Deur Carina Bester
396 625 ton – dít is hoeveel teer AfriForum se takke in die eerste sewe maande van 2024 gebruik het om die paaie in hul onderskeie dorpe te verbeter.
Alhoewel AfriForum se takke regdeur die jaar slaggate vul, het hulle gedurende Julie ekstra hard gewerk om paaie in stand te hou tydens die organisasie se nasionale #VulDieGat-projek. Met hierdie projek poog die takke om soveel as moontlik slaggate op te vul. Teen Julie vanjaar het AfriForum bykans R1,5 miljoen aan die vul en herstel van slaggate bestee.
AfriForum-takke in die sentraalstreek het 330 ton teer, oftewel 13 200 sakke, ter waarde van R1,2 miljoen gebruik om padveiligheid te verseker. In die noordstreek is R230 850 bestee aan 64,13 ton teer (2 565 sakke), terwyl die takke in die suidstreek 2,5 ton teer (100 sakke) ter waarde van R12 600 gebruik het.
Die takke het teen druktyd vir Augustus en September nóg R419 000 aan 79 ton teer bestee om paaie op te knap.
Volgens Corné Cronjé, bestuurder vir Gemeenskapstrukture by AfriForum, is dit vir die organisasie belangrik dat gemeenskappe begaanbare paaie het. “Ons weet dat heelwat munisipaliteite nie hul dorpe se paaie in stand hou nie en daarom pak ons hierdie projek jaarliks aan. As ons nie self moue oprol om ’n verskil te maak nie, gaan die probleme net vergroot.”
Heelparty van die organisasie se buurtspanne het ook opleiding gekry om slaggate te vul en te herstel omdat dit vir AfriForum belangrik is dat slaggate op die korrekte manier herstel word.
In baie dorpe is die opvul en herstel van slaggate ’n gemeenskapsprojek. Al het heelwat takke hul eie toerusting aangekoop om slaggate te herstel, laat ondernemings wat toerusting uitverhuur die takke dikwels toe om hul toerusting gratis te gebruik.
Een van die takke wat veral bekend is vir hul teerprojek is AfriForum se Lichtenburg-tak. In hierdie dorp werk die hele gemeenskap saam met sakeondernemings om die paaie te verbeter. Dié tak het in Julie 29 ton teer ter waarde van R100 000 gebruik om dié dorp se paaie te verbeter. Dit is die meeste teer wat ’n AfriForum-tak vanjaar tydens die #VulDieGat-projek gebruik het. Hulle het die afgelope drie jaar nagenoeg 445 ton teer gebruik om slaggate op te vul en paaie te herstel. (Lees hier meer oor Lichtenburg se teerprojek)
“Ons wou met hierdie projek ’n onmiddellike impak op dorpe se padinfrastruktuur maak. Beter paaie veroorsaak dat minder ongelukke op paaie plaasvind en verseker dat nooddienste vinniger by noodsituasies kan aankom,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, waaronder Lichtenburg val.