Kompetisie beloon Suid-Afrikaanse entrepreneurs

Deur Carina Bester

Twee entrepreneurs wat onderskeidelik AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie en Onderneming van Formaat-toekenning vir 2024 gewen het se ondernemings het ontstaan nadat hulle self ’n behoefte aan ’n produk of diens gehad het.

Awie Krog, eienaar van Craft Braai, is AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar vir 2024. Saam met hom is Mareli Swanepoel (Akademia, links) en Sanderien van der Walt (AfriForum Sakenetwerk, regs).

Hierdie kompetisie, wat in samewerking met Akademia aangebied word, is in 2024 vir die sewende keer aangebied. Die wenner van die kompetisie stap elke jaar met groot pryse weg en hierdie keer was R50 000 kontant en ’n mediapakket van Maroela Media ter waarde van R50 000 op die spel. Die wenner het ook niekontantpryse van meer as R200 000 ontvang, geborg deur Acctiva Accounting, STEYN IP, Kwikstert, Wolk-Besigheidsbroeikas, Lizette Volkwyn en Solidariteit.

“Akademia is ’n trotse vennoot van dié Afrikaanse entrepreneurskompetisie wat elke jaar net nóg groter en beter word. Die kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n publisiteitshupstoot benodig en uitstekende advies van kundiges in die gebied wil ontvang,” sê Mareli Swanepoel, projekbestuurder by Akademia.

Awie Krog, eienaar van Craft Braai en wenner van 2024 se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie, is tydens die Covid-19-pandemie afgelê en omdat hy dikwels die behoefte gehad het om fyner kos te braai, het die idee van ’n braaisakkie posgevat. Met Craft Braai se braaisakkies kan enigiets, van maalvleis tot springmielies, op die vuur gaargemaak word.

Volgens hom het die gelykenis van Johannes 21:6 op sy hart gedruk waar Jesus vir sy dissipels gesê het om hul net aan die anderkant van die skuit te gooi, want daar sal hulle vis uittrek. Die gelykenis was vir hom in daardie uitdagende tyd uiters gepas. Nie net is sy braaisakkiekonsep uit net gemaak nie, maar hy moes ook uit sy gemaksone tree en die Here vertrou om hom te herontwerp in sy vindingryke reis na ware entrepreneurskap.

“Met my agtergrond in siviele ingenieurswese, IT en projekbestuur moes ek myself herontwerp en dit was die beste ding wat met my lewe kon gebeur het.”

Die finaliste van die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie het ook as deel van die kompetisie toegang tot mentors gehad. Christiaan Steyn van STEYN IP was sy mentor en Krog sê om ’n mentor te hê is van kardinale belang, nie net tydens die kompetisie nie, maar ook daarna.

Volgens Steyn sien Krog probleme as uitdagings; hy kyk nie vas in ’n probleem en sê hoe kan ek hierdie regmaak nie. Hy kyk hoe hy die probleem tot sy voordeel kan gebruik en dit is iets wat hom baie goed maak.

Steyn se raad aan entrepreneurs is om aan te hou droom. “Weet as ’n entrepreneur gaan jy teen die stroom swem. Hou aan, dit is die moeite werd.”

Krog se groot droom is om plaaslik jong seuns en meisies met spesiale behoeftes, wat nie in die samelewing regkom met werk nie, ’n werk te kan aanbied om hulle sodoende in die samelewing te help integreer.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, sê die finaliste se voorleggings was op ’n besonderse hoë standaard en daarom is daar besluit om die toekenning Netwerker van Formaat in Onderneming van Formaat te omskep.

Dié toekenning is aan Danielle de Villiers, eienaar van The Fun Room, oorhandig.

Mareli Swanepoel (Akademia), Danielle de Villiers, eienaar van The Fun Room, en Sanderien van der Walt (AfriForum Sakenetwerk). De Villiers het weggestap met die Onderneming van Formaat-toekenning.

De Villiers het kort nadat sy ’n ma geword het besef daar is ’n behoefte in die mark vir ’n restaurant waar kinders kan speel en die ouers terselfdertyd nog warm kos en koffie kan geniet. By The Fun Room kan kinders in ’n veilige, skoon speelplek onder toesig baljaar terwyl hul ouers rustig sit en eet of selfs werk.

“Hierdie toekenning beteken vir my baie. Dit gee my nuwe hoop en geloof in my sakekonsep en maak my baie lus vir die toekoms. Dit maak my honger om verder te wil groei en om meer aan te pak om groter en groter te word.”

Volgens haar is die insette wat sy van die beoordelaars ontvang het baie insiggewend aangesien sy by hulle geleer het dat daar verskillende maniere is waarop sy haar onderneming kan groei.

As jy ’n idee het wat vir jou vlinders in jou maag gee, ondersoek dit en gee dit ’n kans, is haar raad aan aspirantentrepreneurs.

Die 2024-kompetisie is beoordeel deur Lizette Volkwyn (meesterlewensafrigter, skrywer, internasionale spreker, meesterpraktisyn in neuro-linguistiese programmering en -afrigter), Charl Oberholzer (’n toonaangewende Afrikaner-entrepreneur en medestigter van die geskenkwinkelgroep De Afrikander Handelshuis, die manshaarkapper Republk Barbier en die leefstylhandelsnaam Republk), Jandré de Beer (stigter van V8 Media, een van Afrika se mees ervare e-handel- en digitale sakebemarkingsagentskappe), Rhona Erasmus (REALSKIN se mededirekteur en -stigter, asook eienaar van Trouvaille Boutique Dagspa) en Stephan Bredell (stigter van die Plato Coffee Group, een van Suid-Afrika se toonaangewendste koffiehuise).

“Ons wil deur dié kompetisie plaaslike entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak en harde werk is noodsaaklik om in Suid-Afrika suksesvol te wees. Die finaliste in dié kompetisie het weer eens bewys dat Suid-Afrikaanse en veral Afrikaanse entrepreneurs geen einde aan kreatiewe vermoëns het nie,” sê Van der Walt.

Die beoordelaars en finaliste van die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. Voor is Charl Oberholzer, Rhona Erasmus, Jandré de Beer, Lizette Volkwyn en Stephan Bredell. Agter is Carmé Myburg, Martie Truter, Danielle de Villiers, Awie Krog, Marezelda Combrinck en Jolene Snyman.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad