Deur Ilze Nieuwoudt
Die destydse redakteur van The Natal Witness, F. Horace Rose, het in 1926 oor Pietermaritzburg geskryf (in Engels natuurlik): “Die plek is geruïneer. Ek het vandag gehoor dat Afrikaans in die hoofstraat gepraat word … in die openbaar!”
Dat dié uitlating gemaak is skaars ’n jaar nadat Afrikaans (uiteindelik) as amptelike taal in Suid-Afrika erken is, is seker nie vreemd nie. Die taal het al van die vroegste jare af teenkanting ondervind en het in 100 jaar sedertdien nog g’n rus beleef nie. In Rose se jare was die “kulturele arrogansie” van die meer welvarende Engelssprekende gemeenskap – soos wat die historikus prof. Hermann Giliomee dit bestempel – nog diepgewortel.
Só veg AfriForum vir en bou AfriForum aan Afrikaans
In die afgelope paar dekades is Afrikaans uit talle ruimtes geboender waar dit voorheen wyd gebruik is. Universiteite, staatsdepartemente, hofsale. Noem dit maar op. Afrikaans het ’n vreemde taal in dié leefruimtes geword. Die aanslag op Afrikaanse skole is die jongste toevoeging tot die stryd. Een taalkenner betrokke by die Europese Raad het tydens ’n onlangse internasionale taalwerkswinkel verklaar dat daar waar die taal van ’n minderheid in skole verbied word, die gewisse onderdrukking van daardie minderheid verwag kan word. Juis daarom is die beskerming van taal op skoolvlak noodsaaklik en ’n kernfokus van AfriForum.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is AfriForum om verskeie redes verbind tot Afrikaans en die beskerming van dié taal. “Taal is nie net ’n kommunikasiemiddel nie,” verduidelik sy. “Dit is die draer van kultuur, erfenis, denkpatrone en die aard van die taalgemeenskap. Deur die taal te laat stagneer, taalregte te ontken of dit te vernietig, word die taalgemeenskap en hul verlede stelselmatig uitgewis.”
By AfriForum is die beskerming, gebruik en uitbou van Afrikaans as ’t ware ’n voltydse taak. Een wat mnr. Rose van toentertyd waarskynlik rasend sou gelaat het, want deur die werk wat AfriForum aanpak, word Afrikaans met mening en passie in die openbaar gepraat, gebruik en gedroom.
En met Afrikaans wat aan die vooraand van sy 100ste bestaansjaarviering staan, is daar juiste meer rede om die taal op elke denkbare wyse te vier en, soos in die dae van die vroeë taalpioniers, te veg vir en te werk en bou aan dié taal.
Afrikaans 100: ’n Viering van ’n kleurvolle taal van miljoene
Al is Afrikaans as taal veel ouer as die eeu wat met Afrikaans 100 gedenk word, is besluit om die vestiging van Afrikaans as amptelike landstaal as vertrekpunt vir dié unieke taalfees te gebruik. Op 8 Mei 1925 is ’n reusemylpaal behaal toe die Wet op de Officiële Talen van de Unie tydens ’n gesamentlike sitting van die Unie-Volksraad en die Senaat eenparig aanvaar is. Dié wet het aan Afrikaans, soos Engels, die erkenning as amptelike taal van Suid-Afrika gegee.
Afrikaans 100, soos wat die veldtog vir die herdenkingsjaar wat in Mei 2024 afgeskop het bekendstaan, word aangevoer deur ’n groep Afrikaanse organisasies onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM). Benewens dié organisasies is nagenoeg 150 ander organisasies, insluitend AfriForum, reeds geregistreer as vennote van Afrikaans 100.
Volgens René Arendse, die nasionale adjunkkoördineerder van Afrikaans 100, vier dié veldtog hoe ver Afrikaans gekom het – van kombuistaal tot ’n akademiese taal – maar is ook toekomsgerig. “Moedertaalonderrig lê aan die hart van hierdie projek,” verduidelik sy.
Die uitleef van Afrikaans op talle gebiede, insluitend die kunste, literatuur, onderwys, musiek en akademiese navorsing, lê boonop luidens die Afrikaans 100-aanvoerders aan die hart van die vieringe wat landwyd aangepak word, en by AfriForum is daar geen tekort aan ywer om Afrikaans in die komende jaar (en jare) te vier nie.
Projekte wat tans ter viering van Afrikaans 100 aangepak word, is uiteenlopend, verduidelik Bailey, en sluit onder meer in betrokkenheid by die restourasie van die historiese Groenbergskool op Wellington; navorsing oor persepsies oor en behoeftes aan Afrikaans in die sakewêreld; en verskeie opwindende programme wat deur AfriForumTV ontwikkel word. Intussen sit AfriForum ook sy stryd voort teen die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (die Bela-wet) wat op 13 September 2024 deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken is en plaas die kollig op Afrikaans 100 as deel van AfriForum se gewilde Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie en sal die stories oor Afrikaanse taalhelde afstof.
Afrikaans: ’n Lus vir die hart, oog én oor!
AfriForumTV se kreatiewe span pak die Afrikaans 100-bul behoorlik by die horings en kykers kan gereedmaak vir tonne vermaak in en oor Afrikaans. In die komende paar maande wag die volgende produksies op kykers:
- Wortels en woorde: Herleef die soetste Afrikaanse gedigte en ou volksliedere uit die pen van die woordmeesters van ouds met ’n tikkie nostalgie en ’n eietydse kleur en geur soos aangebied deur vandag se kunstenaars. Kyk uit vir die sanger en liedjieskrywer Danie Reënwolf en sy ewe talentvolle broer, Moskou du Toit, Pretoria FM se aktualiteit- en nuusredakteur Esmarie Yssel, die bekroonde akteur Tobie Cronjé en vele ander in dié reeks van agt episodes wat teen Mei 2025 beskikbaar sal wees op AfriForumTV.
- Klein helde: Vergeet van vaal vertellings oor donkiejare gelede se mense, want met Klein helde kan die kleinspan én hul ouers uitsien na kleurvolle en prettige klein stories oor groot helde uit die Afrikaner se verlede. Hierdie animasiereeks bevat reeds die verhale van Jan van Riebeeck en Emily Hobhouse. Die storie van Wolraad Woltemade is die nuutste toevoeging wat kykers vanaf Desember 2024 kan geniet, en in 2025 wag daar ook die storie oor een van Afrikaans se grootste digters, Totius.
- Niemandsland: Die vervaardiging van AfriForumTV se eerste vollengte rolprent, Niemandsland, sal in Afrikaans se herdenkingsjaar aangepak word en na verwagting later in 2025 vrygestel word. Dié rolprent speel af in die tyd direk na afloop van die verwoestende Anglo-Boereoorlog. Die geliefde aktrise Jana Strydom sal die hoofrol vertolk in dié verhaal waar die bittere stryd oor familiegrond stormsterk woed.
Geniet dié en ’n verskeidenheid ander Afrikaanse kykgenot gratis aanlyn op AfriForumTV. Besoek www.afriforumtv.co.za om ’n wêreld van topgehalte- Afrikaanse reekse, rolprente, dokumentêre, nuus en musiek te ontsluit.