Dekfoto: Ivan Louw van die Hoërskool Waterkloof in aksie tydens die finaal van 2025 se Dink of Sink.
In ’n epiese stryd wat herinner aan die rateltaai mededinging tussen provinsiale spanne in ’n Curriebekereindstryd, het hoërskole van oor die hele land mekaar op 27 September in 2025 se finaal van die AfriForum Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie gepak. Sowel junior as senior spanne het meegeding, met mening gedebatteer en met skerp argumente vir ’n skouspel gesorg.
In 2025, die jaar waarin Afrikaans se eerste eeu as amptelike taal gevier is, het dié debatskompetisie gewys dat Afrikaans in die hande van dié jongmense ’n kragtige en blink toekoms het. Ilze Nieuwoudt het die finaal wat by Akademia se Leriba-kampus in Centurion aangebied is, bygewoon en by die wenspanne aangeklop om meer uit te vind oor die mooi, die taai en die lekker van ’n soete (debats)oorwinning.
Só moet ’n mond praat!

Meer as 250 spanne – dit wil sê meer as 750 leerders – van Mpumalanga, Gauteng, Limpopo, die Vrystaat en die Wes- en Oos-Kaap het 2025 se Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie aangepak. Na afloop van die streeksuitdunne het 12 spanne na die finaal deurgedring.
In die junior kategorie (vir graad 8- en 9-leerders) het Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Framesby, Hoërskool Nelspruit, Merensky Landbou Akademie, Paul Roos Gimnasium en C&N Sekondêre Meisieskool Oranje mekaar die stryd aangesê in die finaal. Die ietwat meer gesoute senior spanne (met graad 10-, 11- en 12-leerders) in die 2025-finaal het al die pad van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP), Hoërskool Pearson, Hoërskool Nelspruit, Merensky Landbou Akademie, Hoërskool Durbanville en Hoërskool Sentraal byeengekom om dinge “uit te praat”. En ís daar nie gepraat nie!
Volgens Nicolene Müller, organiseerder van die kompetisie en AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys in die suidstreek, was die standaard van 2025 se kompetisie uitsonderlik hoog. “Die Covid 19-pandemie het in 2020 baie skade aangerig en ons het ’n afname in die gehalte van debatte gesien. Toe ons in 2021 en 2022 weer met debatte kon begin, was ons baie bekommerd, want die kinders het regtig gesukkel,” verduidelik sy.
Dié spreekwoordelike “maer jare” is egter nou vergete, vertel sy opgewonde. ’n Goeie dosis algemene kennis, veral oor aktuele sake, is onontbeerlik vir sukses in hierdie kompetisie waar leerders sonder enige hulpmiddels soos voorbereide notas of gebruik van die internet, sterk argumente moet kan formuleer, oordra en verdedig. “In 2024 en 2025 het ons gesien dat die gehalte weer die hoogte ingeskiet het. Ons kan sien dat ons leerders weer lees en dit is vir ons ongelooflik belangrik.”
Oor die gehalte van vanjaar se debatte is Müller duidelik: “Die leerders het hul take met groot vaardigheid aangepak en beïndruk met goed gestruktureerde, deeglik voorbereide argumente en kragtige teenargumente. Hulle het selfvertroue uitgestraal deur oortuigende lyftaal, duidelike stemgebruik en ’n opregte entoesiasme vir hul standpunte. Hierdie optrede het hul vermoë om krities te dink en doeltreffend te debatteer duidelik na vore gebring.”
Waterkloof klop Paul Roos Gimnasium in woordestryd
In ’n vuurwarm debat oor die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) op skool, het die junior debatspanne van die Hoërskool Waterkloof en Paul Roos Gimnasium in die finaal teen mekaar te staan gekom. Beide spanne het behoorlik grondige feite rondgegooi en mekaar met vernuf en selfs ’n tikkie humor probeer uitoorlê.
Waterkloof se Elzerie Vermaak, Ilanie Grobler en Ivan Louw het egter die oorhand gekry oor Paul Roos se Retief Ferreira, Lian Winckler en Paul du Plessis. Die oorwinning was soet, maar nie maklik nie, bieg die Klofies wat met 2025 se titel as junior wenspan weggestap het.
Vir Vermaak is die uitdagendste om ’n konstruktiewe argument te formuleer binne die skamele vyf minute wat spanne kry vanaf die ontvangs van hul debatstema tot die afskop van debatvoering. Grobler meen op haar beurt kan wankommunikasie in die span soms lol, veral as jou spanmaat per ongeluk voor jou dieselfde argumente in sy of haar sessie voorhou. Ten spyte van dié uitdagings het dié vurige debatteerders egter koelkop gebly.
En sal dié span wat in die 2025-kompetisie bewys het hoe vinnig hulle op hul voete kan dink Dink of Sink aan ander jongmense aanbeveel? Sonder twyfel! “Dit is ’n merkwaardige geleentheid waardeur jy kan leer om jou idees met ander te deel of ander te oortuig van hoe jy oor ’n sekere situasie voel,” verduidelik Louw, die enigste haan onder die henne in die Waterkloof-span.
Durbanville kraai koning in gedugte noord-suid-kragmeting
Noem maar die kragmeting en ’n stryd tussen die noorde en die suide van die land beloof om die kwik te laat klim. Die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie se finaal vir senior spanne was geen uitsondering nie en het gesorg vir ’n klassiek uitdagende wedywering tussen die land se twee topspanne van Kaapstad en Pretoria.
In dié rondte het spanne hul kennis van die Suid-Afrikaanse ekonomie en omgewingsbewaring ingespan om te debatteer oor watter saak van groter belang is – groei in die ekonomie of omgewingsbewaring. Die Hoërskool Durbanville se Melandi Nabal, Islah Vorster en Tiaan Bierman het met hul standpunte ten gunste van omgewingsbewaring bo ekonomiese groei vir dié span van die suide ’n kragtige wen ingepalm. AHMP se Mikayla de Jongh, Dané van Graan en Anja Botha was geensins maklike teenstanders nie, maar moes op die dag met ’n tweede plek tevrede wees.

