‘Ons werk vir ons dorp en gemeenskap’

Deur Carina Bester

In die hartjie van die Waterberg-distrik lê die pragtige Bosvelddorp Mookgophong (Naboomspruit). Hier weet inwoners hoe belangrik ’n gemeenskap is wat saamstaan en -werk.

Die wenner van AfriForum se plattelandse tak van die jaar. Van links is: Ben van Aswegen, Hendrik Kotzé, Charl Heymans, André van der Schyff, Chris Theron, Gideon Jansen van Vuuren en Willem van Deventer.

Die harde, vrywillige werk wat die AfriForum-tak in hierdie dorp verrig het, het gesorg dat hulle tydens AfriForum se driejaarlikse nasionale kongres wat in Augustus gehou is, weggestap het met die toekenning as AfriForum se plattelandse tak van die jaar. Hierdie toekenning word aan ’n tak toegeken wat ondanks hul grootte nie terugstaan vir enige probleem of projek in die dorp nie.

Dié tak het reusewerk in die dorp verrig en elke stopteken in die dorp vervang. Verder het hulle die straatnaamborde vervang en sementblokke wat die straatname bevat op die sypaadjies aangebring, asook al die voetoorgange en padmerkers in die dorp oorgeverf.

Die dorp het ook minder slaggate danksy hierdie flinke span aangesien hulle maandeliks slaggate opvul.

“Een van die grootste goed vir my is dat ons nie eenmalige aksies het nie. Ons werk aanhoudend en dit is waar ons sukses lê. Dit gaan altyd vir ons oor die dorp en ons gemeenskap.”

Die dienste wat die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit lewer is gebrekkig, veral wat instandhouding betref, sê Van der Schyff. “Die munisipaliteit sukkel om die inwoners se vullis te verwyder en die vullisterrein is ook ’n groot kopseer.”

Daarom het die tak ingespring om te help om vullis te verwyder wanneer dié diens nie gelewer word nie. Die tak en Zero Waste, ’n privaatvullisverwyderingsdiens, het vroeg in September ingespring en meer as 800 sakke vullis verwyder toe die munisipaliteit se vullistrokke onklaar geraak het.

Verder het hulle ook twee noodwaterpunte in die dorp opgerig waarvan inwoners tydens wateronderbrekings gebruik kan maak.

Van der Schyff se raad aan ander takke is: “Begin met vrywilligers wat bereid is om aanhoudend te werk. Moenie net een keer ’n groot projek aanpak nie, werk eerder aan volhoubare projekte wat ’n blywende verskil gaan maak.”


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad