Deur Ilze Nieuwoudt │Foto’s: Reint Dykema
Dekfoto: Kgosikgolo Kgafela Kgafela II, kgosikgolo van die Bakgatla Ba Kgafela
“Wanneer spinnerakke saamspan, kan dit selfs ’n leeu vaskeer.” Dié ou Afrika-gesegde uit Ethiopië word al geslagte lank in die volksmond oorgedra om die waarde van vriendskappe in die konteks van dié lieflike kontinent te beskryf. Elkeen wat sy voete in Afrika geplant het, kén van leeus en die skynbare broosheid van ’n klein agtpotige gedierte se spindraad.
AfriForum begryp dat vriendskappe – waar gemeenskappe mekaar respekteer en saamwerk om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms in die land te bou – onontbeerlik is. Saam kán kultuurgemeenskappe nie net mekaar versterk nie, maar ook teenstand bied waar onreg dreig om die oorhand te kry. Om dié rede is die geskiedkundige erkennings- en samewerkingsooreenkoms wat AfriForum en die Bakgatla Ba Kgafela-kultuurgemeenskap op 26 Junie 2025 in Kaapstad gesluit het, so belangrik.

Vandag se vriendskap bou môre se voorspoed
Dié ooreenkoms is daarop gemik om die bevordering van kulturele outonomie, gemeenskapselfstandigheid, landbouontwikkeling en die bewaring en versterking van kulturele identiteit tussen dié kultuurgemeenskappe te bewerkstellig.
“Die ondertekening van hierdie erkennings- en samewerkingsooreenkoms tussen ons onderskeie gemeenskappe is baie betekenisvol, veral in ag genome ons verlede van konflik en spanning,” verduidelik kgosikgolo Kgafela Kgafela II, kgosikgolo van die Bakgatla Ba Kgafela in Botswana en Suid-Afrika. “Dié wat die Bakgatla Ba Kgafela en die Afrikaners haat, het lank reeds hierdie historiese oomblik gevrees. Dit is waarlik ’n historiese gebeurtenis wat haatdraendes voortaan irrelevant gaan maak in ons lewe. Dié wat haat, staan vandag afgesonder, terwyl die wêreld toekyk hoe ’n pragtige hoofstuk van liefde voor hul oë ontvou.”
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, meen dat die regering se pogings om Afrikaners en AfriForum te isoleer nie sal slaag nie en dat die vriendskapsbande wat gesmee word en floreer wys dat talle gemeenskappe in die land, ondanks hul uiteenlopende kulture, almal ’n voorspoedige toekoms nastreef. “Die regerende elite het die land se mense, en minderbevoorregtes in die besonder, gefaal. Ons het daarom ’n verantwoordelikheid om in die belang van die huidige en die volgende generasies iets te doen. Ons is nie uitgelewer aan die regering nie – ons het ’n roeping en vennote in alle gemeenskappe wat kan toesien dat ons dié kwessies takel,” verduidelik hy.
Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking en Verhoudings by AfriForum, bring die ooreenkoms “genesing, herstel en hoop” en is dit ook die “begin van ’n uitdagende reis met blye vooruitsigte”.
Uys het tydens die ondertekeningsgeleentheid gewys op tragiese oomblikke in dié kultuurgemeenskappe se gedeelde verlede. “Vandag reik ons egter ons hande na mekaar uit en verbind ons daartoe om op die grondslag van wedersydse erkenning en respek saam te werk om die reuseuitdagings wat ons generasie moet trotseer, die hoof te bied.”
Wie is die Bakgatla Ba Kgafela?
Die Bakgatla Ba Kgafela, ’n multinasionale kultuurgemeenskap met setels in Suid-Afrika en Botswana, is verenig onder die leierskap van kgosikgolo Kgafela Kgafela II. Dié kultuurgemeenskap is in Suid-Afrika veral bekend vir hul ryk platinumdraende grondgebied in die omgewing van die Pilanesberg Nasionale Park in Noordwes. Dit is in dié gebied waar die meerderheid van die Bakgatla Ba Kgafela se sowat 350 000 Suid-Afrikaanse lede in 32 dorpies woon.
Die gedeelde verlede van Afrikaners en die Bakgatla Ba Kgafela het nagenoeg 189 jaar gelede – in 1836 – begin. Die twee kultuurgemeenskappe se leiers van daardie tyd, kgosi Pilane en Andries Hendrik Potgieter, het goeie onderlinge verhoudings en samewerking gevestig om die uitdagings van daardie tyd te trotseer. In die generasies wat daarop gevolg het, het ’n komplekse sameloop van omstandighede en besluite die verhoudings tussen die twee kultuurgemeenskappe egter laat versuur en uiteindelik laat verbrokkel.