In ’n wêreld waar elke Jan Rap en sy maat met ’n selfoon in die hand opinies opdis as feite en groot vrae binne ’n minuut of selfs minder probeer beantwoord, raak dit al hoe moeiliker om feit van fiksie (of blootweg fopnuus) te onderskei. Die nuwe nuusprogram AfriForum maak so vul die gaping tussen die TikTok-manie wat die tyd waarin ons leef kenmerk en uitgebreide dokumentêre nuusprogramme. Hierdie ondersoekende nuusprogram bied nuus wat AfriForum-lede direk raak en sal voortaan kwartaalliks op AfriForumTV beskikbaar gestel word.
Die gesoute AfriForum-joernaliste Carina Bester en Marthinus Koekemoer is verantwoordelik vir AfriForum maak só se inhoud en tree ook as aanbieders op. Gesamentlik het Bester en Koekemoer nagenoeg 30 jaar se ervaring in die mediawêreld in onder meer gemeenskapsjoernalistiek, dagblaaie en mediaskakeling. Vandag is albei senior joernaliste by AfriForum en andersins ook verantwoordelik vir daaglikse berigte en nuusinsetsels oor veral AfriForum se werksaamhede vir die instelling se nuusplatform Forum Nuus (dié inhoud is beskikbaar op AfriForum se webtuiste), asook Forum Tydskrif wat twee keer per jaar aan lede versprei word.
Volgens Koekemoer is AfriForum maak só daarop gemik om meer ondersoekende nuusstories aan kykers te bring. Bester voeg by: “Ons wil met AfriForum maak só meer volledig verslag doen oor onder meer probleme in die land en by inwoners self hoor hoe munisipale probleme hulle daaglikse doen en late beïnvloed.”
Bester hou egter vol dat die doel nie net is om aan kykers ’n dieper blik op die uitdagings te bied nie, maar om ook raak te sien dat daar “wel hoop vir die toekoms is omdat organisasies soos AfriForum en sy taklede hard werk om sake te verbeter en oplossings te vind”.
Die eerste program is onlangs vrygestel. Hierin stel Bester ondersoek in na die toenemende diensleweringsprobleme in die Hoëveldse dorpie Bethal, geleë in die sukkelende Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit in Mpumalanga. Dit plaas ook die fokus op die werk wat AfriForum in dié dorp doen en hoor by inwoners self watter verskil AfriForum se noodwaterpunt hier maak om verligting te bring wanneer krane op hierdie dorp telkens leegloop. Koekemoer het vir dié program met adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, gesels oor dié eenheid se ontstaan en werk.
Die AfriForum maak só-span beoog om in die toekoms kwessies soos korrupsie, swak dienslewering en sake van AfriForum se privaatvervolgingseenheid te belig.
Oor waarom dit nodig is om ’n AfriForum-eie ondersoekende nuusprogram die lig te laat sien stel Koekemoer dit duidelik. “Daar is stories wat deesdae net nie meer dekking in hoofstroommedia geniet nie, maar dit is steeds belangrik dat hierdie stories vertel word. Ja, ons kyk met ’n AfriForum-bril na die wêreld en ons veg onbeskaamd vir Afrikanerregte, maar deur dié program en dit wat ons deur Forum Nuus dek, staan ons – soos die res van AfriForum – op vir Afrikaners en ander minderhede in Suid-Afrika se regte.”
Vir Bester is die behoefte aan eie media in AfriForum ook noodsaaklik “sodat daar volledig verslag gedoen kan word oor alles wat die organisasie doen. Dit is ook belangrik om die storie van mense op grondvlak te kry. Die regering laat die land se mense in die steek en daarom is dit nodig om swak bestuur en wanadministrasie uit te wys.”
Kyk hier na die eerste episode van AfriForum maak só.