Onteieningswetsontwerp kan privaat eiendomsbesit kelder
Deur Carina Bester

Die ANC probeer al jare lank om onteiening sonder vergoeding deur te voer. Nadat dié party in 2021 onsuksesvol was met die wysiging van artikel 25 van die Grondwet toe hulle nie ’n tweederdemeerderheid stemme in die parlement kon kry nie, is ’n nuwe Onteieningswetsontwerp op die tafel geplaas.

Die Onteieningswetsontwerp [B23-2020] maak die onteiening van enige eiendom moontlik en is dus nie net beperk tot grond nie, maar sluit alle roerende eiendom soos ’n persoon se besittings, asook onroerende eiendom soos geboue en huise in.

Dit plaas eiendomsreg in die land in gedrang en kenners voorspel dat dit rampspoedige ekonomiese gevolge vir die land sal inhou. Volgens dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, is die reg op privaat grond- en eiendomsbesit een van die belangrikste hoekstene van ’n vryemarkstelsel.

“Hierdie wetsontwerp is niks anders nie as onteiening sonder vergoeding en bring alle eiendomsbesit in die gedrang. Dit beteken dat niemand in Suid-Afrika meer kan aanspraak maak op die alleeneienaarskap van sy of haar besittings nie aangesien die staat op ’n diktatoriale wyse enige besitting na goeddunke kan onteien. Die VF Plus beskou onteiening sonder vergoeding as ongrondwetlik,” sê Groenewald.

AfriForum is sedert die Onteieningswetsontwerp die eerste keer die lig gesien het daarteen gekant en het deurgaans aan al die openbaredeelnameprosesse deelgeneem.

Die Nasionale Vergadering (NV) het die wetsontwerp in Maart vanjaar aanvaar met 205 stemme ten gunste daarvan en 108 stemme daarteen. Die finale besluit oor dié vernietigende wetsontwerp berus nou by pres. Cyril Ramaphosa.

Daarom het AfriForum se regspan vroeër vanjaar ’n skrywe aan pres. Ramaphosa gestuur waarin daar versoek word dat die wetsontwerp na die NV teruggestuur word sodat die grondwetlikheid daarvan heroorweeg kan word.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, is privaat eiendomsreg van uiterste belang. “Enige wetsontwerp wat hierdie fundamentele reg bedreig, moet by elke geleentheid teëgestaan word. Hierdie wetsontwerp gaan nie landsburgers verryk nie en is vol leë beloftes.”

“Hierdie wetsontwerp skep vir die staat die geleentheid om enige eiendom sonder vergoeding te onteien. Dit is dus net nog ’n geleentheid vir korrupsie,” aldus Van Zyl.

“Die ANC moet die boodskap hard en duidelik verstaan: Staatsgoedgekeurde diefstal van eiendom sal nie geduld word nie. Indien Ramaphosa die wetsontwerp bekragtig, sal AfriForum beslis een van die eerste organisasies wees wat die regering hof toe sleep,” verduidelik Van Zyl.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad