Ek het onlangs weer na die video Die 1914 Rebellie en Bart Nel gekyk. Hoe aangrypend is die verhaal nie vandag nog van ’n boer wie se onblusbare gees hom in staat gestel het om die verwoesting en verlies van sy plaas ná die oorlog en die verlating deur sy vrou en familie te verwerk nie?
Bart rebelleer teen die “verkeerde”. Hy staan op teen die besluit van die Louis Botha-regering om burgers op te roep om Duits-Suidwes-Afrika binne te val nadat Groot Brittanje oorlog teen Duitsland verklaar het. Baie van die burgers het nie kans gesien om aan die kant van die Geallieerdes te veg nie. Die verdrukking onder die Britte en die lyding tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) was immers nog in baie se geheue vasgebrand.
Ons gebruik grondwet-like ruimtes en wetge-wing tot ons beskikking om staatsverval te keer en ’n nuwe werklikheid op die grond neer te sit.
Bart verklaar: “As ek nie hierteen rebelleer nie, dan wil ek nie meer my naam hê nie. Dan wil ek nie Bart Nel wees nie …”
Ja, ek dink dit is hoe baie Afrikaners en ander landsburgers vandag oor die ANC-regering voel en die chaos en duisternis waarin hulle die land gedompel het …
Die Rebelle het bitter swaar gekry.
Bart sê in ’n stadium dat die manne maar moet huis toe gaan: “Sê vir hulle dis verby …”
Hy bring vyf jaar in die gevangenis deur. Maar deur dit alles bly hy staande en bly hy die hardkoppige, eiesinnige realis en doener. Hy bly sterk in sy oortuigings en leef dit uit. Daarom ag, respekteer en bewonder só baie mense hom.
Dit is ook Bart wat as ’n vry man verklaar: “Ons gees van vryheid en onafhanklikheid is nie dood nie …”
Bart begin van voor af om ’n plaas op te bou. Hoeveel van ons voorouers moes nie telkens weer oor begin nie? Weliswaar is Bart alleen, maar onverskrokke verklaar hy: “My kry hulle nooit nie. Ek is Bart Nel van toe af en ek is nog hy.”
Byna 110 jaar later sien ek elke dag baie Bart Nelle in aksie. Baie van hulle woeker as vrywilligers in AfriForum se takke en buurtwagte en ons is trots op wat hulle vermag. Ander Bart Nelle werk agter die skerms en bou aan Afrikaner-instellings wat ons mense hoop, vooruitsigte en ’n toekomsvisie bied.
Die werklikheid vandag is dat ons soos Bart Nel in “opstand” teen die swak regering en geen dienslewering gekom het. Nie “opstand” in die ware sin van die woord nie. Nee, ons mense se uitgangspunt is net dat dit nie help om vir die ANC te wag nie én dat ons nie hul toestemming nodig het om dinge vir onsself te maak werk nie.
Ons gebruik grondwetlike ruimtes en wetgewing tot ons beskikking om staatsverval te keer en ’n nuwe werklikheid op die grond neer te sit. Natuurlik is ons nie naïef om te dink ons kan die hele land red nie, want ons het nie die staat se inkomste om dit te doen nie.
Daarom berus die Solidariteit Beweging se federale plan op sewe bene wat ontwikkel en uitgebou moet word om by groter selfstandigheid, outonomie en vryheid uit te kom. Dit is die bou van eie instellings, die versterking van ankergemeenskappe, Pretoria as kulturele kanton en die ontwikkeling van Orania van dorp tot stad. Groeiende outonomie vir die Wes-Kaap en groter samewerking met Afrikaners in die buiteland en ander kulturele gemeenskappe in die land is ook belangrik.
Maar, soos Flip Buys sê: Die sukses van dié plan sal egter deur Afrikaners se eie doelgerigtheid en energie bepaal word. Die spoed waarteen outonomie op talle vlakke gebou word, sal deur Afrikaners se ondersteuning en samewerking en saambou bepaal word.
Daarom is die oproep in hierdie uitgawe van Forum Tydskrif weer: Raak betrokke. Die verwagting is nie dat almal van ons met al die planne moet saamstem nie. Daarom is die Beweging se benadering een van “volksveelheid” waar jy kan help met dit waarmee jy saamstem sonder om dit waarvan jy nie hou nie teen te staan. As die opvoeding van ons volk se kinders jou na aan die hart lê, dra dan by om die nuwe Akademia-kampus te bou waarvoor R2 miljard nodig is! As ’n skoner omgewing jou gemoed beter maak, help dan in jou dorp om ’n tuinspan te ondersteun of self bome te plant en gras te sny. Daar is so baie Afrikaners met kundigheid, vaardighede, talente, idees en natuurlik ’n roeping! Nou is jou geleentheid om op te staan en ’n bydrae te lewer om jou gemeenskap sterker te maak. Deut. 15:10
Jy moet aan hom gewillig gee en jou hart moenie bedroef wees as jy aan hom gee nie; want ter wille hiervan sal die Here jou God jou seën in al jou werk en in alles waar jy jou hand aan slaan.