AfriForum se Groter Moot-strukture is sterk op pad om ’n dorpsraad in die kleine te word. Die tak, buurtwag en tuinspan (buurtspan) dien hul gemeenskap en lewer dienste wat die Tshwane-metroraad versuim om te doen.
Die Groter Moot-gebied strek van Voortrekkerweg tot teen die N1-snelweg en van die Magaliesberge tot by Meintjieskop. In 2019 het die buurtspan begin met ’n enkeling wat hier en daar iets doen. Vandag is dit ’n gedugte span raakvatters. Die span bestaan uit agt werkers waarvan ses permanent is. Hierdie manne sien jy elke dag in wind en weer op hul pos, iewers besig om die Moot reg te ruk. Dit is uiteraard vir hulle onmoontlik om altyd oral te wees en daarom word die dienste van vrywilligers ook tydens aksies en projekte gebruik. Met ’n spesifieke aksie sal tot 60 vrywilligers opdaag en help. Dit is federalisme in aksie waar mans, vroue én kinders die mag in hul eie hande neem om te verseker dat waar hulle bly dinge reg loop en hulle trots is op hul omgewing.
Volgens Andries Opperman, buurtbeampte, verdubbel hulle elke jaar in mense en toerusting. Die tak het nou ’n trekker, ’n bakkie, nege bossiekappers, kettingsae, een driewielgrassnyer, ’n Kudu- industriële grassnyer, ’n trekkergrassnyer en die vierwiel-Husqvarna wat ’n allemintige R230 000 gekos het. Maar die span kort nog ’n kersieplukker (wat sowat R120 000 kos) en ander toerusting as hulle straatligte wil herstel en bome moet afsaag en verwyder. Groter padrollers is nodig om die reuseslaggate te herstel en ’n laaigraaf om bourommel weg te ry. Hoewel daar ondernemings is wat reeds ruim bydra en help om die werkers se lone te betaal, is baie meer geld nodig om byvoorbeeld die toerusting te diens en brandstof aan te koop. Om nie eens te praat van die duisende rande wat nodig is om slaggate op te vul en verf aan te koop nie.
As stormwaterdreine nie skoongemaak word nie, veroorsaak ’n enkele swaar bui reën dat laagwaterbrûe oorstroom en dan moet hulp ingekry word om motors uit te stoot en selfs mense te red.
Volgens Opperman help goeie beplanning om die werkverdeling te vergemaklik. In die somer word op die skoonmaak van parke en spruite gefokus en om stormwaterpype oop te maak wat tydens reënbuie oorstromings veroorsaak. Spruite in die omgewing is ’n groot probleem omdat baie mense onwettig daar plak, strukture oprig, die gebied bemors en ook met onwettige aktiwiteite soos die plant van dagga en die verkoop van dwelms besig is. “As die gras nie gesny word nie, is dit ook die ideale plek waar inbrekers hul buit wegsteek ná huisbrake. Gesteelde goedere, waaronder ’n motorfiets, is al só teruggevind. As stormwaterdreine nie skoongemaak word nie, veroorsaak ’n enkele swaar bui reën dat laagwaterbrûe oorstroom en dan moet hulp ingekry word om motors uit te stoot en selfs mense te red,” verduidelik Opperman.
In die winter kry slaggate en padtekens aandag en bome word gesnoei.
Die tak gee prioriteit aan sake wat die gemeenskap by hulle én die stadsraad aanmeld. Dit is onmoontlik om met hul beperkte begroting by alles uit te kom wat eintlik die verantwoordelikheid en plig van die stadsraad is. Daar is wel kommunikasie tussen die tak en die raad, maar min versoeke realiseer en min foute wat aangemeld word kry aandag. Soms sal die raad selfs die tak kontak vir hulp.
Volgens Opperman het die tak ’n aktiewe buurtwag, maar ontvang hulle min ondersteuning van die metroraad. “Daarom fokus ons op wat onsself kan regkry. Die buurtwag meld alle onwettige praktyke aan soos die storting van rommel en boumateriaal, asook onwettige plakkery in spruitareas. Ons tree binne die raamwerk van die wet op. Uiteindelik hoop die tak en vrywilligers om soveel vordering te maak dat hulle die stadsraad kan dagvaar omdat hulle genoeg tyd gehad het om dienste te lewer en boonop belastingbetalers se geld mors.
Wat is alles vermag?
- Gras gesny en bebosde areas skoon geskoffel en onkruid gespuit
- Spruite skoongemaak en opgeruim
- Padtekens, -strepe en randstene geverf
- Parkies se speelapparaat herstel en geverf
- Slaggate opgevul
- Straatligte vervang
- Vullis en rommel opgetel en verwyder
- Bome gesnoei, afgesny, opgesaag en weggery
- Stormwaterdreine en -pype oopgemaak
- Patrollies gery
- Verdagtes en misdadigers opgespoor en vasgetrek
- Dwelmmisbruik hokgeslaan en daggaplante vernietig
- Nou saam met ander strukture in die gemeenskap gewerk om gebiede en strate te beveilig
Dít is hoekom ons dit doen: