Afrikaans is Lekker het deur die jare gegroei tot ’n viering van Afrikaanse musiek en kultuur wat diep aanklank vind by Afrikaners oor die wêreld heen. Hierdie konsertreeks, wat jaarliks deur South African Events in samewerking met AfriForum Wêreldwyd aangebied word, het vinnig een van die grootste byeenkomste geword om die Afrikaanse taal en kultuur in die buiteland te vier.
South African Events en AfriForum Wêreldwyd is toegewyd om geleenthede te skep waar ons mense in die buiteland kan saamkom, deel kan bly van hul kultuur en nuwe herinneringe kan maak.
Volgens Arno Nel, eienaar van South African Events en organiseerder van die Afrikaans is Lekker-konserte, gaan Afrikaanse konserte in die buiteland oor veel meer as net musiek. “Dit is ’n bymekaarkoms vir ou vriende en gemeenskappe. Dit is ’n plek om nuwe vriende te maak, lekker saam te kuier en jou taal en kultuur uit te leef. Dit is waarom ons die optredes doen vir ons gemeenskappe in die buiteland. Om gelukkig te wees in jou nuwe land, beteken nie dat jy jou mense en kultuur versaak nie. Ons mis dit tog en met hierdie optredes versag ons dit.”
Vir AfriForum, wat as hoofborg optree, is dié konserte ’n belangrike manier waarop Afrikaners in die buiteland hul erfenis aan die gang kan hou. “Afrikaans is die polsende hart van ons gemeenskap, ongeag waar jy woon. Ons kultuur en taal is iets om te vier en te bewaar. Met AfriForum Wêreldwyd kan Afrikaners in die buiteland deel wees van ’n wêreldwye netwerk wat hulle ondersteun en help om hul erfenis lewend te hou,” verduidelik Sue-Ann de Wet, hoof van Diaspora by AfriForum.
Dubai, Amsterdam en Londen verwelkom Afrikaans is Lekker
Die Afrikaans is Lekker-musiekvertonings is al ’n instelling in Australië, Nieu-Seeland en Kanada, maar is in Mei 2024 ook vir die eerste keer in Dubai, Amsterdam en Londen aangebied. Die gewilde Suid-Afrikaanse kunstenaars Refentse, Bobby van Jaarsveld, Jo Black en Demi-Lee Moore het gehore hier aan hul voete gehad. Dié konserte het die begin van ’n nuwe era ingelui vir Afrikaanse musiek in die buiteland en laat harte nou ook in Europa en die Midde-Ooste vinniger klop vir Afrikaans.
Afrikaans is Lekker 2024: Kanada
Die geliefde “Skepe”-sanger, Jo Black, en die ewe gewilde Refentse – bekend vir treffers soos “Reisiger” en “Vuil Vanderbijl” – het in Junie vanjaar Kanada behoorlik op horings geneem met konserte wat in Calgary en Vancouver aangebied is. Hul optredes het ’n warm verwelkoming gekry, met gehore wat saamgesing het op elke noot.
Afrikaans is Lekker 2024: Australië en Nieu-Seeland
Die Australiese en Nieu-Seelandse been van die Afrikaans is Lekker 2024-toer het in Augustus plaasgevind en het, met uitverkoopte vertonings, alle verwagtinge oortref. Dit maak van Afrikaans is Lekker nie net die lekkerste musiekkonsertreeks in die buiteland nie, maar ook die grootste byeenkoms ter viering van Afrikaanse musiek, kultuur en vermaak in Australië en Nieu-Seeland. Juanita du Plessis, Kurt Darren en Brendan Peyper was deel van hierdie toer. Dié kunstenaars het besoek afgelê in verskeie stede oor die hele Australië en Nieu-Seeland, insluitend Wellington, Auckland, Sydney, Mackay, Brisbane en Perth.
Kunstenaars oor hul betrokkenheid
Jo Black, een van die gewilde kunstenaars, het sy passie vir die konserte uitgespreek: “Ek dink om in Afrikaans te sing en jouself uit te druk en uit te beeld in jou taal is ’n voorreg. Maar ek dink juiste meer as dit in die buiteland is vir Afrikaanse mense wat nie elke liewe dag hul taal hoor nie en hulle bederf word met Afrikaanse musiek. Om daardie waardering te sien, maak alles net die moeite werd!”
Vooruitblik: Afrikaans is Lekker 2025
Die Afrikaans is Lekker 2025-toer beloof om selfs groter én lekkerder te wees met die VSA en stede soos Dublin, Londen en Manchester wat nou by die toerplan ingesluit word. Die toer skop op 24 Mei in Dubai af en word dan voortgesit in Amsterdam, Dublin en Manchester. Kunstenaars soos Liza Brönner, Ricus Nel, Brendan Peyper en Elandré is deel van die Europese toergroep.
Elandré, die man met die strelende diep stem wat liedjies soos “Asseblief” en “Woorde uit jou mond” in die volksmond geplaas het, is reeds opgewonde oor dié unieke Afrikaanse toer. Hy skryf: “Ek is bitterlik geëerd om gevra te word om Afrikaans in die verte te gaan verteenwoordig. Arno Nel het maar net ’n manier om ’n vertoning aanmekaar te sit en sekere kunstenaars bymekaar te voeg.”
Australië, Nieu-Seeland en Kanada kan ook weer hulle vere regskud, want Afrikaans is Lekker kom maak ook weer in 2025 ’n draai. Hou AfriForum Wêreldwyd se sosialemediaplatforms en webtuiste dop vir meer inligting.
Afrikaans ís lekker!
Die entoesiasme vir 2024 se Afrikaans is Lekker-konserte het ook op sosiale media weergalm. Vicky-Lodene du Toit het gedeel: “Dit was ’n wonderlike aand in Brisbane! My kind Karli het haar held, Brendan Peyper, ontmoet en nou is sy nog meer beïndruk met Afrikaans en Afrikaanse musiek. Ons is so dankbaar dat ons hierdie kulturele ervaring kan deel.” Charleen Craig het ná die Kurt Darren-optrede in Auckland geskryf: “Kurt het die gehoor op hulle voete gehad! Dit was ’n wonderlike aand, afgesluit met ’n oorwinning van die Bokke!”
AfriForum verwelkom internasionale lede
Het jy vriende en familie wat in die buiteland woon? Hulle kan AfriForum se projekte en aksies vanuit die buiteland ondersteun deur as internasionale lid van AfriForum aan te sluit. Saam is ons sterker! Besoek www.wêreldwyd.co.za vir meer inligting.