span is Danielle Wilkinson, Emile du Toit en Thea Kotzé.


’n Totaal van 543 hoërskoolleerders – 86 junior en 95 senior spanne – het aan die afgelope Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie deelgeneem.

Op universiteitsvlak het Dink of Sink ook die studente van Akademia, die Universiteit van Pretoria (UP), die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Universiteit Stellenbosch (US) aan die dink en praat gehad. Uitdunrondtes is op elkeen van dié onderskeie universiteite se kampusse aangebied waaraan 64 studente deelgeneem het. Die nasionale finaal vir universiteite is op 28 September gehou, waartydens StudentePlein van die US as wenspan gekroon is en die span van die NWU as naaswenners aangewys is.

In 2025 dink en sink ons voort!

Die Dink of Sink-span is opgewonde om in 2025 weer hande te vat met ons gasheerskole, mediavennote en borge om die kompetisie op laerskool-, hoërskool en universiteitsvlak aan te bied.

Intussen groei die belangstelling in hierdie unieke debatskompetisie ook in Namibië. AfriForum se span het reeds vroeër in 2024 nege skole in dié buurland besoek om plaaslike deelnemers en beoordelaars touwys te maak en is nou hoopvol om op hierdie verhouding met Afrikaanse debatteerders voort te bou.  

“Afrikaanse debat is veel meer as net ’n skoolaktiwiteit; dit is ’n lewensvaardigheid wat jong leerders bemagtig om krities, selfversekerd en empaties te wees. Deur debat leer hulle om hul eie idees en dié van ander met respek te hanteer, en dit berei hulle voor vir sukses in hul akademiese, professionele en persoonlike lewe. In ’n veranderende Suid-Afrika is dit van onskatbare waarde om jongmense met hierdie vaardighede toe te rus, sodat hulle die uitdagings van die toekoms met wysheid en selfvertroue kan aanpak.” – Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad