Kom ons vier en geniet Afrikaans!

Deur Alana Bailey – hoof van Kultuursake by AfriForum

Sedert AfriForum in 2006 met ons werksaamhede begin het, het ons deurentyd vir Afrikaans geveg en daaraan gebou.

Daar was onder meer die hofsake vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal by openbare skole en universiteite, met die groot oorwinning toe die Konstitusionele Hof in 2021 in die saak oor die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se taalbeleid in AfriForum se guns beslis het.

Waar wetgewing die taal bedreig, soos met die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela), het ons alle moontlike aksies aangepak om dit teen te staan.

Daar was ondernemings wat ons help oortuig het om ook Afrikaanse diens te lewer wat nou die vrugte pluk van ’n lojale Afrikaanse kliëntebasis.

Daar was ondersteuning aan die kunste, waarvan AfriForum Teater se aanbiedings seker die mees voor die hand liggende voorbeeld is.

Soms het ons probeer om wat bestaan, te behou. Soms het ons verklaar “ons sal self” en nuwe skeppings ondersteun. Hier dink ek aan die veldtog vir die behoud van gedrukte Afrikaanse koerante, maar ook die steun aan Maroela Media.

Met die inhoud van ons SLIM-veldtog (SLIM is die akroniem vir Studeer en Leer In jou Moedertaal) het ons mense help bewus maak van die waarde van moedertaalonderrig.

En so kan ek aanhou.

AfriForum ondersteun ook Afrikaanse kunste deur onder meer produksies wat in
Afrikaans by AfriForum Teater aangebied word, soos Die Kaplyn-musiekblyspel.

Toe ons dus in 2022 genader word met die voorstel dat Mei 2024 tot Mei 2025 gevier moet word as die honderdste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal, was dit amper ’n aanpassing om ons gedagtes van veg en bou na vier te verskuif. Hoe lekker was dit nie om ’n keer net aan die lekkerte van ons taal se lê op ons tonge te dink nie!

Natuurlik was daar dadelik weer die goor koor se stemme wat elke oomblik van vreugde uit die lewe wil tap. “Waarom vier julle nie eerder die ontstaan van Afrikaans in die 1600’s nie?” “Waarom 1925 en nie 1875 nie?” “Ons het niks om te vier nie, kyk hoe gaan ons taal agteruit.” “Wat help dit ons vier as jongmense woorde soos awesome en cool gebruik?”

Kom ons maak dit maklik: Ons vier ál die datums en werk om waar Afrikaans bedreig word, te keer. Kom ons leer ons kinders prettige Afrikaanse alternatiewe vir modewoorde soos awesome en cool sodat hulle nie meer lus voel om Mengels te praat nie!

Wanneer wetgewing Afrikaans bedreig, staan AfriForum op.

Ek het begin by gedigte. AfriForumTV het met die oog op ’n nuwe program vir voorstelle gevra vir ’n lys van vyf gewilde gedigte in Afrikaans. Wat ’n stryd om net vyf te kies! My lysie het wel bestaan uit redelik ernstige gedigte, maar ek moes ook die humoristiese skeppings in Afrikaans onthou. Dink maar aan Tant Siena van A.G. Visser wat so ’n gewigtige vrou is dat selfs die padmakers hulle stampers kan neersit om haar stewige voete die werk te kan laat doen.

Vandaar af was dit ’n kort sprongetjie na unieke woorde in Afrikaans: aardvark, kameelperd, webwerf, swaardlelie, bromponie, hommeltuig. My kopieë van Wilde Woordeboek 1 en 2 het van die rak gekom en ek kon oor nuutskeppings soos bombaba (vir die Engelse babe), laatslaapete (brunch), bekrek (chat) en kwaadklits (stir) giggel.

Daarby sluit C.J. Langenhoven se spreuke aan, soos “Dit beteken nie altyd veel om ’n man van belang te wees nie. Die belangrikste persoon op ’n begrafnis is die dooie man.”

Algaande besef ’n mens weer hoeveel opsies daar is om taal op jou eie óf saam met vriende en familie te geniet. Jy kan die kunste ondersteun, taalspeletjies speel, saam sing, of lees, of leer. Die moontlikhede is legio en Afrikaans 100 of enige ander taalfees is ’n handige kapstok om die geleenthede aan te haak.

Elke Sondag dank ons dominee die Vader vir die voorreg dat ons Hom in ons land vryelik mag aanbid en dat ons ’n Bybel in Afrikaans het. Volgens die Bybelvertalingsorganisasie The Word for the World is daar meer as 3 000 taalgemeenskappe wat nie die voorreg het van ’n Bybel in hul taal nie, terwyl ons selfs uit verskeie Afrikaanse vertalings kan kies.

By ’n aanlyn byeenkoms oor taalregte wat ek onlangs bygewoon het, vertel ’n spreker uit Egipte hoe haar taal, Nubies, nie onderrig mág word nie. ’n Spreker uit Mianmar beskryf die vervolging van sy gemeenskap, die Rohingya, wat insluit dat hulle taal se naam nie eens in die land genoem mag word nie. Ander minderheidstaalgroepe het soortgelyke stories oor vervolging, verdrukking en pogings om hul gemeenskap uit te wis deur hul taal te vernietig. Hulle mag nie eens hul kinders name in hul moedertaal gee nie. Ons dominee kan dus met reg dank uitspreek.

Navorsing dui aan dat ongebore kinders al so vroeg as op 24 weke tussen hul moeder se taal en ander kan onderskei. Ons moedertaal is dus so deel van ons soos ons DNS. Ons word letterlik met dit gebore. Om dié rede moet ons keer dat ons taal nie soos Nubies, Koerdies, Rohingya en ander tale verniel word nie, maar moet ons ook trots wees daarop en dit geniet.

Daar is nie eers meer rede om skaam vir ons aksent te wees nie, want in 2024 het die lesers van die reisjoernaal Enjoy travel ons Afrikaanse aksent as die tweede mees aantreklike aksent in die wêreld aangewys!

Kraakvars nuutskeppings maak Afrikaans selfs nóg lekkerder as voorheen. Probeer gerus een van dié tien raakvat sêgoed voordat jy meng-meng oorslaan na Mengels:

  1. bombaba (vir die Engelse babe)
  2. laatslaapete (in plaas van brunch)
  3. bekrek (eerder as chat)
  4. kwaadklits (vir stir)
  5. warsender (wanneer jy verwys na ’n signal jammer)
  6. Googleloer (in plaas van google as werkwoord)
  7. woemastafie (eerder as energy bar)
  8. visdamtsoenami (in die plek van a storm in a teacup)
  9. staalkamp (in plaas van bootcamp)
  10. skaamsokkies (vir die Engelse secret socks)

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad