Deur Ilze Nieuwoudt
Mark Kuys, ’n veiligheidskenner met sowat 40 jaar ervaring in die bedryf, kén die onderwêreld. Sy stip kyk verklap dat niks dié man se blik ontglip nie, veral nie wanneer dit by veiligheid kom nie. In ’n aanlyn onderhoud met dié gesoute spesialis wat voorheen as AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid in die suide van die land werksaam was en hom deesdae by die burgerregteorganisasie toespits op die takeling van een van dié grootste internasionale misdade, mensehandel, word dit duidelik dat Kuys die donkere waarheid van mensehandel ken én diep verag.
Met rede, want mensehandel is, volgens Kuys, deel van ’n multimiljarddollar- internasionale industrie en naas dwelmhandel dié grootste onwettige bedryf ter wêreld. Statistiek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) toon dat nagenoeg 11 100 gevalle van mensehandel tussen Desember 2007 en Januarie 2022 by die SAPD aangemeld is. Kuys benadruk dat die volle omvang van hierdie misdaad nie gemeet kan word nie juis omdat dit in die geheim plaasvind, oor internasionale grense strek en daarom veel meer omvangryk is as wat polisiestatistiek toon. Navorsing oor mensehandel in KwaZulu-Natal spesifiek wat vroeg in 2024 in ’n internasionale vaktydskrif gepubliseer is, voer aan dat daar op enige gegewe tydstip wêreldwyd sowat 12,3 miljoen slagoffers vasgevang is in die netwerk van mensehandel en dat minstens 1,2 miljoen hiervan kinderslagoffers is. Die skokkende werklikheid is dat Suid-Afrika nie net by hierdie netwerk ingesluit is nie, maar ook as aktiewe sentrum of deurgangspunt vir hierdie euwel dien.
Navorsing oor mensehandel in KwaZulu-Natal spesifiek wat vroeg in 2024 in ’n internasionale vaktydskrif gepubliseer is, voer aan dat daar op enige gegewe tydstip wêreldwyd sowat 12,3 miljoen slagoffers vasgevang is in die netwerk van mensehandel en dat minstens 1,2 miljoen hiervan kinderslagoffers is.
Mensehandel in Suid-Afrika
Volgens Kuys is AfriForum sedert die begin van 2024 geaffilieer met die National Freedom Network, ’n netwerk van organisasies wat in baie sektore van die samelewing werk aan die bekamping van mensehandel in Suid-Afrika. AfriForum se fokus op mensehandel word nou as noodsaaklik geag omdat dié soort misdaad “deel is van die bedreiging teen ons gemeenskappe” en inskakel by die burgerregteorganisasie se oorkoepelende fokus op die beskerming van gemeenskappe.
“Omdat mensehandel wêreldwyd en in Suid-Afrika toeneem, is dit vir AfriForum noodsaaklik om sy lede en die publiek bewus te maak van die bedreiging en risiko’s wat daarmee gepaard gaan,” verduidelik Kuys.
Kuys waarsku dat die toename in kinders wat spoorloos verdwyn een van die vernaamste wysers op ’n toename in mensehandel in Suid-Afrika is. Statistiek van die niewinsgewende organisasie Missing Children South Africa (MCSA) toon dat hoewel sowat 77% van kinders wat as vermis in Suid-Afrika aangemeld word weer gevind word, die oorblywende 23% óf dood gevind word óf nooit opgespoor word nie óf slagoffers van mensehandel word. Ietwat verouderde polisiebronne (uit 2013) voer aan dat een kind elke vyf ure in Suid-Afrika vermis raak. Boonop wys statistiek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se eenheid vir vermiste persone dat ’n totaal van 49 346 volwassenes en 14 252 kinders jonger as 18 jaar vanaf Januarie 2000 tot Desember 2015 vermis geraak het. Hiervan was 23 803 volwassenes (48%) en 3 957 kinders (sowat 28%) teen 2016 steeds vermis.
Hoewel Suid-Afrika goeie wetgewing het en nog verdere riglyne ontwikkel om mensehandel te bekamp, waarsku Kuys dat die afdwing en toepassing daarvan nog gebrekkig is. Die gebrek aan doeltreffende polisiëring in Suid-Afrika maak van die land ’n plek waar misdadigers hierdie misdaad baie makliker kan voortsit. Dit noodsaak daarom ’n aktiewe en doelgerigte poging om deur middel van voorkomingstrategieë gemeenskappe te bemagtig met kennis oor mensehandel, potensiële lokvalle en kwesbaarhede uit te wys en sodoende te keer dat weerbare individue die slagoffer van mensehandel word.
Hoe verskil mensehandel van ontvoering?
Volgens die Verenigde Nasies se kantoor vir dwelmmisbruik en misdaad (UNODC) word mensehandel geag as die “werwing, vervoer, verskuiwing, huisvesting of inontvangsneming van mense deur middel van dwang, bedrog of misleiding met die doel om hulle vir gewin uit te buit”.
Navorsing wat prof. Beatri Kruger, mensehandelkenner van die Sentrum vir Menseregte aan die Universiteit van die Vrystaat, in 2022 onderneem het, wys daarop dat hoewel daar etlike verskille tussen abduksie (abduction), menseroof (kidnapping) en mensehandel (human trafficking) bestaan, daar ook heelwat oorvleueling en verbande tussen die drie misdrywe is.
Abduksie, soos dit in wetgewing omskryf is, is onder meer die onwettige verwydering van ’n minderjarige sonder sy of haar ouers se toestemming met die opset om met die minderjarige te trou of seksueel te verkeer. Abduksie en menseroof oorvleuel in baie opsigte.
