Kabeldiefstal: SA se stille ekonomiese sabotasie

Foto’s: SAPD en verskaf

Kabeldiefstal, ’n omvangryke misdaad wat in elke uithoek van die land voorkom, kos die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks miljarde rande. Hoewel sommige kabeldiewe bloot opportunisties te werk gaan, word die meerderheid van kabeldiefstal deur georganiseerde sindikate uitgevoer. Carina Bester stel ondersoek in na dié stille vorm van ekonomiese sabotasie wat die land teister.

Koper: Die peperduur “rooi goud” van die onderwêreld

Die diefstal van koperkabels is uit die perspektief van misdadigers gesien, uiters winsgewend. Vandaar die benaming “rooi goud” vir dié metaal wat in onder meer die energie- en kommunikasiebedryf gebruik word. Teen ’n gemiddelde prys van nagenoeg R100 per kilogram skrootkoper is dit te verstane dat geleenthede vir die diefstal daarvan nagejaag word én die finansiële impak van koperdiefstal op maatskappye en munisipaliteite so groot is.

Van Februarie tot Augustus 2025 is byvoorbeeld 58 gevalle van kabeldiefstal in die Mosel-buurt van Kariega (Uitenhage) alleen aangeteken, terwyl herstelwerk teen nagenoeg R45 000 per insident gedoen is. In Gauteng beloop die jaarlikse verliese weens onwettige verbindings en nietegniese verliese by Eskom byna R7 miljard. In die Mangaung-metro in die Vrystaat is ongeveer 800 gevalle van kabeldiefstal in die afgelope boekjaar aangemeld, terwyl meer as 3 500 voorvalle van kabeldiefstal by Transnet aangeteken is in 2022/2023.

Die totale koste van kabeldiefstal in Suid-Afrika beloop na raming tot R46,5 miljard per jaar. Hierdie bedrag sluit verlore produktiwiteit, herstelwerk en geraamde onderbrekings aan bedrywighede by hospitale, skole en huishoudings in. Diewe teiken dikwels ook munisipale infrastruktuur, die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), kommunikasienetwerke en privaat instansies.

Volgens Transnet en Prasa het die metodes wat gebruik word om hul infrastruktuur te plunder uiters gesofistikeerd geword en hierdie plundertogte word met byna militêre presisie beplan en uitgevoer.

Koper, skrootwerwe en die Mafia

Koper is een van die min materiale wat herhaaldelik herwin kan word en daar is nie ’n groot verskil in die gehalte van herwinde en gemynde koper nie. Die gesteelde kabels word dikwels verbrand om die plastiekomhulsel te verwyder, waarna die gestroopte kabels, sonder die nodige dokumentasie, aan skrootwerwe verkoop word. Dié kabels word dan of gesmelt of as herwinde produkte verkoop of beland by informele skrootwerwe as afvalmateriaal.

Luidens die verslag “South Africa’s illicit copper economy” wat die Global Initiative against Transnational Organized Crime (GI-TOC) in 2023 saamgestel het, het koper verskeie kenmerke wat dit aanloklik maak vir misdadigers. Dit is dikwels maklik om van die koper ontslae te raak aangesien sommige skrootwerwe die koper koop sonder om vrae te vra. Sodra die gesteelde koperkabels verwerk is, is dit ook so te sê onmoontlik om agter te kom waar die koper gesteel is. Dit beteken dat die gesteelde koper maklik saam met wettig verkrygde koper verkoop kan word.

China is een van die grootste uitvoerders van Suid-Afrikaanse koper, aldus die verslag. Dié moondheid het in 2021 ongeveer 85% van skrootkoper vanuit Suid-Afrika uitgevoer gevolg deur Duitsland (3,24%) en Indië (3,21%). Met die groot mate van onderfakturering en verkeerde etikettering wat plaasvind wanneer skrootkoper uit Suid-Afrika uitgevoer word – hetsy deur wettige maatskappye of smokkelaars – is dit onwaarskynlik dat alle kopers van die produk onbewus is van die bedrog. Sommige van hulle is waarskynlik selfs deel van die smokkelsindikate. Dit geld veral vir die Chinese Mafia, waarvan party groepe ook ’n sterk voetspoor in Suid-Afrika het.

