Selfversekerd, skeppend en lewenskragtig

Deur Barend Uys – hoof van Interkulturele Samewerking en Verhoudings by AfriForum

Afrikaners woon wydverspreid oor ’n baie groot gebied en ook tussen ander volke – dit is ons samelewingswerklikheid. Ons het nie die luukse om nie dié werklikheid in ag te neem nie, daarom bedink ons planne met ons voete op die grond en met ons oë positief en hoopvol opgeslaan na die toekoms – en veral ons Hemelse Vader.

Ons as Afrikaners wil graag vry, veilig en voorspoedig in vreedsame naasbestaan met die ander volke hier aan die suidpunt van Afrika leef. Ons geslag het ook die voorreg en plig om ’n plan te maak om dié historiese vraagstuk oor vreedsame naasbestaan op te los.

AfriForum volg ’n benadering van skeppende vernuwing gegrond op beproefde waardes en ervaring. Dit beteken dat ons gaan leer uit ons geskiedenis, dat ons getrou bly aan ons Christelike waardes en dan oorspronklike oplossings skep en in werking stel.

Wat sê die bron van ons waardes oor ons verhoudings met ander? In Romeine 12:18 staan daar: “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”

Ons voorouers het goed verstaan dat ’n mens nie in permanente konflik met buurgemeenskappe kan leef nie. Hulle het dit op die harde manier tydens die grensoorloë op die oosgrens van die Kaapkolonie geleer.

Die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter skryf in Desember 1838 aan die goewerneur van die Kaapkolonie:“Ons het eerstens kaptein Danser aangetref en met hom vrede gesluit; tweedens vir koning Moroka, met wie ons ook vrede gesluit het; derdens die Baster-kaptein Pieter Davieds, met wie ons ook vrede gesluit het; vierdens koning Sekonyela, met wie ons ook vrede gesluit het; vyfdens met kaptein Makwana, met wie ons ook vrede gesluit het.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum en die Zoeloekoning Misuzulu KaZwelithini tydens ’n herdenkingsgeleentheid wat op 18 Oktober 2024 vir die voormalige Zoeloekoning, koning Dinuzulu (1868–1913), op die plaas Rietfontein (KwaThengisangaye) buite Middelburg in Mpumalanga gehou is. Dié geleentheid is deur koning Misuzulu as die begin van formele gesprekke oor samewerking met die Afrikanergemeenskap bestempel.

Hy skryf verder:“En die ondersteuning wat Moroka en Sekonyela aan ons gebied het, was nie op ons versoek nie; maar dit was uit hul eie vrye wil omdat hulle ook op so ’n wreedaardige en bloeddorstige wyse deur Mzilikazi verniel is.”

Die Voortrekkers kon vir koning Mzilikazi verslaan juis omdat hulle die hulp van ander volke soos die Barolong en die Batlokoa gehad het.

Wanneer ons dus werk om goeie verhoudings met ander kultuurgemeenskappe te bou en saam te werk, is ons nie besig met iets nuuts nie – ons voorouers het dieselfde gedoen; en dit is ook getrou aan ons waardes.

AfriForum se afdeling vir Interkulturele Samewerking en Verhoudings is besig om ’n netwerk van kultuurgemeenskappe te bou as deel van die Solidariteit Beweging se Ons sal self-plan. Ons doen dit prakties deur wedersydse erkenning-en-samewerkingsooreenkomste met kultuurgemeenskappe te sluit en dan met die gemeenskappe saam te werk oor sake van gedeelde of spesifieke belang en om gemeenskapselfstandigheid te bevorder.

Anders as in die 1800’s is ’n oorweldigende meerderheid van die inwoners van die land vandag Christene. Ons glo en aanbid nie noodwendig presies dieselfde nie – maar ons deel geloof in die drie-enige God. Ons kan mekaar dus ook ondersteun as medegelowiges.

Ons word nie gedryf deur haat vir iets of iemand nie; en ook nie deur vrees nie. Ons optrede spruit uit liefde – ons word gedryf deur ’n diep liefde vir die eie. Ons tree egter ook in ware liefde op teenoor ander volke, omdat ons hulle alles gun wat ons onsself gun en omdat ons nie onsself wil bevoordeel ten koste van ander nie.

As ons sê “Ons sal self”, dan bedoel ons dat ons gemeenskapselfstandigheid kies as alternatief tot staatsafhanklikheid. Dit is nie teen ander gemeenskappe gerig nie, maar teen die mislukkende bestel. Ons besef dat ons ander gemeenskappe nodig het om ons te help om die ruimte te skep waarin ons almal selfbestuur kan toepas en kan gedy. Daarom sê ons: “Ons sal self, maar nie alleen nie.”

N.P. van Wyk Louw skryf in die 1952-opstel “Kultuur in Krisis”: “Gestel dat ’n volk ‘tussen die engtes’ ingekom het – vind dat hy hom op lewe en dood moet verdedig –; hy span alle stoflike en politieke kragte in, behoed en brei sy geestelike, tegniese, intellektuele besit uit, doen alles wat hy kan, om te bly voortbestaan … Dan kom hy voor die laaste versoeking: om te glo dat blote voortbestaan verkieslik is bo die voortbestaan in geregtigheid. […] belangriker is dit om te sê dat daar seker geen volk is wat nie op een of ander tyd so gesondig het nie; en belangrikste van alles is dit om te weet dat die versoeking die bestendige versoeking is wat vir elke volk in die woestyndae inwag – dat dit die grootste, die byna mistieke krisis is waarvoor ’n volk te staan kan kom. Ek glo dat op ’n vreemde manier dit die krisis is waaruit ’n volk herbore, jonk, skeppend, te voorskyn kom, hierdie ‘donker nag van die siel’ waarin hy gesê het: Ek sal liewer ondergaan as deur ongeregtigheid bly voortbestaan.”

Soos in die tyd van ons voorouers, staar ernstige uitdagings tans ook Afrikaners in die gesig. Die nuwe Onderwyswet (Bela) is maar een voorbeeld daarvan. Om bloot voort te bestaan, om te oorleef, is egter nie vir ons goed genoeg of waarvoor ons werk nie. Ons werk om voort te bestaan in geregtigheid, om voluit te leef.

Ons wat die voorreg het om by AfriForum betrokke te wees, beleef hoe ons volk, al die uitdagings ten spyt, selfversekerd, skeppend en lewenskragtig na vore tree om ’n toekoms vir ons kinders te verseker – getrou aan wie ons is, in geloof en in geregtigheid.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad