Almal het daagliks te doen met vullis, maar bitter min mense dink twee keer oor waar daardie piesangskil, lekkergoedpapier of battery heen gaan sodra dit in die swartsak beland. Carina Bester het by Marais de Vaal, raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum, gaan aanklop om meer oor vullis en vullisterreine uit te vind.
1. Hoe werk vullisterreine?
’n Vullisterrein is nie net ’n hoop waarop rommel gegooi word nie. Dit is ’n spesifieke gebied wat aan sekere vereistes moet voldoen gebou sodat hierdie afval nie mense se gesondheid benadeel of die omgewing besoedel nie.
In ’n ideale wêreld moet slegs huishoudelike afval op terreine gestort word en behoort herwinbare items en elektroniese afval reeds uit die afval verwyder word. Vullis word in ’n reeks selle op die terrein afgelaai, gekompakteer en met grond bedek. Sodra die vullis dan nie meer aan suurstof blootgestel word nie, kan die natuurlike proses om afval af te breek, begin.
Wanneer AfriForum jaarliks vullisterreine oudit, sien ons dat die trokke nie die vullis in die spesifieke sel uitgooi nie, maar net op ’n plat stuk grond. In die meeste gevalle is daar ook informele herwinnaars wat deur die afval sorteer op soek na herwinbare items soos plastiek, glas en blik. Hierdie items moet eerder herwin word as op die vullisterrein beland aangesien dit spasie op die terrein mors wat eerder meer doeltreffend aangewend kan word.
2. Wie is verantwoordelik vir die bestuur van vullisterreine?
Dit is ’n munisipale funksie, so plaaslike regering is verantwoordelik vir die stort en bestuur van vullis. As daar na ander tipe afval gekyk word, soos mediese afval, word dit meestal deur privaat diensverskaffers bestuur wat daardie terreine besit en lisensies daarvoor het.
3. Watter vullis kan op ’n terrein gestort word?
Dit hang af van die terrein se lisensie. Enige afval wat gestort word moet ingevolge wetgewing by die regte terrein gestort word. As dit algemene huishoudelike afval, tuinvullis of bourommel is, dan is die vullisterrein daarvoor gelisensieer. Soos ek hierbo gesê het moet mediese afval, bande en karkasse byvoorbeeld na ’n spesifieke terrein met die nodige lisensie vir dié items gaan. Jy kan dit nie net met grond toegooi en hoop dit verdwyn nie. Industriële stowwe of chemikalieë moet op ’n ander manier bestuur word sodat dit op ’n veilige manier afbreek en weer deel van die natuur word.
4. Hoe weet jy as die terrein in jou area gevaarlike afval mag ontvang?
Daar is veronderstel om ’n bord by die ingang na die terrein te wees wat aandui wat die terrein se naam is en waarvoor dit gelisensieer is. Dit is ook een van die eerste dinge waarna ons kyk wanneer ons ’n vullisterrein oudit, want dit is nie altyd daar sodat die publiek kennis daarvan kan neem nie. Die terreinbestuurder moet ook vir jou ’n afskrif van die lisensie kan gee wat duidelik stipuleer wat daar gestort mag word.
5. Kan jy elektroniese toestelle ook in jou vullissakke weggooi?
Nee, elektroniese toestelle en batterye bevat baie metale en chemikalieë wat skadelik kan wees. Dit moet op spesiale maniere behandel word en kan daarom nie net op ’n algemene vullisterrein gestort word nie. Daar is by sommige winkels, soos Makro, spesiale versamelpunte vir batterye en elektroniese afval. Ek het ook al opgemerk dat munisipaliteite ’n houer vir daardie tipe afval het omdat dit nie op die terrein self gestort mag word nie.
6. Wat bevind julle jaarliks met AfriForum se vullisterreinouditverslag?
Die oorgrote meerderheid munisipale terreine word nie behoorlik bestuur nie en voldoen nie aan die minimum vereistes wat ingevolge die afvalbestuurwetgewing vir afvalbestuur gestel word nie. Dit is ’n verpligting wat munisipaliteite nie nakom nie. Die gevolg is dat besoedeling plaasvind en inwoners aan gesondheidsrisiko’s blootgestel word. Ons sien dat die meeste terreine ook hul leeftyd se einde bereik. Daar is nie meer plek op munisipale terreine om vullis wettig te stort nie, wat verskeie uitdagings skep. In veral Gauteng is die beskikbare spasie op munisipale terreine uiters beperk. Al die voorspellings vanuit die industrie is dat daar maksimum vyf jaar oor is vir groot dele van Gauteng se munisipale terreine en geen nuwe terreine is al beplan nie.
“Daar is nie meer plek op munisipale terreine om vullis wettig te stort nie, wat verskeie uitdagings skep. “
7. Moet ons bekommerd wees dat vullis die volgende dreigende krisis gaan wees?
Beslis, as munisipaliteite nie vullis behoorlik bestuur nie, moedig dit onwettige storting aan. Storting op oop velde gaan al hoe meer voorkom, wat nie net sleg lyk nie, maar ons ook blootstel aan besoedeling en die siektes wat daarmee gepaardgaan. Omdat daar nie betyds beplan is vir nuwe terreine nie, gaan dit beteken dat ’n mens al hoe verder moet wegbeweeg uit die stad uit om ’n geskikte ligging te kry vir ’n nuwe terrein. Om ’n nuwe terrein te vestig neem sowat vyf jaar vir beplanning, studies en die voorbereiding daarvan. Dit kan beteken dat mense teen ’n ekstra koste vullis na ander dorpe moet wegry.
8. Wat kan huishoudings en ondernemings doen om vullis beter te bestuur?
Weet dat vullis nie net in jou asblik beland en dis dan die einde nie. Wees bewus van wat jy alles weggooi en moenie batterye in huishoudelike vullis gooi nie. Probeer om te herwin sodat plastiek, blik en glas uit die normale vullis gehou word sodat die bietjie spasie wat oor is, bespaar word. Maak gebruik van privaat inisiatiewe soos sommige AfriForum-takke wat herwin. Wanneer jy ’n privaat onderneming gebruik om vullis te verwyder, vra hulle permit aan, asook waar die vragte afgelaai word sodat jy nie onwetend bydra tot onwettige storting nie.
AfriForum het reeds sy eie vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en Bloemhof op die been gebring. Kyk hier na die tweede episode van die nuusprogram AfriForum maak só vir meer oor dié opwindende inisiatief.