Herwinning lei tot groot wen vir Centurion-tak

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum se Centurion-tak het by dié burgerregteorganisasie se nasionale kongres twee toptoekennings ingepalm, naamlik dié van volhoubare projek van die jaar, asook die noordstreek se tak van die jaar.

Voor v.l.n.r.: Die Centurion-tak se buurtspan: Johannes Esterhuysen, John van Biljon, Wietz Botes, Johan Jordaan en Hendrik van Heerden. Agter v.l.n.r.: Dewald Nagel, Gregory Orpen, Kyle Coetzer, André de Bruyn, Wayne Page en Machiel Germishuizen.

Eersgenoemde is aan die tak toegeken vir hul herwinningsprojek wat in Augustus 2021 van stapel gestuur is. Dié projek het ontstaan na aanleiding van versoeke van die publiek om te help met die verwydering van vullis wat op daardie stadium informele herwinnaars gelok het en weer op hul beurt hulself dikwels aan misdaad skuldig gemaak het.

“Kleiner misdade soos die steel van tuinslange, stormwaterdeksels, fietse, straatligte, huisnommers en verskeie metaalitems het die inwoners van Centurion in verskeie woonbuurte rasend gemaak. Onwettige nedersettings het ook begin opskiet, want die mense wat in asblikke grawe, woon waar hulle werk,” vertel André de Bruyn, takvoorsitter in Centurion.

“Waar hierdie nedersettings opskiet, is daar gemors wat in ons spruite en riviere beland as die reënseisoen aanbreek. Stormwaterpype word mettertyd verstop wat daartoe kan lei dat huise oorstroom en groot skade aangerig word. Dis hoe ons tot die besluit gekom het om herwinningsakke aan AfriForum-lede en ander belangstellendes te verskaf waarmee hulle in hul eie erwe kan herwin. Sodoende is daar minder vullis wat informele herwinnaars na die woonbuurte lok en bring dit verligting vir al die bogenoemde probleme.”

AfriForum-lede ontvang ’n 1 m3-sak by die tak waarin hulle herwinbare vullis kan plaas. Drie werkers doen dan daagliks hul rondte met ’n bakkie en ’n sleepwa om volgelaaide sakke op te laai. Die gevulde sakke word na ’n sorteerpunt in Valhalla geneem waar ses sorteerders voltyds die inhoud onderverdeel voordat dit aan die onderskeie herwinningsmaatskappye verkoop word. Enige Centurion-inwoner wat bereid is om hul herwinbare items aan AfriForum te skenk, kan gratis van die diens gebruik maak.

De Bruyn sê die insetkoste vir die projek is hoog en dat die inkomste nog nie die uitgawes oorskry nie, maar dat hulle vinnig na ’n punt beweeg waar die projek wel homself finansieel kan onderhou. Daar is reeds meer as 180 ton se herwinning gedoen by die nagenoeg 500 huise, skole, ondernemings en dies meer wat van die diens gebruik maak.

Centurion-tak takel soveel meer as net vullis

Benewens die suksesvolle herwinningsprojek is AfriForum se Centurion-tak ook bedrywig op verskeie ander maniere om ’n verskil in dié gemeenskap te maak. ’n Voltydse buurtspan pak uiteenlopende projekte daagliks aan. Hulle verf afgeleefde en onduidelike padmerkers oor, vervang padtekens soos nodig, vul slaggate op, herstel straatligte en sny gras op die talle groenstroke in die gebied. Dié span het hul eie bakkie, trekker, industriële grassnyers en handmasjinerie wat vir bogenoemde aangewend word.

Veiligheid is ook ’n prioriteitsarea vir die Centurion-tak. ’n Buurtwag, wat hulself in buurtwagspanne organiseer, vorm deel van die tak om misdaadbekamping toe te pas. AfriForum-buurtwaglede ontvang opleiding en toerusting om seker te maak elke lid weet hoe om binne die raamwerk van die wet veiligheid in die gemeenskap te verskerp.

Al hul harde werk werp egter vrugte af en die tak se welverdiende toekennings is maar net een wyse waarop die sukses nou sigbaar word. “Dit was ’n baie aangename oomblik om die toekennings te ontvang. Dis ’n mylpaal waarop ons wil voortbou om selfs groter hoogtes te bereik. Dis ’n ongelooflike spanpoging wat dit alles moontlik maak,” sluit De Bruyn af.

Skenk jou vullis tot voordeel van Centurion

Suid-Afrika genereer nagenoeg 122 miljoen ton vullis per jaar en navorsers reken dat elke individu ’n gemiddeld van 41 kg afvalplastiek genereer. AfriForum se vullisterreinouditverslag toon boonop reeds jare lank dat afvalbestuur in Suid-Afrika ’n krisispunt bereik het.

Inwoners van Centurion kan egter deel van die oplossing wees. Skenk jou vullis vir AfriForum se Centurion-tak se herwinningsprojek en sodoende kan jy, deur middel van die inkomste wat uit jou rommel gegenereer word, ’n waardevolle bydrae maak tot die projekte wat dié Gautengse tak aanpak. Kontak die Centurion-tak vir meer inligting: Stuur ’n e-pos na centurion@afriforumtak.co.za.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad