Die hartseer realiteit daarvan om in Suid-Afrika te woon is dat misdaad moontlik om elke draai wag. ’n Mens lees gereeld van inbrake by huise of persone wie se voertuie tot stilstand gedwing en dan deur booswigte beroof word. ’n Mens het egter nog altyd in die kerk veilig gevoel, maar selfs hier is misdaad aan die toeneem. As dit nie motors is wat uit die parkeerterrein gesteel word nie, is dit diefstal van die kerk se eiendom of selfs gewapende rowers wat tydens ’n erediens op kerkgangers toeslaan. AfriForum het derhalwe ’n handleiding opgestel wat daarop gemik is om kwesbaarhede by kerke te identifiseer sodat dit beveilig kan word.
Die handleiding neem die vorm van ’n vraelys aan met afdelings vir verskillende scenario’s wat kan afspeel. Hierdie scenario’s sluit enigiets van gewone diefstal tot brandstigting, ontvoering en mediese voorvalle in. Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, het die speelveld tydens die ANC-regering se 30 jaar aan die stuur van die land baie verander soos wat algemene staatsverval tot verhoogde misdaadsyfers gelei het.
“In die verlede het die staat sy verantwoordelikheid ten opsigte van die beveiliging van gemeenskappe nagekom en was dit nie nodig vir sekuriteitsmaatskappye of ander instansies om kerke te beveilig nie. Met hierdie dokument wil AfriForum kerke bemagtig om proaktief op te tree deur ’n oudit te doen van die veiligheid van die kerk en sy lidmate, en deur maatreëls gereed te kry om veiligheid van lidmate in kerke te verbeter,” sê Broodryk.
Die eerste 16 vrae op die lys dek interne kwessies by die kerk. Die belangrikheid van ’n noodplan word beklemtoon, asook dat hierdie plan tot die beskikking van spesifieke personeellede by die kerk moet wees. Hierdie personeel moet ook opgelei word om die noodplan uit te voer en moet die nodige sleutels tot hul beskikking hê om deure en hekke oop en toe te sluit.
Onder die afdeling vir infrastruktuur word vrae gevra oor die kerk se omheining, of daar ’n doeltreffende alarmstelsel is en of behoorlike toegangsbeheer toegepas word. ’n Heining van minstens twee meter hoog word voorgestel.
Kommunikasie is natuurlik ook belangrik. Daar moet byvoorbeeld ’n lys by die kerk op datum gehou word met kontaknommers van die plaaslike polisiekantoor, die naaste hospitaal en privaat sekuriteitsmaatskappye.
Daar word dikwels na die menslike aspek verwys wanneer iets skeefloop. Hier kan die opleiding van personeel, soos reeds genoem, ’n rol speel. Die persone wat aangestel word is egter net so belangrik. Betroubare personeel met goeie verwysings moet aangestel word. Daarbenewens moet persoonlike rekords en identiteitsfoto’s van elke personeellid by die kerk gestoor word.
’n Laaste afdeling wat by die handleiding ingesluit is, is een vir ontvoering. Hierdie afdeling is spesifiek gemik op kerke wat ook as skole gebruik word. Hier word leerders aangemoedig om nie met vreemdelinge te praat nie en om in groepe eerder as alleen rond te beweeg. Weereens het die personeel ook ’n belangrike rol om te vertolk om die regte prosedure te volg indien ’n kind wel ontvoer word.