Na afloop van die dag se vier debatte was Durbanville se gô behoorlik uit, maar die vreugde en adrenalien het nog sigbaar deur die are geklop. Bierman, ’n matrikulant wat met voorlopige keuring in die sakkie hoop om in 2026 sy studies in medies aan die Universiteit van Pretoria (UP) af te skop, hou vol dat dié onvoorbereide vorm van debatvoering lekker uitputtend is, maar dat die basiese beginsels van debatvoering steeds ingespan moet word om sukses te verseker.
Die oorwinning was boonop soeter as soet vir veral Nabal en Vorster wat reeds vyf jaar lank aan Dink of Sink deelgeneem het, maar nou – in hul finale hoërskooljaar – uiteindelik daarin kon slaag om die wentitel op te raap.
Teen die tyd wat Durbanville se span met die span van AHMP afgereken het, was al drie lede in die laaste pylvak van hul skoolloopbaan. Terwyl Nabal en Vorster gereedmaak om hul studies in 2026 aan die Universiteit Stellenbosch (US) aan te pak, is hulle én Bierman oortuig dat die vaardighede wat hulle deur Dink of Sink opgedoen het, nou en in die toekoms vrugte sal afwerp.
“Jy leer definitief hoe om jouself uit te druk. Nie net op ’n respekvolle wyse nie, maar ook op ’n intellektuele wyse, terwyl dit jou aanmoedig om die heeltyd te leer. Dit behels konstante navorsing en jy moet op datum bly van huidige gebeure,” verduidelik Nabal.
Die wêreld beweeg teen ’n woeste tempo, sluit Bierman amper filosofies af, maar benadruk dat Dink of Sink hom geleer het om “soms splitsekondebesluite te neem, al weet jy nie noodwendig of jy reg is nie”.
Vir 2025 se Dink of Sink-finaal was dié span flinke praters se argumente egter skeepsreg.

Dink of Sink vier in 2026 ’n dekade van debatte
In 2026 vier die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie ’n volle dekade van debatvoering. Nicolene Müller, organiseerder van die kompetisie en projekkoördineerder vir Onderwys by AfriForum, verklap dat die beplanning hiervoor reeds afgeskop het en dat dié feesjaar selfs méér opwinding gaan inhou. Daar word onder meer beplan om vorige jare se wenners te betrek om mekaar en die jonger generasie die stryd aan te sê.
Besoek www.dinkofsink.co.za vir meer inligting oor die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie.