Deur Marthinus Koekemoer
Dit is ’n tak wat heeljaar lank woeker aan verskeie volhoubare projekte om, deur hul fokus op veiligheid, ’n verskil in dié Suid-Kaapse dorp te maak. Dit is dan geen wonder nie dat AfriForum se George-tak aangewys is as die suidstreek se tak van die jaar.
“Toe ons as bestuur by die tak oorgeneem het, het ons eerstens begin om projekte aan te pak wat AfriForum-lede in die dorp sou ondersteun. Ons het egter gou besef dat nielede ook ’n groot behoefte aan ons hulp het,” vertel Eduan Naudé, takvoorsitter.
Naudé noem hoe daar ’n behoefte onder inwoners van landelike gebiede was om ’n plaaswag op die been te bring. ’n AfriForum-plaaswag is gestig en lede het opleiding ondergaan om hulle slaggereed vir hul pligte te maak. Alhoewel die dorpsgebiede reeds hul eie buurtwagte gehad het, het taklede by hierdie buurtwagte ingeskakel. Voorts het die nuwe bestuur bande met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gebou om saam misdaad te bekamp.
“In George lyk dit op die oppervlak of daar nie eintlik probleme is nie en baie inwoners is onbewus van misdaad omdat dit bloot nie in die media gedek word nie. Daar is egter ernstige misdaad wat agter die skerms plaasvind wat ons en ander rolspelers probeer bekamp,” sê Naudé.
Dit is juis ook hierdie minder sigbare probleme wat Naudé as een van die grootste struikelblokke in die tak se bedrywighede beskou.
“Daar is nie juis vullis wat hier in die strate lê of riool wat vrylik vloei nie, so mense dink alles gaan goed en dus sien hulle nie noodwendig die nut daarvan om betrokke te raak nie. AfriForum is egter baie besig op die dorp en daar is wel ’n groot gedeelte van die gemeenskap wat ingekoop het by ons projekte wat natuurlik die sleutel tot ons sukses is,” verduidelik hy.
Die George-tak neem jaarliks deel aan AfriForum se vullisterreinoudit, die blou-en-groendruppelprojek, die brandkraanoudit en die straatligprojek. Die tak het ook onlangs ’n vuurvegter aangekoop waarmee taklede sal kan help om brande te blus.
Wat veiligheid betref het die tak onder meer twee hommeltuie met vier opgeleide vlieëniers, een protospanlid, 14 opgeleide buurtwag- en operasionele spanleiers, asook vier traumavrywilligers. Voorts kry die tak gereeld spesialissprekers om gemeenskapslede verder touwys te maak oor belangrike veiligheidskwessies soos toneelhantering, noodhulp, regsaspekte en doeltreffende patrollering.
“Ons was uiters verras oor die toekenning, want ons het nie eens geweet daar is só iets nie. Ons voel geëerd en is baie dankbaar vir die toekenning, want dit wys ons doen iets reg,” sluit Naudé af.