Redakteursbrief

Ilze Nieuwoudt – redakteur

My pa, ’n ewige en ywerige storieverteller, skerts dikwels dat feite nie in die pad van ’n goeie storie moet staan nie. Sy bedoeling is opreg en beslis nie van toepassing op enige joernalistieke, aktuele of historiese inhoud nie (as joernalis sidder ek nog elke keer ’n bietjie as sy stories so begin!). Tog lê daar aan die hart van dié sêding waarmee ek en my sibbe grootgeword het, sy kinderlike liefde vir ’n lekker (en telkens tot my ma se frustrasie) lang storie.

Ons is per slot van sake mense en die gebruik om stories oor te vertel is al so oud soos die mensdom self. Lank voor stories in 30 sekonde-videogrepe of pittige meems deur die onsigbare wêreld van die internet gestuur is, het mense gewoon byeengekom en stories oorvertel. Op dié manier het lesse wat die ouer garde geleer het, die kennis van ’n volgende generasie geword en het die band wat tussen generasies bestaan, vorm aangeneem. Die stories is soms krom en skeef of uit ’n ander hoek gesien soms blink en kosbaar, maar deur die jare vorm ons stories en vorm die stories ons.

AfriForum vier in 2026 ’n volle twee dekades van veg en bou. Ons veg vir dit wat goed en mooi is en bewaar moet word, maar ons bou ook nuut en brei uit. AfriForum se jaartema vir 2026 – “Ons is gemeenskapsbouers” – het my opnuut laat dink oor dit wat ons bou.Wat is ’n gemeenskap dan? En hoekom wil ons en moet ons daaraan bou?

Die Britse navorser Toby Lowe, wat sy PhD in politieke teorie onderneem het oor die term “gemeenskap”, definieer dit as “’n groep mense wat ’n identiteitsvormende narratief deel”. Dit is te akademies na my sin, maar in ’n artikel uit 2021 sit hy sy navorsing in gewone taal uiteen. Volgens hom is die kern van ’n gemeenskap ’n gedeelde storie. Daar is as ’t ware ’n gedeelde identiteit in ’n gemeenskap, iets wat sê ek is nie alleen nie, ek is deel van iets groter as net myself.

Hierdie “deel wees” van iets is hoekom ons opgewonde raak om Afrikaans uit die mond van ’n vreemdeling te hoor wanneer ons in die vreemde reis. Dit is hoekom ek kan saam kla oor agteruitgang in die land, maar erg besitlik raak as ander my tuisdorp en sy mense slegsê. Of hoekom dit so kosbaar is om te weet dat jou voorouer aan die of daardie slag in die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het. Sonder dat ons dit werklik besef is ons deel van hierdie storie – die storie wat van Afrikaners hier aan die suidpunt van die reuse-Afrikakontinent gebou word. Waar ons bou vir nou én môre.

AfriForum is hier in die tyd wat ons leef, ingeweef in dié bouverhaal van Afrikaners. Saam bou ons aan skoner dorpe en stede wat werk (lees meer hieroor hier en hier); ons bou saam met skole en kerke aan gesonde, florerende gemeenskappe (sien hier); ons bou netwerke waar sakelui hul kennis kan deel (lees hieroor hier); en ons bou aan ’n gemeenskap van Afrikaners wat in die buiteland woon en werk (lees hieroor op hier). AfriForumTV en die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie bou aan Afrikaans deur vermaak en kritiese debatvoering (lees hieroor hier en hier) en ons bou aan verhoudings met ander gemeenskappe, bou ’n veiliger toekoms en bou aan ’n land waar wet, orde en geregtigheid seëvier.

Ons stories bou saam aan dié verhaal wat ons as Afrikaners vorm en deel maak van die “bouprojek” van ’n veilige toekoms. Lekker lees (en belangriker nog, skryf saam) aan dié stories.

1 Korintiërs 3:10–11: “Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ’n goeie bouer die fondament gelê, en ’n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan ’n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.”

Groete

Ilze

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad
Redakteursbrief_Ilze Nieuwoudt