Daarenteen verwys menseroof, oftewel ontvoering, op “die wederregtelike en opsetlike ontneming van enige natuurlike persoon se vryheid van beweging en/of die verwydering van ’n kind onder 18 jaar uit sy of haar ouer of voog se beheer sonder dié se toestemming”, luidens Kruger.
Die Suid-Afrikaanse Wet op Mensehandel 7 van 2013 kriminaliseer mensehandel en volgens internasionale standaard kan mensehandel op verskeie metodes – insluitend abduksie en menseroof – gepleeg word, maar is uniek in die opsig dat dit gedoen word met die doel om slagoffers uit te buit.
Maar wat is mensehandel dan eintlik?
Die vele gesigte van mensehandel
Volgens Kuys kan meer as ’n dosyn soorte mensehandel onderskei word en sluit hierdie misdaad onder meer dwangarbeid, gebonde arbeid (ook bekend as knegskap of skuldslawerny), gedwonge kinderarbeid, onwettige aanneming, seks- en mutihandel, sekstoerisme waarin kinders uitgebuit word, orgaanhandel, gedwonge huwelike met minderjariges en gedwonge bedelpraktyke in. Hoewel elkeen van hierdie soorte mensehandel tans in Suid-Afrika voorkom, is sekshandel verreweg die mees omvangryke soort wat plaaslik gepleeg word en word daar geskat dat nagenoeg 80% van alle vorme van mensehandel in Suid-Afrika tans een of ander vorm van sekshandel insluit. Sommige vorme van mensehandel is boonop meer geografies gebonde aan sekere streke, soos byvoorbeeld die gebruik van kindersoldate wat, hoewel nie plaaslik nie, elders in Afrika ’n omvangryke probleem is.
Só lyk die slagoffers
Om ’n akkurate, oorkoepelende profiel van mensehandelslagoffers op te trek, is ’n bykans onbegonne taak. Aangesien die soorte mensehandel uiteenlopend is, sal misdadigers se “voorkeurslagoffers” ook noemenswaardig verskil.
Tog bied kennis wat reeds oor plaaslike mensehandelslagoffers ingesamel is, uiters waardevolle inligting waarop potensiële slagoffers bedag moet wees. Kuys benadruk dat kwessies soos werkloosheid, armoede, gebrekkige gemeenskapsveiligheid, politieke en ekonomiese onstabiliteit, die hoë voorkoms van geweld teen vroue en kinders, asook laer opvoedingsvlakke die ideale ruimte vir mensehandelaars bied om hul misdaadbedryf te voed.
Sosiale media en mensehandel
In ’n era waar sosialemediagebruik rekordhoogtes bereik en toegang tot tegnologie die gebruik selfs verder stimuleer, is mensehandelaars se werwingspotensiaal byna oneindig. Sosialemediaplatforms soos Facebook en Instagram word daarom toenemend ingespan om potensiële slagoffers van mensehandel te identifiseer, te teiken, stelselmatig in te lok (oftewel te groom) en uiteindelik toe te slaan.
Kuys hou vol dat die gebruik van sosiale media en beloftes van werksgeleenthede dikwels ingespan word om plaaslike slagoffers te werf. Kinders se weerhouding van inligting aan hul ouers oor verdagte kontak op sosiale media skep boonop ’n verdere risiko. Hy moedig ouers daarom aan om kinders oor die risiko’s van sosiale media as werwingskanaal vir mensehandel in te lig. Kinders so jonk as laerskoolouderdom word reeds, volgens Kuys, deur twyfelagtige en persoonlike WhatsApp-boodskappe geteiken en ingeslurp in gevaarlike situasies.
Brandpunte van mensehandel in Suid-Afrika
Geen dorp, stad of buurt – hoe arm of welvarend ook al – is gevrywaar van mensehandel nie. Sekere gebiede bied egter wel meer geleenthede of anonimiteit vir die beoefening van hierdie soort misdaad. Mark Kuys, veiligheidskenner by AfriForum, voer aan dat hawestede soos Durban en Kaapstad veral geskik is vir die gerieflike in- en uitvoer van slagoffers, terwyl groter stede in die algemeen ruimte bied om hierdie misdaad in ’n see van mense byna ongesiens voort te sit. Benewens Durban en Kaapstad is stede soos Pretoria, Johannesburg en Bloemfontein reeds bekende brandpunte vir hierdie misdaad, terwyl stede soos Gqeberha (Port Elizabeth) en Oos-Londen ook meer onlangs as groeiende mensehandelsentrums geïdentifiseer is. Die platteland word ook nou meer toenemend geteiken, meen Kuys, omdat armoede en die tekort aan werksgeleenthede slagoffers hier besonder kwesbaar maak.
Wees paraat én ingelig!
AfriForum se opleiding oor die kwessie van mensehandel word reeds etlike maande lank aangebied vir AfriForum-takke landwyd. As deel van die organisasie se fokus op bewusmaking van dié misdaad word hierdie inligting nou ook aan ’n wyer gehoor beskikbaar gestel om nou ook gemeenskapslesings en aanbiedings by skole aan ouergemeenskappe, kerke en ander belangstellendes te bied. Indien jou gemeenskap meer te wete wil kom oor die omvang en gevare van mensehandel of raad benodig oor hoe om kwesbare mense doeltreffend daarteen te beskerm, kontak Mark Kuys by mark.kuys@afriforum.co.za.