Gemeenskapsfederalisme vorm die basis waarop AfriForum en die Solidariteit Beweging se federale toekomsplanne gebou is. Dit beteken dat dié planne nie in die eerste plek afhanklik is van die instemming van die ANC-regering om magte na gemeenskappe af te wentel nie, maar eerder gebou word rondom die vermoë van gemeenskappe om self deur die vestiging van gemeenskapsinstellings beheer oor hulle eie toekoms te kan neem. Federalisme veronderstel verskillende vlakke van besluitneming, terwyl gemeenskapsfederalisme spesifiek besluit-nemingsmag vir gemeenskappe toeëien deur ’n selfdoenbenadering.
Die ANC-regering, wat ideologies sterk tot die huidige mislukkende sentralistiese bedeling verbind is, sal natuurlik nie wil instem tot gemeen-skapsfederalisme nie, maar gelukkig hoef ons hulle nie te vra nie. Ons gemeenskappe kan vreedsaam dood eenvoudig begin om hulle eie gemeen-skapskrag te ontsluit deur op vele terreine deur gemeenskapsinstellings hulle toekoms in hulle eie hande te neem.
Namate die staat verder verswak, sal verdere geleenthede hulle voordoen vir gemeenskappe om self in te tree, soos wat reeds op vele terreine gebeur. Die voorblad van hierdie uitgawe van Forum Tydskrif illustreer goed dat gemeenskappe hulle rug op onwerkbare sentralisme kan keer en liewers die pad van gemeen-skapsfederalisme kan stap.
Ankergemeenskappe
Ankergemeenskappe vorm ’n kernbeen van AfriForum en die Solidariteit Beweging se sewebeenplan vir gemeenskapsfederalisme wat in ’n vorige uitgawe van die tydskrif bekendgestel is. Met ankergemeenskappe word bedoel gemeenskappe waar daar getalsgewys genoeg Afrikaners gekonsentreer is om die volhoubare bestaan van kulturele infrastruktuur soos skole, aftreeoorde, buurtwagte, teaters, tersiêre onderriginstellings ensovoorts te verseker. Om byvoorbeeld ’n sterk Afrikaanse skool te bou in ’n gemeenskap met bitter min Afrikaanse kinders, is ongelukkig onvolhoubaar, al sou ’n mens dit ook hoe graag in die lang termyn wou laat werk. Gemeenskappe met groot getalle Afrikaners word ankergemeenskappe genoem omdat hierdie streeksentra as anker kan dien waar Afrikaners wat nie in ankergemeenskappe woon nie, steeds toegang tot goeie streekskole vir hulle kinders en ander kulturele infrastruktuur sal kan verseker.
Gemeenskapsforums
AfriForum en die ander instellings van die Solidariteit Beweging het reeds suksesvol begin bou aan talle gemeenskapsinstellings. Dit is net so belangrik dat die inherente energie en krag van gemeenskappe wat wyer as AfriForum strek, ten volle ontsluit moet word. Om hierdie rede is AfriForum tans betrokke by ’n loodsprojek om ’n gemeenskapsforum in Centurion-Wes tot stand te bring waarop ’n wye verskeidenheid gemeenskapsinstellings – wat skole en kerke insluit – kan dien. Dié gemeenskapsforum is ’n neutrale platform waar gemeenskaps-instellings saam kan beplan en hulle aktiwiteite kan optimaliseer deur saam te werk sonder om hulle onafhanklikheid te verloor. Die idee is nie dat ’n gemeenskapsforum sy eie uitvoerende vermoë ontwikkel nie, maar dat dit eerder deur koördinering moet meewerk om bestaande instellings in die gemeenskap se werksaamhede te versterk. Daar is 16 terreine, waaronder veiligheid, maatskaplik, gemeenskapsekonomie en kragvoorsiening, geïdentifiseer. Vir elke terrein is daar voorgestelde planne oor hoe gemeenskapsinstellings mekaar en hulle gemeenskap kan versterk. Sodra die loodsprojek in Centurion-Wes verfyn is tot ’n werkbare bloudruk, sal ’n proses begin word om gemeenskapsforums ook in ander ankergemeenskappe te vestig.
AfriForum-takke en -buurtwagte
AfriForum se meer as 160 takke en 165 buurtwagte landwyd wys reeds hoe gemeenskapskrag ontsluit kan word deur goed georganiseerde gemeenskapsinstellings. Leemtes wat deur die mislukkende staat geskep word, word op kreatiewe wyses deur die gemeenskap gevul.
AfriForum se opleidingsprogramme en logistieke ondersteuning, tesame met inherente krag en harde werk van gemeenskappe, bring mee dat dié organisasie se buurtwagte ’n toonbeeld van gemeenskapsfederalisme is.
