Afrikaners is plesierig, al jare lank. Ons hou van partytjies en feeste – alles van ’n bruilofsfees tot taalfeeste. Dink maar aan die taalfeeste van ouds. In 1959 het die land feesgevier onder die tema “Die wonder van Afrikaans”. Monumente is opgerig en selfs die Engelse dagblad Rand Daily Mail se plakkate in Mei daardie jaar het verklaar: “Vandag praat ons Afrikaans.”
In 1975 is Taaljaar gevier om die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) 100 jaar tevore, asook die 50 jaar sedert die erkenning van Afrikaans as amptelike taal te vier. In dié jaar is fakkels uit elke uithoek van die land en selfs die destydse Suidwes-Afrika en Rhodesië aangedra na die Paarl. Op Pêrelberg is die Afrikaanse Taalmonument daardie jaar ingewy. Die land en sy mense was aan die praat en feesvier.
Ons staan weer midde in ’n feesjaar. Afrikaans is gemaak, geskaaf en gebou en is in 2025 reeds 100 jaar lank ’n amptelike taal. Daar is nou amper meer rede om die jong taal se mylpale te vier as destyds. Afrikaans word tans van alle kante geteiken. Of dit nou deur wetgewing soos die nuwe Onderwyswet (Bela) is, of deur magsbehepte politici wat eentalige skole (lees: Afrikaanse skole) teiken om te verengels, of die illusie dat Afrikaans g’n waarde het nie en dat Engels in die wêreld van werk noodsaaklik is.
Tog, ten spyte van dié uitdagings groei Afrikaans steeds.
Die Prediker se bekende woorde oor die gepaste tyd vir alles kom onwillekeurig by my op in dié tyd. Ja, daar is ’n tyd om te bou en ’n tyd om af te breek. Daar is ’n tyd om te huil en ’n tyd om te lag. So is dit ook met Afrikaans. Dis as ’t ware die twee sye van die “Afrikaanse munt”. Ons moet nou bou aan ons taal, terwyl ons die mure wat ons wil verdeel, afbreek. Ons moet huil oor die aanvalle teen ons taal, maar juig oor die oorwinning wat elke dag in en vir Afrikaans behaal word.
In hierdie uitgawe van Forum Tydskrif vier ons Afrikaans 100 in dankbaarheid. Ons vier die taal, die mense wat dié taal uitleef se prestasies en vier die wyse waarop AfriForum Afrikaans bevorder. Ons vier leiers wat sonder skroom elke dag kies om in Afrikaans te leef en werk. Ons treur (terwyl ons veg) oor die planne om Afrikaans in ons skole te verskraal. Ons bou aan Afrikaans op skole en span kragte saam met ander kultuurgemeenskappe om die waarde van moedertaal ook daar te help koester.
Die skrywer NP van Wyk Louw het eens verklaar dat die vervanging van Hollands met Afrikaans ’n broodsaak was – dus terselfdertyd noodsaaklik én broodnodig. Mag die beskerming van Afrikaans te midde van uiteenlopende druk vir ons in hierdie feesjaar ook ’n broodsaak wees.
Lekker feesvier en lekker lees!
Wen in Afrikaans met Forum Tydskrif
Ter viering van Afrikaans 100 gee Forum Tydskrif twee geskenkpakke, gevul met lekkerlees- Afrikaanse boeke, ter waarde van R600 elk weg. Al wat jy moet doen om in aanmerking vir hierdie prys te kom, is om in ’n kreatiewe stemboodskap te verduidelik waarom jy lief is vir Afrikaans. Stuur ook jou naam, van, ouderdom en die naam van jou tuisdorp of -stad saam met jou stemboodskap voor 30 April 2025 per WhatsApp na 066 103 6499 en jy kan die gelukkige wenner van een van hierdie geskenkpakke wees.