Deur Ilze Nieuwoudt │Foto’s: Ilze Nieuwoudt en Reint Dykema
Dekfoto: Die Kruger-standbeeld op Kerkplein in Pretoria, asook verskeie ander Afrikaner-monumente is in die visier van die EFF.
Aanvalle op sowel die Afrikaner se geskiedenis as beelde en monumente wat vir Afrikaners van belang is, het in 2025 weer opgevlam. In September het die EFF in die parlement ’n beroep op die vernietiging van Afrikaner-standbeelde en -gedenktekens gedoen, terwyl Mpumalanga se provinsiale wetgewer ’n mosie om die naam van die Nasionale Krugerwildtuin te laat verander, deurgedruk het.
Monumente in die visier
Nontando Nolutshungu, EFF-hoofsweep, het in die parlement in ’n mosie namens Julius Malema, die partyleier, aangevoer dat ’n parlementêre ad hoc-komitee op die been gebring moet word om die kwessie van “koloniale geheue en sy giftige simbole” te ondersoek. Hiermee is die visier pertinent gerig op veral standbeelde en gedenktekens in openbare ruimtes wat uit die jare voor 1994 dateer.
Die verwydering van genl. Louis Botha se standbeeld voor die parlement in Kaapstad, die Paul Kruger-standbeeld op Kerkplein in Pretoria en die Jan van Riebeeck-standbeeld in Kaapstad was onder dié beelde wat volgens die EFF vernietig behoort te word. Ook die Voortrekkermonument het onder skoot gekom van Nolutshungu. Die monument toring volgens haar uit oor die land se hoofstad as ’n “huldeblyk aan wit oppergesag” wat gebou is om “die sogenaamde beskawingsmissie van die Voortrekkers te verheerlik, terwyl hulle in werklikheid gewapende indringers was wat grond van Afrika-koninkryke gebuit het”.

Skaars ’n week later is van die burgerbeelde in die Kruger-beeldegroep op Kerkplein in Pretoria wéér ernstig geskend deur vandale. Dié aanval is die soveelste op die Kruger-beeldegroep die afgelope paar jaar. In 2024 is vier van die burgerbeelde ook beskadig. In 2023 is ’n bronsfries op die voetstuk van die beeldegroep afgesteel en verskeie kere in die verlede is die beeldegroep met rooi spuitverf getakel.
Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, benadruk dat die bewaring van standbeelde en monumente deur organisasies soos AfriForum ’n noodsaaklike, maar ook uiters ingewikkelde taak is aangesien dit deur uiteenlopende groepe soos politieke opportuniste, vandale en diewe geteiken word.
Krugerwildtuin se naam kom onder skoot
’n Verdere aanval op die nalatenskap van Kruger het ook in September in Mpumalanga gewoed. AfriForum het egter kort ná die EFF se aankondiging dat die naamsverandering van die Nasionale Krugerwildtuin goedgekeur is, aangekondig dat die provinsie se aanvaarding van die voorstel om die naam te verander, geen water hou nie.
Volgens Marais de Vaal, raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum, is die Krugerwildtuin ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede as sodanig geproklameer en word die park op nasionale vlak deur Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (Sanparke) bestuur. “Die provinsiale wetgewer het geen gesag om die naam van die wildtuin te verander nie. Die provinsie kan hoogstens ’n voorstel by die Provinsiale Geografiese Namekomitee indien, waarna ’n omvattende openbaredeelnameproses gevolg moet word voordat dit aan die Nasionale Geografiese Namekomitee voorgelê kan word vir oorweging. Enige naamsveranderinge sal onderhewig wees aan die volg van die voorgeskrewe proses, waaronder openbare deelname, voordat die minister van Sport, Kuns en Kultuur ’n finale besluit neem.”
AfriForum het ook die EFF se stelling dat Kruger, destydse president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en die man na wie die park vernoem is, die “argitek van apartheid” is, gekritiseer.
“Die EFF se onkunde oor die Krugerwildtuin se ontstaansgeskiedenis en hul moedswillige verdraaiing van feite is duidelik. Die Krugerwildtuin het juis tot stand gekom danksy Kruger se toekomsvisie en hy was geensins betrokke by die instelling van apartheid wat eers meer as vier dekades ná sy dood in 1904 gestalte gevind het nie. Om Kruger se bydrae tot die vestiging van die land se belangrikste nasionale park te misken en om hom op dié wyse te brandmerk is opportunisties en blatante verspreiding van leuens,” sê De Vaal. “Die poging om die park se naam te verander sluit aan by die EFF se veldtog om ook Afrikaner-standbeelde te verwyder. Die verwydering van ’n deel van die gemeenskap se simbole, standbeelde en erfenis is ’n onbeskaamde poging om dié groep se identiteit en reg om te bestaan, weg te stroop.”
Bou eerder as breek
Bailey hou vol dat die bewaring en behoud van monumente en standbeelde van kritieke belang is en dat besluitnemers van hierdie stoflike erfenis moet onthou dat hulle slegs die bewaarders daarvan is en in diens van die volgende generasie staan. “AfriForum is, in die gees van wedersydse erkenning en respek, sterk gekant teen die skending, verwydering of vernietiging van enige standbeelde en monumente. In plaas van die verwydering of verskuiwing van monumente soos wat dikwels voor aan beide kante van die politieke spektrum bepleit word, behoort die landskap eerder aangevul te word met meer monumente en standbeelde om die geskiedenis van alle rolspelers in Suid-Afrika na behore te herdenk,” verduidelik sy.
Monumente: Skuif of staan?
Die debat rakende die verskuiwing van standbeelde en monumente van belang vir die Afrikanergemeenskap ontlok hewige reaksie en selfs verdeling. Is die Kruger-standbeeld wat ná teëspoed en ’n getrek uiteindelik op 10 Oktober 1954 op Kerkplein onthul is (nadat dit 29 jaar lank voor die Pretoriase spoorwegstasie gestaan het), kuns of onthou? Die antwoord op dié vraag bied, volgens Bailey, die antwoord oor of Kruger moet skuif of staan.
“Daar is twee soorte beelde in die openbaar. Daar is kunsbeelde soos dié van ’n mooi, ongespesifiseerde vrou by ’n fontein of Michelangelo se bekende Dawid-beeld, en dan is daar beelde van mense soos Kruger, M.T. Steyn of Van Riebeeck wat op ’n bepaalde plek staan as ’n historiese baken en herinnering aan iets uit die verlede.
“Laasgenoemde beelde is natuurlik ook kuns, maar is nie gemaak om te verfraai nie, maar om te herinner. Die oomblik wat hierdie beelde uit konteks gehaal word, gaan die herinnering verlore. Verskuiwing dra dan bedoeld of onbedoeld die boodskap oor dat daardie bydrae wat oorspronklik gedenk was, negeer kan word,” verduidelik Bailey.