Gemeenskappe neem binne die raamwerk van die wet verantwoor-delikheid vir hulle eie veiligheid deur buurtwagte te vestig. AfriForum se opleidingsprogramme en logistieke ondersteuning, tesame met inherente krag en harde werk van gemeenskappe, bring mee dat dié organisasie se buurtwagte ’n toonbeeld van gemeenskapsfederalisme is. Gemeenskappe neem suksesvol beheer van hulle eie veiligheid. Op dieselfde wyse is daar landwyd gemeenskappe wat deur hulle AfriForum-takke paaie herstel, gras sny, skoonmaakaksies loods en op vele ander wyses hulle gemeenskappe ’n beter plek maak om te bly.
Pionier Dienstemaatskappy
AfriForum het reeds begin voorberei om dienste te kan lewer wat vandag nog deur die staat beheer word, maar in die toekoms noodgedwonge weens staatsverval deur privaat instellings gelewer sal moet word, soos wat tans besig is om met elektrisiteitsvoorsiening te gebeur. Vir hierdie doel het AfriForum ’n maatskappy sonder winsoogmerk genaamd Pionier Dienstemaatskappy tot stand gebring. In samewerking met van AfriForum se takke is Pionier reeds besig om op beperkte skaal vullisverwydering en herwinning te hanteer. Pionier het ook vyf maande lank die Koster-waterwerke bestuur toe die hof aan die gemeenskap die reg gegee het om dit vir ’n beperkte tyd te bestuur. Onder die gemeenskap en Pionier se betrokkenheid het watertoevoer in Koster glad verloop in die tyd toe hulle die netwerk bestuur het.
Solidariteit Beweging
Die ander instellings van die Solidariteit Beweging het ook reeds groot vordering op die pad na gemeenskapsfederalisme gemaak. Daar is ’n hele rits voorbeelde hiervan.
Die tersiêre onderriginstellings Sol-Tech en Akademia, wat deur Solidariteit tot stand gebring is, se studentegetalle groei jaarliks sterk en duisende studente het al die vrugte van hierdie instellings begin pluk. Sol-Tech se nuwe kampus, personeel en leerplanne stel ’n nuwe standaard vir wêreldklasambagsopleiding in Afrikaans. Akademia se drie tussentydse kampusse floreer in die aanloop tot die bou van ’n nuwe hoofkampus oor die volgende vyf jaar.
Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) werk ook tans hard aan die ontwikkeling van ’n bekostigbare privaatskoolmodel, terwyl daar net so hard binne die Beweging gewerk word om bestaande Afrikaanse openbare skole te help beskerm teen die aanslag op onderrig in Afrikaans. Terwyl owerhede en selfs groot maatskappye by die toekenning van studiehulp diskrimineer teen jongmense vanuit minderheidsgemeenskappe, het Solidariteit Helpende Hand reeds ’n goed funksionerende studiehulpsentrum wat jaarliks meer as R50 miljoen se studiehulp aan studente toeken.
Op mediagebied het die Solidariteit Beweging Maroela Media tot stand gebring, wat tans die mees gelese Afrikaanse mediaplatform in die wêreld is. Ook AfriForumTV se kykergetalle groei fluks. Albei hierdie instellings is gemeenskapsgerig en word gratis aan die publiek beskikbaar gestel. Op erfenisterrein is daar talle voorbeelde landwyd waar gemeenskappe self verantwoordelikheid neem. Die grootste projek in hierdie verband is waar die FAK, AfriForum, Helpende Hand, Solidariteit en ’n aantal ander kultuurorganisasies self verantwoordelikheid neem om die Voortrekkermonument te bestuur. Die feit dat geen staatsubsidie ontvang word nie is ’n bedekte seën, aangesien dit aan Afrikaners volle beheer oor hulle erfenis gee en wys dat gemeenskapsfederalisme kan werk. Ook AfriForum Teater is ’n voorbeeld van gemeenskapsfederalisme, waar ons die toekoms van ons kunste in ons eie hande neem.
AfriForum energie
’n Nuwe terrein wat AfriForum betree het is om werkbare planne te ontwikkel sodat gemeenskappe self beheer oor hulle elektrisiteitsvoorsiening kan neem. Daar is reeds werk gedoen om ’n riglyndokument vir sonkrag by huise bekend te stel. Regsaksies word tans beplan om dit makliker te maak vir privaat elektrisiteitsverskaffers om deel van die oplossing te word, terwyl ’n bloudruk opgestel word aan die hand van die model wat tans in Frankfort in die Vrystaat toegepas word, waar die munisipaliteit die bestuur van die elektrisiteitsnetwerk uitgekontrakteer het. Hierdie model bied aan gemeenskappe geleenthede om letterlik en figuurlik gesproke gemeenskapskrag te ontsluit.
Kom ons bou almal saam aan gemeenskapsfederalisme, want dit het reeds begin en kan nou verder versnel om self die hede en toekoms te bou wat ons vir ons gemeenskappe en ons nageslag wil hê.