Hier volg ’n verkorte weergawe van die Afrikaner Verklaring. Die volledige verklaring is beskikbaar by www.afrikanerverklaring.co.za. Voeg jou stem by deur die verklaring aanlyn te onderteken.
1. Afrikaners is ’n inheemse kultuurgemeenskap verbind aan Afrika
Ons het nie as Afrikaners na Afrika gekom nie. Ons voorouers het eeue gelede uit verskillende Europese lande hiernatoe gekom, maar ons het hier Afrikaners geword. Ons taal en kultuur is inheems aan Afrika en nêrens anders nie. Ons het onsself, ons taal en baie van ons instellings na Afrika vernoem. Afrikaners is ’n selfgedefinieerde kultuurgemeenskap – ’n volk – en nie bloot ’n taalgroep of ’n rassegroepering nie. Deur Afrikaans het ons ook ’n taalverbintenis met die meerderheid bruin Suid-Afrikaners, asook met ’n beduidende aantal mense uit ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe.
2. Ons wil hier bly en bydra tot die welstand van die land en al sy mense
Ons is daarvan oortuig dat daar ’n toekoms vir ons hier is. Daarom wil ons die omstandighede help skep dat Afrikaners volhoubaar en voorspoedig hier kan bly. Dit sal ons in staat stel om ’n blywende bydrae tot die welstand van ander gemeenskappe te kan maak.
3. Samewerking is in die belang van almal se vryheid, veiligheid en voorspoed
Ons glo dat daar meer dinge is wat die land se gemeenskappe verenig as wat ons verdeel. Al deel ons nie altyd dieselfde sienings nie, deel ons kernbelange soos ’n werkende land en ’n gesonde samelewing waarin almal die geleentheid het om ’n beter toekoms te bou. Ons is enersyds verbind tot die bou van ’n hegte gemeenskap onder Afrikaners en andersyds tot die uitbou van bande met al die gemeenskappe van Suid-Afrika om só ’n voorspoedige lewe vir almal te help bewerkstellig.
4. Ons bou om te bly
’n Kultuurgemeenskap leef in en deur die instellings wat vir sy voortbestaan benodig word en waardeur sy kultuur aan die volgende geslagte oorgedra word. Daarom bou ons aan ’n kulturele infrastruktuur, leefruimtes, tuistes en instellings om hier in Suid-Afrika te kan bly.
5. Kulturele vryheid is ’n voorwaarde vir demokratiese vryheid
Die land se getallewerklikhede beteken dat ons lewens op elke gebied deur die demografiese meerderheid oorheers sal word as ons nie kulturele vryheid het nie. Demokratiese vryheid kan slegs bewerkstellig word indien kulturele vryheid as ’n noodsaaklike voorwaarde vir ons voortbestaan verseker word. Kulturele vryheid is ’n voorwaarde vir ons moedertaal, Afrikaans, om as ’n volle funksionele taal voort te bestaan. Ons wil deur interne kulturele outonomie en inspraak in die owerheid verseker dat ons blywende demokratiese kulturele vryheid kan geniet.
6. Ons onderskryf die gelykwaardigheid van alle gemeenskappe
Ons onderskryf die gelykwaardigheid van alle gemeenskappe as die grondslag vir ons almal se deelname aan die groter mensdom. Ons sien onsself gelyk aan en nie bo of onder ander gemeenskappe nie. Ons is geregtig op dieselfde regte, ruimtes en bevoegdhede as ander kultuurgemeenskappe, en dit sluit ’n kulturele gebied in.
7. Die verlede moenie ons almal se toekoms vernietig nie
Ons erken die komplekse verlede en die nalatenskap van historiese konflik wat deels steeds voortleef. Ons betreur ook die feit dat inspirerende historiese voorbeelde van samewerking tussen gemeenskappe in Suid-Afrika vandag grootliks vergete is. Tog mag die verdelings van die verlede nie op so ’n manier voortgesit word dat dit ons almal se toekoms vernietig nie. Daarom moet ons bou op die historiese voorbeelde van samewerking wat tussen gemeenskappe bestaan eerder as om te bly vaskyk teen die geskiedenis van konflik.
8. Die Grondwet erken die strewe na grondgebied
’n Wesenlike deel van Afrikaners steun die demokratiese ideaal van interne kulturele outonomie in Suid-Afrika. Daar is ook ’n betekenisvolle groep wat ingevolge die republikeinse tradisie die standpunt huldig dat kulturele vryheid sonder grondgebied sonder gronde is. Spesiale kulturele sones met ’n geografiese basis kan ’n deel van die oplossing hiervoor wees, byna soos die kulturele gebiede van ander gemeenskappe in die land.
9. Eenheid in verskeidenheid
Ons glo dat die erkenning van verskeidenheid die beste manier is om nasionale eenheid te bevorder. Dit is die sleutel tot eenheid in verskeidenheid. Ons steun nie die idee dat versoening afhang van die aanvaarding van ANC-beleid nie omdat só ’n eis grondliggend ondemokraties sal wees en die gelykheid en menswaardigheid van mense sal aantas.
10. Owerheidsinspraak
Afrikaners word tans uitgesluit van openbare en kulturele inspraakstrukture, soos die erkende instellings van tradisionele gemeenskappe byvoorbeeld is. Daar moet kanale geskep word waardeur Afrikaners op nasionale vlak inspraak kan kry in sake wat ons gemeenskap en die land raak.
11. Ekonomiese bemagtiging
Dit is noodsaaklik dat die armoede, werkloosheid, misdaad en die dergelike ander ernstige maatskaplike knelpunte wat die land teister, beslissend aangepak word. Afrikaners wil graag ’n bydrae lewer tot die ekonomiese bemagtiging van arm mense.
12. Kultuurverdrag
’n Kultuurverdrag kan ’n kanaal vir skakeling met die owerhede skep om knelpunte betyds te takel, ooreenkomste daaroor te bemiddel en vertroue te herstel en op te bou. Só ’n verdrag behoort as minimum vereiste die bestaande kulturele regte en ruimtes in die Grondwet en internasionale reg te herbevestig. Ons vind aansluiting by die ruimte wat die Grondwet bied en ook by internasionaal gevestigde konvensies wat regte aan kultuurgemeenskappe verleen en verpligtinge op state plaas. Dít sluit in die reg van ’n kultuurgemeenskap om te bestaan; die reg op instellings waarin en waardeur hulle kan leef en waar kultuuroordrag kan plaasvind; die reg op die ontwikkeling van kulturele gebiede; en die vrystelling van onbillike rassebepalings wat die uitoefening van hierdie regmatige strewes kan dwarsboom.