Infrastruktuur naby informele nedersettings word veral deur kabeldiewe geteiken. Luidens die GI-TOC-verslag is Alexandra in Johannesburg een van die belangrikste brandpunte in die handel van gesteelde koper in die land. Dié nedersetting en die omliggende gebiede het meer as 15 skrootwerwe en die meerderheid daarvan is boonop ongeregistreerde ondernemings. Hier word gesteelde koperkabels van onder meer City Power en ander staatsentiteite dikwels gestroop en verwerk. Georganiseerde bendes in Alexandra, wat gewoonlik met een van die skrootwerwe verbind word, het die vermoë om meter lange swaar kabels te steel en dit dan terug na die skrootwerf te vervoer. Sommige van die bendes het aldus die verslag ook kontakte in staatsbeheerde entiteite en maak staat op amptenare, veiligheidswagte en kontrakteurs om hulle in te lig wanneer koper onbewaak en maklik bekombaar is.

AfriForum-buurtwagte pak kabeldiefstal

Die implementering en toepassing van strenger regulasies vir die skrootmetaalbedryf, asook ’n verbod op kontanttransaksies vir die verkope van koper is volgens Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, dringende vereistes wat ingestel moet word om kabeldiefstal te bekamp.

Volgens Broodryk is die vervolgingskoers vir kabeldiefstal ook baie laag, wat onder meer toegeskryf kan word aan die howe wat oorlaai is, asook dat ondersoekspanne nie altyd toegang het tot die nodige forensiese hulpbronne nie.

Die organisasie het vroeër vanjaar ’n skrywe aan adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van Openbare Vervolging (NDOV), gerig waarin daar geëis word dat gevalle van kabeldiefstal met die nodige erns hanteer word. ’n Beroep is ook op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gedoen om beslissend op te tree en staatsaanklaers opdrag te gee om strenger vonnisse in gevalle van kabeldiefstal te eis.

AfriForum het ook ’n opleidingsgids vir sy buurtwaglede saamgestel aangesien buurtwagte ’n kritieke rol speel in die voorkoming en bekamping van hierdie misdaad. Die opleiding moedig buurtwagte aan om hoërisikogebiede te identifiseer en te moniteer en gereelde patrollies, veral saans en oor naweke, uit te voer.

“Koperkabeldiefstal vernietig die lewensgehalte van almal in ’n gemeenskap. Deur samewerking, waaksaamheid en vasberadenheid kan buurtwagte ’n daadwerklike verskil maak. Die pad na veiligheid begin by gemeenskapsbetrokkenheid,” sê Broodryk.

Samewerking met owerhede het reeds vrugte afgewerp toe AfriForum se Brakpan-buurtwag, die SAPD en verskeie sekuriteitsmaatskappye in Junie 2025 twee verdagtes aangekeer het terwyl hulle glo besig was om kabels te steel. ’n Hommeltuigspan het die twee verdagtes uitgewys waar hulle besig was om gate te grawe om die kabels te steel.

Toerusting, insluitend grawe, pikke, metaal- en handsae en ’n stuk afgeknipte kabel, is ook op die toneel gevind. Danksy goeie kommunikasie is die verdagtes vasgetrek en in hegtenis geneem nadat hulle gepoog het om te vlug.

Volgens Broodryk strek die gevolge van kabeldiefstal veel wyer as net die finansiële aspek daarvan aangesien kragonderbrekings onder meer ondernemings, huishoudings, hospitale en skole beïnvloed. Spoorverkeer word ook lamgelê en nywerhede stagneer. “Koperkabeldiefstal is nie bloot diefstal nie, dit is ekonomiese sabotasie. Die mense wat die meeste daaronder ly is gewone Suid-Afrikaners wat letterlik in die duister gelaat word.”

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad
Kabeldiefstal_FOTO 3